PSALMS 10:1-15

PSALMS 10:1-15 NLV

HERE, waarom staan U so ver weg? Hoekom verberg U Uself in tye van nood? Bose mense vol verwaandheid vervolg die ellendiges. Laat hulle gevang word in die planne wat hulle vir ander bedink. Want die goddelose spog met sy bose begeertes; hy seën die inhaliges en vervloek die HERE. Hierdie bose mens is te trots om God te soek. In al sy beplannings is daar geen plek vir God nie. Hy is suksesvol in alles wat hy doen. U oordele is vir hom buite sig. Minagtend lag hy oor al sy vyande. Hy sê vir homself: “Geen onheil sal my ooit tref nie! Geslag na geslag sal ek vry wees van rampe!” Sy mond is vol vervloeking, leuens en geweld, onheil en boosheid is op sy tong. Hy lê in ’n hinderlaag by die dorpe om mense in die geheim te vermoor, hy bly op die uitkyk na onskuldige slagoffers. Hy lê doodstil in ’n hinderlaag soos ’n leeu in sy lêplek, hy wag in die hinderlaag om hulpeloses aan te val. Hy vang die ellendiges en trek hulle met sy net. Die hulpelose is oorrompel en stort ineen; hy val onder die aanslag van die kwaadwilliges. Hy wat kwaad doen, sê vir homself: “God het vergeet, Hy kyk tog nie en sal dit nooit raaksien nie!” Staan op, HERE! Tree op teen die goddeloses, o God! Moenie die hulpeloses vergeet nie! Hoekom verag die goddelose vir God en sê by homself: “Hy sal tog nie rekenskap eis nie”? Maar U sien die moeilikheid en leed wat hulle veroorsaak, ja, U, U sien dit raak en tree teen hulle op. Die hulpeloses vertrou op U, die beskermer van die weeskind. Breek die greep van die goddelose, dié wat kwaad bewerk! Roep hom tot verantwoording oor sy bose dade totdat U hom nie meer vind nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 10:1-15