MARKUS 6:1-20

MARKUS 6:1-20 NLV

Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het. Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig? Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede. Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.” Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het. Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof. Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig. Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf. Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie. Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf. Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.” Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom. Hulle het ook baie bose geeste uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.” Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree. Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.” Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat. Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.” Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos. Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 6:1-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid