MARKUS 6:1-20

MARKUS 6:1-20 Die Boodskap (DB)

Van Jaïrus se huis af is Jesus saam met sy dissipels terug na sy eie mense in Nasaret. Op die sabbat het Jesus die mense in die sinagoge meer van God gaan vertel. Baie van hulle was besonder beïndruk. Hulle het onder mekaar begin praat: “Waar het hy aan al hierdie dinge gekom? By wie het hy al hierdie kennis gekry? Om nie eens te praat van al die wonderlike dinge wat hy doen nie. Ons weet mos wie hy eintlik is. Is hy nie die houtwerker, die seun van Maria nie? Sy broers is mos Jakobus, Josef, Judas en Simon en ons ken sy susters ook goed.” Hulle wou maar net nie aanvaar dat Hy spesiaal is nie en het die neus vir Hom opgetrek. “So gaan dit maar,” het Jesus toe gesê. “Iemand wat deur God gestuur is om met mense oor God te praat word oral op die hande gedra, behalwe deur die mense onder wie hy grootgeword het.” Hy kon nie eintlik wonderlike dinge daar doen nie, behalwe om ’n paar siek mense gesond te maak. Dit het Jesus nogal verstom dat sy eie mense Hom nie wou vertrou nie. Jesus is toe na die dorpies in die omgewing toe om vir hulle van God te vertel. Sy dissipels het Hom gehelp. Jesus het hulle twee-twee saam na die dorpies toe gestuur en het aan hulle die mag gegee om bose geeste te verjaag. Jesus het hulle gevra om die volgende te doen: hulle kon ’n kierie vir die reis saamvat, maar niks anders nie - nie kos nie, ook nie ’n tas of geld nie. Hulle kon wel sandale dra, maar moes nie ekstra klere saamvat nie.As iemand in ’n dorp hulle uitnooi om daar te kom bly, moes hulle in dié huis bly tot hulle werk op die dorp klaar was en hulle verder moes gaan. Hulle moes nie rondval nie.As mense op ’n plek nie na hulle wou luister nie en hulle nie aan Jesus se volgelinge wou steur nie, moes hulle nie eens verder sukkel nie. Hulle moes omdraai en eenvoudig daar wegloop. Dit sou duidelik wys wat hierdie mense met die boodskap van God gemaak het. Die dissipels is toe daar weg en het mense gaan aanmoedig om terug te draai na God toe. Hulle het ook baie demone verjaag en siekes gesond gemaak deur ’n bietjie olie oor hulle te gooi. Nuus oor al hierdie dinge het by koning Herodes uitgekom, want oral het mense oor Jesus gepraat. Hy was baie gewild. Party het selfs gesê: “Johannes die Doper is terug uit die dood en daarom het hy die krag om al hierdie wonderlike dinge te doen.” Ander het daarvan verskil. “Nee, hy is Elia,” het party gesê, terwyl ander gespekuleer het dat Hy soos een van God se predikers van ouds was. Toe Herodes dit alles hoor, was sy reaksie: “Johannes, die man wie se kop ek afgekap het, het sowaar uit die dood teruggekom!” Laat ek eers die verhaal vertel hoe Herodes Johannes se kop laat afkap het. Die einste Herodes het soldate gestuur om Johannes te vang en in die tronk te stop. Herodias het hom omgepraat om dit te doen. Sy was eers sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het toe met haar getrou. Johannes het dit nie daar gelos nie en reguit vir Herodes gesê: “God hou nie daarvan dat jy jou broer se vrou gevat het nie.” Daaroor was Herodias natuurlik woedend en het begin planne maak om Johannes dood te maak. Maar sy kon dit nie regkry nie, want Herodes was lugtig vir Johannes. Hy het geweet dat Johannes ’n eerlike man was wat die Here gedien het. Daarom het hy ’n ogie oor Johannes gehou. Hy het graag geluister na wat Johannes alles sê, hoewel dit hom soms ongemaklik laat voel het.

