PSALMS 149:1-9
PSALMS 149:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet die Here prys! Julle moet vir die Here 'n nuwe lied sing, julle moet Hom prys waar die mense bymekaar is wat in Hom glo. Die mense van Israel moet wys dat hulle bly is omdat die Here hulle gemaak het. Die mense van Sion moet juig omdat die Here hulle Koning is. Hulle moet dans en sy Naam prys, hulle moet vir Hom musiek maak met die tamboeryn en die lier. Want die Here is lief vir sy volk, Hy laat die mense wen wat hulleself nie kan help nie, Hy sit 'n kransie op hulle kop. Die mense wat in die Here glo, moet juig omdat hulle gewen het, hulle moet sing, ook wanneer hulle op hulle beddens lê. Hulle moet aanhou om God te prys, maar hulle moet skerp swaarde in hulle hande hê sodat hulle die volke kan straf, sodat hulle met die volke kan doen wat die volke met húlle gedoen het. Hulle moet die konings vasmaak met kettings, hulle moet die belangrike mense van die volke vasmaak met yster-boeie. Hulle moet met die konings doen wat die Regter besluit het en geskryf het. Die volke sal die mense respekteer wat in die Here glo.
PSALMS 149:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HALLELUJA! Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote! Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning! Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter. Want die HERE het 'n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil. Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde. Lofverheffinge van God is in hulle keel, en 'n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om 'n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. 'n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!
PSALMS 149:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Prys die Here! Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars. Laat Israel hom verheug in sy Maker, laat die volk van Sion jubel oor die Here hulle koning. Laat hulle sy Naam prys met koordanse, laat hulle speel tot sy eer op tamboeryn en lier. Die Here is goed vir sy volk, Hy kroon die hulpeloses met oorwinning. Sy troue dienaars juig oor sy mag, jubel selfs as hulle op hulle beddens gaan lê. Die roem van God klink uit hulle mond, en in hulle hand is die swaard, alkante geslyp, waarmee hulle die nasies sal verslaan en die volke sal straf. Hulle sal die konings van daardie nasies met kettings vasbind, hulle aansienlikes met ysterboeie, en die vonnis aan hulle voltrek soos dit vasgestel is. Dit sal die triomf wees van al die troue dienaars van God.
PSALMS 149:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Halleluja! Sing vir die HERE 'n nuwe lied – sy lof in die byeenkoms van getroue volgelinge! Laat Israel hom verheug in sy Maker, laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning. Laat hulle sy Naam loof met koordans, met begeleiding van tamboeryne en liere Hom besing. Want die HERE is sy volk goedgesind; Hy vereer verdruktes met oorwinning. Laat getroue volgelinge juig in eerbetoon; laat hulle jubel op hulle beddens – met verheerliking van God uit hulle kele, en tweesnydende swaarde in hulle hande, om vergelding te voltrek onder die nasies, straf onder die volke, om hulle konings in kettings te slaan en hulle geëerdes in ysterboeie, om die vonnis wat opgeteken is, oor hulle te voltrek. Dit sal luister verleen aan al sy getroue volgelinge.
PSALMS 149:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Prys die HERE. Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied en sy lof in die vergadering van die heiliges. Laat Israel bly wees oor Hom wat hom gemaak het; laat die kinders van Sion jubel oor hulle Koning. Laat hulle sy Naam loof in die dans, laat hulle tot eer van Hom sing met tamboeryn en siter. Want die HERE het 'n welbehae in sy volk; Hy sal die sagmoediges met verlossing versier. Laat die heiliges juig in heerlikheid; laat hulle sing op hul beddens. Laat die lof van God in hulle mond wees en 'n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen op die heidene en straf op die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om aan hulle die oordeel te voltrek wat geskrywe is: hierdie eer het al sy heiliges. Prys die HERE.
PSALMS 149:1-9 Die Boodskap (DB)
Kom prys die Here. Bring eer aan die Here in die byeenkoms van die gemeente. Sing vir Hom ’n lied wat jy spesiaal net vir Hom gemaak het. Sing saam met al sy kinders liedere om vir Hom dankie te sê. Al God se kinders moet bly wees oor Hom, want Hy het hulle gemaak. Gelowiges moet juig oor Hom, want Hy regeer oor hulle lewe. Hulle moet sy Naam prys deur te sing en te dans. Saam met pragtige musiek moet hulle Hom uit volle bors loof. Die Here se kinders gee Hom groot plesier. Mense sonder status of belangrikheid behandel Hy soos konings wanneer Hy hulle help. Almal wat die Here getrou dien, moet opgewonde juig. Hulle moet met blydskap sing, selfs as hulle alleen is. God se kinders sê vir die Here dankie. As mense die Here nie dien nie, sal hulle met sy kinders te doen kry. Hulle is reg om mense te straf wat God nie eer nie. Sy kinders sal die goddelose leiers in die tronk stop, omdat hulle hulle nie aan God steur nie. Hulle dink hulle is te belangrik daarvoor. Almal wat die Here dien, wil graag ontslae raak van mense wat nie na die Here luister nie. En hulle sal dit regkry. Kom prys die Here!
PSALMS 149:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Loof die HERE! Sing vir die HERE ’n nuwe lied. Sing sy lof in die vergadering van sy getroue dienaars. Laat Israel hom verheug in sy Skepper, laat die inwoners van Sion jubel oor hulle Koning. Laat hulle sy Naam met koordanse loof, begelei deur tamboeryn en harp vir Hom lofliedere sing. Want die HERE verbly Hom in sy volk; met sy redding hef Hy die hulpeloses op. Sy troue dienaars juig oor hierdie eer; hulle jubel op hulle beddens. Mag hulle God loof met hulle lippe, met ’n tweesnydende swaard in hulle hande om wraak uit te oefen op die nasies en straf oor die volke, om hulle konings vas te maak met boeie en hulle leiers met ysterkettings, om die oordeel te voltrek wat reeds vasgestel is. Dit is die roem van sy troue dienaars. Prys die HERE!