MALEAGI 2:5-9
MALEAGI 2:5-9 Bybel vir almal (ABA)
“Ek het 'n verbond met Levi gemaak. Ek het belowe dat hy lank sal lewe en dat dit goed sal gaan met hom. Ek het dit alles vir hom gegee, en hy het My gedien en My geëer. Hy het vir die mense geleer wat Ek wil hê hulle moet doen. Hy het vir hulle reg geleer, nie verkeerd nie. Hy het naby My gelewe en gedoen wat Ek wil hê hy moet doen. Hy het baie mense gehelp om hulle sonde te los. Ja, 'n priester moet weet wat om te sê. Hy moet vir die mense sê wat is reg en wat is verkeerd, want hy bring vir hulle die boodskap van die Here wat oor alles regeer. Maar julle wat priesters is, julle volg My nie meer nie. Julle het vir baie mense geleer om verkeerd te doen. Julle het die verbond gebreek wat Ek met Levi gemaak het.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Ek sal julle nou straf. Die mense sal julle nie meer respekteer nie, want julle was nie gehoorsaam aan My nie. Party mense het verkeerd gedoen, maar julle het gesê hulle het reg gedoen.”
MALEAGI 2:5-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
My verbond met hom was die lewe en die vrede; en Ek het dié aan hom gegee tot vrees; en hy het My gevrees en vir my Naam gebewe. Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van ongeregtigheid teruggebring. Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die HERE van die leërskare. Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare. So maak Ek julle dan ook veragtelik en gering by die hele volk, omdat julle my weë nie hou nie en partydig handel by die regspraak.
MALEAGI 2:5-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
My verbond met Levi sou vir hom lewe en vrede bring, en dit het Ek hom gegee. Hy het My met eerbied gedien en vir my Naam ontsag gehad. Hy het die volk my wil reg geleer en niks verdraai nie. Hy het naby My geleef, heelhartig en opreg, en hy het baie laat afsien van hulle sonde. 'n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat my wil is, want hy is 'n boodskapper van die Here die Almagtige. Maar julle het die regte pad verlaat, julle het baie tot 'n val gebring met wat julle hulle geleer het; julle het my verbond met Levi geskend, sê die Here die Almagtige. Nou maak Ek julle ook verag en sonder aansien by die hele volk, want julle het nie my wil gedoen nie, julle was nie onpartydig in julle uitsprake oor wat my wil is nie.
MALEAGI 2:5-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“My verbond met hom was bedoel om lewe en vrede te gee; Ek het dit aan hom gegee om ontsag te wek. Hy het vir My ontsag gehad en vir my Naam het hy gesidder. Betroubare onderrig in die wet het uit sy mond gekom en onreg is nie op sy lippe gevind nie. In vrede en opregtheid het hy saam met My geloop en hy het baie laat afsien van sonde. Die lippe van 'n priester moet immers kennis in stand hou. Mense soek onderrig in wat hy sê, omdat hy 'n boodskapper is van die HERE, Heerser oor alle magte. Maar júlle het afgewyk van die pad en baie mense laat struikel deur julle onderrig. Julle het die verbond met die Leviete geskend,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Op my beurt sal Ek julle veragte en vernederde mense in die oë van die hele volk maak, omdat julle nie nougeset op my paaie bly nie en menslike voorkeure laat geld in die onderrig van die wet.”
MALEAGI 2:5-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My verbond was met hom van lewe en vrede; en ek het dit aan hom gegee uit die vrees waarmee hy my gevrees het en bevrees was voor my Naam. Die wet van die waarheid was in sy mond, en ongeregtigheid is nie op sy lippe gevind nie; in vrede en regverdigheid het hy met my gewandel en baie van die ongeregtigheid afgewend. Want die priester se lippe moet kennis bewaar, en hulle moet die wet uit sy mond soek, want hy is die boodskapper van die HERE van die leërskare. Maar julle het van die pad gewyk; julle het baie oor die wet laat struikel; julle het die verbond van Levi verderf, spreek die HERE van die leërskare. Daarom het Ek julle ook veragtelik en gering gemaak voor die hele volk, omdat julle my weë nie onderhou het nie, maar partydig was in die wet.
MALEAGI 2:5-9 Die Boodskap (DB)
In hierdie ooreenkoms het Ek belowe dat Ek hom lank sal laat lewe en dat Ek elke dag sal toesien dat hy versorg is en niks nodig het nie sodat hy sy werk vir My rustig en sonder bekommernis kan doen. Van my kant af het Ek die ooreenkoms nagekom en hy het respek en eer aan My bewys. Wat hy die mense geleer het, was die waarheid, want hy het dit by My gehoor. Omdat hy nie bang was om die waarheid reguit te praat nie, het dit baie mense laat besluit om My te dien en nie meer sonde te doen nie. ’n Priester moet die mense kan leer wie en wat God is, dis sy werk. Hy moet ’n voorbeeld wees van hoe my kinders My moet dien, want hy is die verteenwoordiger van die Here, die Grootkoning. Ongelukkig, priesters, kon dit nie van julle gesê word nie. Julle het baie mense mislei omdat julle hulle verkeerd geleer het. So het julle ’n streep deur my ooreenkoms met Levi getrek. Daarom gaan Ek julle voor julle eie mense in die verleentheid bring en sonder eer los. Die rede daarvoor is in die eerste plek omdat julle nie na My wou luister nie, maar julle eie kop gevolg het. En in die tweede plek het julle nie almal gelyk behandel nie, maar julle het kant gekies vir dié wat agteraf vir julle omkoopgeskenke gegee het.
MALEAGI 2:5-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die doel van my verbond met die Leviete was om lewe en vrede te bring. Dit is wat Ek vir die Leviete gegee het. Hulle moes My eer en respekteer en dis presies wat hulle gedoen het. Hulle het My met diep ontsag bejeën, mense in my waarheid onderrig en nie leuens vertel nie. In vrede en opregtheid het hulle saam met My geloop. Hulle het ook baie mense gehelp om weg te draai van die sonde. “Die priester moet waak oor die kennis wat hy meedeel. Hy moet die volk kan leer wat my wil is, want hy is die boodskapper van die HERE, die Almagtige. Maar dit was nie so met julle nie!” Die HERE, die Almagtige, sê: “Julle het van my pad afgedwaal. Julle sogenaamde onderrig het baie mense laat struikel. Julle het skade aangerig aan my verbond met die Leviete. “Julle het nie gelewe soos Ek vereis nie en was partydig in julle toepassing van my voorskrifte. Daarom het Ek veroorsaak dat julle by die hele volk verag en verneder word.”