LUKAS 2:2-14

LUKAS 2:2-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit was die eerste volkstelling wat gehou is toe Sirenius prokurator van Sirië was. Almal het gegaan om hulle te laat registreer, elkeen na sy eie dorp. Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie. Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal 'n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n hemelse menigte wat God loof: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het! ”

LUKAS 2:2-14 Die Boodskap (DB)

Hierdie sensus het plaasgevind toe Sirenius die Romeinse goewerneur van Sirië was. Almal moes in daardie tyd na hulle geboorteplek toe gaan om hulle daar te laat registreer. Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan. Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan. Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, het die tyd aangebreek dat haar Kind gebore moes word. Sy het toe ’n Seun in die wêreld gebring. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in ’n voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het. Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol. Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas. Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik. Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal. Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!” Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys: “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid