LUKAS 2:2-14

LUKAS 2:2-14 NLV

Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was. Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het. Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword, maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore! En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!” Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.”