MALEAGI 2:5-9

MALEAGI 2:5-9 NLV

“Die doel van my verbond met die Leviete was om lewe en vrede te bring. Dit is wat Ek vir die Leviete gegee het. Hulle moes My eer en respekteer en dis presies wat hulle gedoen het. Hulle het My met diep ontsag bejeën, mense in my waarheid onderrig en nie leuens vertel nie. In vrede en opregtheid het hulle saam met My geloop. Hulle het ook baie mense gehelp om weg te draai van die sonde. “Die priester moet waak oor die kennis wat hy meedeel. Hy moet die volk kan leer wat my wil is, want hy is die boodskapper van die HERE, die Almagtige. Maar dit was nie so met julle nie!” Die HERE, die Almagtige, sê: “Julle het van my pad afgedwaal. Julle sogenaamde onderrig het baie mense laat struikel. Julle het skade aangerig aan my verbond met die Leviete. “Julle het nie gelewe soos Ek vereis nie en was partydig in julle toepassing van my voorskrifte. Daarom het Ek veroorsaak dat julle by die hele volk verag en verneder word.”