MATTEUS 16:5-12

MATTEUS 16:5-12 NLV

Later, nadat hulle die see oorgesteek het, ontdek die dissipels dat hulle vergeet het om kos saam te neem. Jesus sê toe vir hulle: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood saamgebring het nie.” Jesus het dit geweet en gesê: “Waarom argumenteer julle onder mekaar, dat julle nie brood het nie? Het julle so min vertroue in My? Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie van die vyf brode vir die 5 000, en hoeveel mandjies vol julle agterna bymekaargemaak het nie? En die sewe brode vir die 4 000, en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? Hoe kan dit ooit in julle gedagtes opkom dat Ek oor gewone kos praat? Daarom sê Ek nou weer vir julle: ‘Oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs!’” Toe het hulle einde ten laaste ingesien dat Hy hulle nie waarsku teen gewone suurdeeg wat vir brood gebruik word nie, maar teen die beskouings van die Fariseërs en die Sadduseërs.