PSALMS 10:1-15

PSALMS 10:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? Die goddeloses is vol van hulleself, hulle vervolg 'n hulpelose man. Laat hulle gevang word deur die sluwe planne wat hulle self uitgedink het. Die goddelose verlustig hom nou al in wat hy hoop om in die hande te kry. Die een wat hom wil verryk ten koste van 'n ander, wens homself by voorbaat geluk. Hy verag die Here. Neus in die lug sê hy: “God vra tog geen rekenskap nie!” In al sy planne is daar geen plek vir God nie. Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak. U oordele is vir hom te ver weg, buite sy gesigsveld. Hy snork met veragting oor al sy vyande. Hy dink: ek sal nie wankel nie en die ongeluk sal my nooit tref nie. Hy lê 'n vloek op almal, hy onderdruk en bedrieg, hy bedink onheil en onreg. Hy lê onskuldiges voor agter die heinings en vermoor hulle in die geheim. Hy loer rond in die donker. Hy lê op die loer in 'n wegkruipplek soos 'n leeu agter 'n bos, hy lê op die loer om die hulpelose te vang. Hy vang hom en trek hom vas in sy net, hy slaan hom dat hy inmekaar sak. So kry hy die arme mens in die hande. Hy sê vir homself: “God steur Hom nie daaraan nie, Hy kyk weg, Hy sal dit nooit raaksien nie.” Kom tog, Here! Toon u mag, o God! Moet die hulpeloses tog nie vergeet nie. Hoe durf die goddeloses God verag en reken Hy sal hulle nie uitvind nie? En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar 'n einde aan. Op U verlaat die ongelukkige hom, ook vir die weeskind is U 'n helper. Verbreek tog die magsgreep van die goddelose en van die misdadiger, straf sy misdade! Moenie een enkele van sy misdade verskoon nie.

PSALMS 10:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Waarom, HERE, bly U so ver staan, waarom verberg U Uself in tye van nood? In hulle hoogmoed agtervolg goddeloses die magtelose. Mag hulle verstrik raak in die sameswerings wat hulle beplan! Ja, 'n goddelose spog oor sy hartsbegeertes, en terwyl hy wins maak, vervloek en verag hy die HERE. Die goddelose sê met sy neus in die lug: “God vra nie rekenskap nie; daar is geen God nie” – dit is al sy gedagtes. Sy paaie is altyd voorspoedig. U beslissings is ver buite sy gesigsveld. Hy minag al sy teenstanders. Hy sê in sy hart: “Ek sal nie struikel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie teenspoed sal ervaar nie.” Sy mond is vol vervloeking, bedrog en verdrukking; onder sy tong is gemeenheid en onreg. Naby dorpies lê hy in 'n hinderlaag; in skuilplekke vermoor hy die onskuldige; sy oë is op die loer vir die weerlose. In 'n skuilplek lê hy soos 'n leeu in die ruigte; hy lê die magtelose voor om hom te vang; hy vang die magtelose deur sy vangnet toe te trek. Verpletter krimp die weerlose ineen; hy val in sy mag. Die goddelose sê in sy hart: “God vergeet. Hy hou sy oë toe; Hy sien dit nooit raak nie.” Staan op, HERE; God, lig u hand; vergeet die magteloses tog nie! Waarom verag 'n goddelose mens God? Hy sê in sy hart U eis nie rekenskap nie. U sien tog self die moeite en verdriet, U sien dit raak. Deur dit in u hand te gee, laat weerloses dit aan U oor; vir weeskinders is U 'n helper. Breek die arm van die goddelose, ja, eis rekenskap van 'n bose mens oor sy goddeloosheid totdat U niks meer vind nie.