MARKUS 6:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weggegaan van daardie plek. Hy kom toe in Nasaret, die stad waar Hy grootgeword het. Sy dissipels het saam met Hom gegaan. Toe die Sabbatdag begin, het Hy vir die mense begin leer in die sinagoge. Baie mense het geluister na Hom. Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Waar het hy al hierdie dinge geleer? Waar het hy hierdie wysheid gekry? Hoe kan hy hierdie wonderwerke doen? Ons weet Jesus is 'n man wat houtwerk doen. Hy is Maria se seun en hy is die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon. Sy susters is ook hier by ons.” Die mense het glad nie gehou van wat Jesus gesê en gedoen het nie. Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na 'n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in sy eie stad, in sy eie familie en sy eie huisgesin respekteer hom nie.” Jesus kon nie een wonderwerk in Nasaret doen nie. Hy het sy hande net op 'n paar siek mense gesit en Hy het hulle gesond gemaak. Jesus was verbaas omdat die mense nie in Hom geglo het nie. Jesus het aangehou om in elke stad daar naby vir die mense te leer. Hy het ook die twaalf dissipels geroep en Hy het hulle na die mense toe gestuur. Hy het gesê hulle moenie alleen gaan nie, hulle moet twee-twee saam gaan. Hy het gesê Hy sal vir hulle krag gee om onrein geeste uit mense uit te jaag. Jesus het vir hulle gesê hulle mag niks saamneem wanneer hulle gaan nie. Hulle mag net 'n kierie saamneem, maar nie kos, of 'n rugsak, of geld in hulle beursies nie. Hulle mag sandale aantrek, en hulle moenie nog klere saamneem nie. Jesus het ook vir hulle gesê: “Wanneer mense julle nooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad. En wanneer die mense in 'n stad julle nie daar wil laat bly nie en nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.” Die dissipels het na die mense toe gegaan en gepreek. Hulle het vir die mense gesê hulle moet verander en lewe soos God wil hê. Die dissipels het ook baie duiwels uitgejaag uit mense, en hulle het baie siek mense gesalf met olyf-olie en hulle het die mense gesond gemaak. Al die mense het oor Jesus gepraat, daarom het koning Herodes ook van Hom gehoor. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.” Party mense het gesê: “Hy is Elia.” Ander mense het gesê: “Jesus is 'n profeet, soos een van die profete wat lank gelede gelewe het.” Toe koning Herodes van Jesus hoor, het hy gesê: “Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap, en nou lewe hy weer.” Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang. Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie, want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is 'n goeie en 'n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister.

MARKUS 6:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het daarvandaan weggegaan en in sy vaderstad gekom, en sy dissipels het Hom gevolg. En toe dit sabbat geword het, begin Hy in die sinagoge te leer, en baie wat Hom gehoor het, was verslae en sê: Waar kry Hy hierdie dinge vandaan, en watter wysheid is aan Hom gegee, dat ook sulke kragte deur sy hande plaasvind? Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie? En hulle het aanstoot aan Hom geneem. En Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis. En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof. Daarop het Hy die dorpe rondom deurgegaan en geleer. EN Hy het die twaalf na Hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur en het hulle mag gegee oor die onreine geeste, en hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te neem nie as net 'n stok alleen — geen reissak, geen brood, geen geld in die beurs nie, maar skoene aan die voete; en: Julle moet nie twee kledingstukke aantrek nie. En Hy het vir hulle gesê: Waar julle ook al in 'n huis mag kom, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek. En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. TOE koning Herodes dit hoor — want sy naam het bekend geword — het hy gesê: Johannes die Doper het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in Hom. Ander het gesê: Hy is Elía, en ander weer het gesê: Hy is 'n profeet of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan. Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie. En Heródias het 'n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie. Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.

