PSALMS 149:1-9

PSALMS 149:1-9 NLV

Loof die HERE! Sing vir die HERE ’n nuwe lied. Sing sy lof in die vergadering van sy getroue dienaars. Laat Israel hom verheug in sy Skepper, laat die inwoners van Sion jubel oor hulle Koning. Laat hulle sy Naam met koordanse loof, begelei deur tamboeryn en harp vir Hom lofliedere sing. Want die HERE verbly Hom in sy volk; met sy redding hef Hy die hulpeloses op. Sy troue dienaars juig oor hierdie eer; hulle jubel op hulle beddens. Mag hulle God loof met hulle lippe, met ’n tweesnydende swaard in hulle hande om wraak uit te oefen op die nasies en straf oor die volke, om hulle konings vas te maak met boeie en hulle leiers met ysterkettings, om die oordeel te voltrek wat reeds vasgestel is. Dit is die roem van sy troue dienaars. Prys die HERE!