PSALMS 10:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

HERE, waarom staan U so ver weg? Hoekom verberg U Uself in tye van nood? Bose mense vol verwaandheid vervolg die ellendiges. Laat hulle gevang word in die planne wat hulle vir ander bedink. Want die goddelose spog met sy bose begeertes; hy seën die inhaliges en vervloek die HERE. Hierdie bose mens is te trots om God te soek. In al sy beplannings is daar geen plek vir God nie. Hy is suksesvol in alles wat hy doen. U oordele is vir hom buite sig. Minagtend lag hy oor al sy vyande. Hy sê vir homself: “Geen onheil sal my ooit tref nie! Geslag na geslag sal ek vry wees van rampe!” Sy mond is vol vervloeking, leuens en geweld, onheil en boosheid is op sy tong. Hy lê in ’n hinderlaag by die dorpe om mense in die geheim te vermoor, hy bly op die uitkyk na onskuldige slagoffers. Hy lê doodstil in ’n hinderlaag soos ’n leeu in sy lêplek, hy wag in die hinderlaag om hulpeloses aan te val. Hy vang die ellendiges en trek hulle met sy net. Die hulpelose is oorrompel en stort ineen; hy val onder die aanslag van die kwaadwilliges. Hy wat kwaad doen, sê vir homself: “God het vergeet, Hy kyk tog nie en sal dit nooit raaksien nie!” Staan op, HERE! Tree op teen die goddeloses, o God! Moenie die hulpeloses vergeet nie! Hoekom verag die goddelose vir God en sê by homself: “Hy sal tog nie rekenskap eis nie”? Maar U sien die moeilikheid en leed wat hulle veroorsaak, ja, U, U sien dit raak en tree teen hulle op. Die hulpeloses vertrou op U, die beskermer van die weeskind. Breek die greep van die goddelose, dié wat kwaad bewerk! Roep hom tot verantwoording oor sy bose dade totdat U hom nie meer vind nie.

PSALMS 10:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Here, hoekom is U so ver weg van my? Hoekom is U nie hier wanneer dit sleg gaan nie? Die mens wat verkeerd doen, jaag die mens wat homself nie kan help nie en wil hom vang. U moet die mens wat verkeerd doen, laat vang, die planne wat hy self gemaak het, moet hom vang. Want die mens wat verkeerd doen, dink hy kan alles kry wat hy wil hê, hy wil ryk word van ander mense se goed. Hy praat sleg oor die Here en hy sê die Here is nie belangrik nie. Die mens wat verkeerd doen, is hoogmoedig, hy vra nie wat die Here wil hê nie. Hy maak planne, maar hy dink nie aan God nie. Dit gaan altyd goed met hom, hy dink U is te ver om hom te oordeel, hy dink die mense wat teen hom is, beteken niks. Hy dink hy sal nie val nie, hy dink dit sal nooit sleg gaan met hom nie. Hy hou aan om mense te vervloek en te bedrieg en te verdruk. Hy maak altyd planne om mense te laat swaarkry, mense wat niks verkeerd gedoen het nie. Hy lê buite die stede en hy wag vir onskuldige mense, hy vermoor hulle waar niemand dit sien nie. Hy kyk waar hy iemand kan kry wat swak is, hy kruip weg soos 'n leeu en hy wag om iemand te vang wat homself nie kan beskerm nie, hy vang hom soos 'n mens 'n voël in 'n vangnet vang. Hy slaan mense wat hulleself nie kan help nie, hulle val op die grond, want hy is te sterk vir hulle. Hy dink God het daardie mense vergeet, hy dink God kyk weg en sien nooit wat gebeur nie. Here, U moet nou iets doen, o God, U moet u hand uitsteek en help, U moenie die mense vergeet wat hulleself nie kan beskerm nie. Hoekom dink die mens wat verkeerd doen dat God nie belangrik is nie? Hoekom dink hy God sal hom nie straf nie? U sien hoe mense swaarkry en seerkry, U sien dit en U sal iets doen. Die mens wat homself nie kan help nie, die weeskind, glo dat U hom sal help, en U sál dit doen. U moet die mens swak maak wat verkeerd doen, U moet die krag van die slegte mens breek. U moet hom straf oor alles wat hy verkeerd doen, hy moet nooit weer verkeerd doen nie.

PSALMS 10:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

O HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid? In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Laat hulle gegryp word in die listige planne wat hulle uitgedink het! Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE. Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie — dit is al sy gedagtes! Sy weë is altyd voorspoedig; hoog daarbo is u gerigte, weg van hom af; al sy teëstanders — hy blaas op hulle. Hy sê in sy hart: Ek sal nie wankel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie in die ongeluk sal wees nie. Sy mond is vol van vloek en van bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg. Hy sit in die hinderlae by die dorpe; in skuilplekke maak hy die onskuldige dood; sy oë loer op die ongelukkige. Hy loer in die skuilhoek soos 'n leeu in sy lêplek; hy loer om die ellendige te vang; hy vang die ellendige deur sy net toe te trek; en verbryseld sink dié terneer, en die ongelukkiges val in sy mag. Hy sê in sy hart: God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie. Staan op, HERE! O God, hef u hand op; vergeet die ellendiges nie! Die goddelose, waarom verag hy God en sê in sy hart: U soek dit nie? U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat 'n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was 'n helper van die wees. Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!

PSALMS 10:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Waarom staan U van ver af, HERE? waarom verberg jy jou in tye van benoudheid? Die goddelose in sy trots vervolg die armes; laat hulle gevang word in die planne wat hulle uitgedink het. Want die goddelose roem op sy hartsbegeerte en seën die gierigaards vir wie die HERE 'n afsku het. Die goddelose sal deur die trots van sy aangesig nie na God soek nie: God is nie in al sy gedagtes nie. Sy weë is altyd swaar; jou oordele is ver bo van sy aangesig af; al sy vyande, Hy blaas op hulle. Hy het in sy hart gesê: Ek sal nie wankel nie, want ek sal nooit in teëspoed wees nie. Sy mond is vol vloek en bedrog en bedrog; onder sy tong is onheil en nietigheid. Hy sit in die skuilplekke van die dorpe; in die skuilplekke vermoor hy die onskuldige; sy oë is geheim gerig op die armes. Hy loer heimlik soos 'n leeu in sy kuil; hy loer om die arme te vang; hy vang die arme as hy hom in sy net trek. Hy hurk en verneder homself, sodat die armes by sy sterkes kan val. Hy het in sy hart gesê: God het vergeet; Hy verberg sy aangesig; hy sal dit nooit sien nie. Staan op, HERE; O God, hef u hand op; vergeet die nederiges nie. Waarom verag die goddelose God? hy het in sy hart gesê: Jy sal dit nie eis nie. U het dit gesien; want jy sien onheil en rampspoed, om dit met jou hand te vergeld; die arme gee hom oor aan jou; jy is die helper van die wees. Breek jy die arm van die goddelose en die bose man; soek sy boosheid totdat jy niks kry nie.

PSALMS 10:1-15 Die Boodskap (DB)

Here, waarom maak U asof U my nie ken nie? Hoekom bly U eenkant staan? Dit voel of U baie ver van my af is. In krisisse is U weg as ’n mens U regtig nodig het! Mense wat arrogant is en nie na U luister nie, dink hulle is beter as dié wat hulpeloos is. Daarom trap hulle op die swakkes. Sorg asseblief dat hulle die slagoffers van hulle eie slegte planne word. Mense wat God nie dien nie, geniet dit om sonde te doen. Hulle sê vir mense wat oneerlik wins maak om daarmee aan te hou. Vir die Here het hulle geen respek nie. Mense wat die Here nie dien nie, loop altyd neus in die lug. Hulle dink te veel van hulleself. Hulle sê: “God straf tog nie sulke dade nie.” Party van hulle gaan nog verder en sê: “Daar is in elk geval geen God nie.” Dit gaan goed met alles wat hulle doen. Hulle is suksesvol. Dit lyk of hulle glad nie bang is vir u straf nie. Hulle buit ander uit. En hulle sien U nie raak nie. Hulle dink dat geen ramp hulle sal tref nie. Niks slegs kan met hulle gebeur nie. Daardie spul slegte mense vloek links en regs. Hulle is oneerlik. Hulle trap op mense so ver as wat hulle gaan. As hulle praat, is dit slegte dinge om mense te na te kom. Hulle lê mense voor. Hulle maak onskuldige mense dood. Hulle gebruik elke kans wat hulle kry om mense uit te buit wat hulpeloos is. Omdat hulle agteraf konkel, is hulle so gevaarlik soos ’n spul honger leeus. Hulle wag vir die regte oomblik om dié wat swak is te vang. Hulle pynig die armes wat hulle gevang het. Hierdie spul verpletter hulpeloses se lewe. Hulle beheer almal wat hulle in hulle mag kry. Hulle sê vir hulleself: “God het vergeet wat ons doen. Hy sien dit nie raak nie. Hy steur Hom nie daaraan nie!” Gryp in, Here! God, wys dat U die sterkste is. Moenie mense wat sleg behandel word, vergeet nie! Die goddeloses het geen respek vir U nie. Hulle dink: “God gaan ons nie laat rekenskap doen van al ons slegte dade nie!” Maar U sien mos wat hulle doen. U sien hoe mense te na gekom word. Almal wat deur hulle te kort gedoen word, kom vertel dit vir U. Daardie arme mense wat so swaarkry, gee hulle hartseer in u hande oor. U help mense wie se regte vertrap word. U help mense wat nie ’n pa het nie. Bring ’n einde aan die magspel van die mense wat aanhou om slegte dinge te doen, Here! Moenie dat een verkeerde daad van hulle ongestraf bly nie.