MARKUS 6:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie 'n timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?” Die mense wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense. Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer. Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net 'n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog 'n kledingstuk saamvat nie. Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in 'n plek kom en in 'n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as 'n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.” Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.” En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is 'n profeet soos een van die ou profete.” Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.” Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.” Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

MARKUS 6:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En Hy het van daar af vertrek en na sy tuisdorp gegaan. Sy dissipels het Hom gevolg. Toe die Sabbat aanbreek, het Hy die mense in die •sinagoge begin leer, en baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Hulle het gesê: “Waar kom hy aan hierdie dinge, en watter wysheid is aan hom gegee , dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” Hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het toe vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp , en binne sy familiekring en in sy huis.” En Hy kon nie 'n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. Hy was verbaas oor hulle ongeloof. Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig. Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die •onrein geeste gegee. Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net 'n wandelstok – nie brood of 'n reissak of geld in die gordel nie. Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in 'n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle. ” Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geword. Sommige het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgewek is, en dié kragte daarom in hom werk. Ander weer het gesê dit is Elia. Nog ander het gesê dat Hy 'n profeet is, soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Johannes, wat ek laat onthoof het – dit is hy wat opgewek is.” Herodes self het immers vroeër mense gestuur en Johannes gevange laat neem, en hom in die tronk laat boei – en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is nie vir u toelaatbaar om die vrou van u broer te vat nie.” Herodias het toe 'n wrok teen hom gekoester, en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie; want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy besef het dat hy 'n •regverdige en heilige man is, en hom wou beskerm. Wanneer Herodes hom gehoor het, het hy telkens in groot vertwyfeling verkeer – tog het hy graag na hom geluister.

MARKUS 6:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het daarvandaan uitgegaan en in sy land gekom; en sy dissipels volg Hom. En toe die sabbatdag aangebreek het, het Hy in die sinagoge begin leer; en baie wat hom hoor, was verbaas en sê: Waarvandaan het hierdie man hierdie dinge? en watter wysheid is dit wat aan hom gegee word, dat selfs sulke magtige werke deur sy hande verrig word? Is dit nie die timmerman, die seun van Maria, die broer van Jakobus en Joses en van Juda en Simon nie? en is sy susters nie hier by ons nie? En hulle was aanstoot aan hom. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, maar in sy eie land en onder sy familie en in sy huis. En hy kon daar geen kragtige werk doen nie, behalwe dat hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle genees het. En hy was verwonderd oor hulle ongeloof. En hy het in die dorpe rondgegaan en geleer. En hy het die twaalf na hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur; en het hulle mag gegee oor onrein geeste; En hulle het bevel gegee dat hulle niks op hulle reis moes neem nie, behalwe net 'n staf; geen skroef, geen brood, geen geld in hulle beursie nie. Maar wees geskoei met sandale; en nie twee jasse aantrek nie. En Hy sê vir hulle: Waar julle ook al in 'n huis ingaan, bly daar totdat julle van daardie plek weggaan. En elkeen wat julle nie ontvang en na julle nie luister nie, as julle daarvandaan vertrek, skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en hulle gesond gemaak. En koning Herodes het van hom gehoor; (want sy naam is in die buiteland versprei) en hy het gesê: Johannes die Doper is uit die dode opgewek, en daarom word kragtige werke in hom openbaar. Ander het gesê: Dit is Elia. En ander het gesê: Dit is 'n profeet, of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Dit is Johannes wat ek onthoof het; hy het uit die dode opgestaan. Want Herodes het self uitgestuur en Johannes gegryp en hom in die gevangenis geboei ter wille van Herodias, sy broer Filippus se vrou, want hy het met haar getrou. Want Johannes het vir Herodes gesê: Dit is jou nie geoorloof om jou broer se vrou te hê nie. Daarom het Herodias 'n twis teen hom gehad en sou hom doodgemaak het; maar sy kon nie: Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy geweet het dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom bewaar; en toe hy hom hoor, het hy baie dinge gedoen en hom met graagte gehoor.

MARKUS 6:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het. Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig? Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede. Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.” Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het. Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof. Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig. Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf. Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie. Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf. Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.” Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom. Hulle het ook baie bose geeste uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.” Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree. Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.” Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat. Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.” Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos. Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid