Hooggeagte Teofilus:
Baie mense het probeer om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het as inligtingsbron die verhale gebruik wat die eerste ooggetuies en dienaars van die Woord aan ons oorgelewer het. Nadat ek al hierdie verhale van voor af noukeurig ondersoek het, het ek besluit om ’n getroue samevatting daarvan vir u neer te skryf. Dit is om u te verseker van die betroubaarheid van alles wat u geleer is.
Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam. Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom. Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.
Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens. Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid.
Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar. Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien. Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe. Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.”
Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek weet dat dié dinge gaan gebeur? Ek is al ’n ou man en my vrou is ook al op gevorderde leeftyd.”
Toe sê die engel: “Ek is Gabriël. Ek staan in God se eie teenwoordigheid. Hy het my gestuur om die goeie nuus aan jou te bring! En omdat jy nie geglo het wat ek sê nie, sal jy nie kan praat nie, totdat die kind gebore is. Want my woorde sal op die bestemde tyd beslis waar word.”
Intussen het die mense vir Sagaria gewag om uit te kom, en hulle het begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly.
Toe hy uiteindelik uit die tempel kom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle het afgelei dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. Hy het aanmekaar vir hulle beduie en stom gebly.
Hy het by die tempel gebly totdat sy diensbeurt om was, en toe is hy huis toe. Kort daarna het sy vrou, Elisabet, swanger geword en sy het vir vyf maande in afsondering gegaan. “Hoe goed is die Here!” het sy uitgeroep. “Hy het die skande van my kinderloosheid van my af weggevat!”
Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid. Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!”
Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!”
Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.”
Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, want niks is onmoontlik vir God nie.”
Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.”
Toe het die engel weggegaan.
’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul.
Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.”
Maria het geantwoord:
“Ek prys die Here.
Ek juig in God my Verlosser!
Want Hy het omgesien
na sy nederige diensmeisie,
en nou sal geslag na geslag
my geseënd noem.
Want Hy, die magtige Een,
het groot dinge vir my gedoen.
Heilig is sy Naam!
Sy ontferming strek
van geslag tot geslag
oor almal wat Hom eer.
Sy kragtige arm
doen geweldige dinge!
Hy verstrooi die trotse
en hooghartige mense!
Hy het prinse onttroon
en nederiges verhef.
Hy het dié wat gebrek ly,
met goeie dinge versadig,
en die rykes
met leë hande weggestuur.
Hy het sy dienaar Israel gehelp!
Hy het nie sy belofte vergeet
om ontferming te bewys nie.
Want Hy het ons voorvaders beloof
– vir Abraham en sy kinders –
om vir altyd goed te wees
teenoor hulle.”
Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe.
Toe die tyd aangebreek het vir Elisabet se kind om gebore te word, het sy ’n seun in die wêreld gebring. Die nuus het vinnig onder haar bure en familie versprei dat die Here Hom oor haar ontferm het en almal was saam met haar bly. Toe die kindjie agt dae oud was, het al die familie en vriende bymekaargekom vir sy besnydenis. Hulle wou hom Sagaria noem, na sy pa. Maar Elisabet het gesê: “Nee! Sy naam is Johannes!”
“Maar daar is dan niemand in jou familie met die naam nie,” het hulle gesê. Met gebare vra hulle toe die kindjie se pa. Daarop beduie hy dat ’n skryfbordjie gebring moet word, en tot almal se verbasing skryf hy: “Sy naam is Johannes!”
Hy kon dadelik weer praat, en hy het God onmiddellik begin prys.
Die hele buurt is met ontsag vervul en die nuus oor wat gebeur het, het oral deur die Judese heuwelland versprei. Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal eendag van hierdie kindjie word?” Want die hand van die Here was duidelik op hom.
Sy pa, Sagaria, is hierna met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
“Prys die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk opgesoek
en hulle gered.
Hy het vir ons
’n magtige Redder gestuur
uit die koninklike geslag
van sy dienaar Dawid,
soos Hy lank gelede
deur sy heilige profete
beloof het.
Nou sal ons van ons vyande gered word
en van almal wat ons haat.
Hy was genadig
teenoor ons voorvaders
en Hy het sy heilige verbond
met hulle onthou,
die eed wat Hy teenoor Abraham
ons voorvader gesweer het
dat Hy sou sorg dat ons,
gered van ons vyande,
Hom sonder vrees kan dien
in toewyding en geregtigheid vir altyd.
En jy, kindjie,
sal ’n profeet
van die Allerhoogste
genoem word,
want jy sal die pad
van die Here voorberei.
Jy sal sy volk vertel
hoe om verlos te word:
deurdat hulle sonde
vergewe word.
Vanweë God
se tere ontferming
is die lig van die hemel
op die punt om oor ons te skyn,
om lig te bring aan hulle
wat in donkerheid
en die skaduwee
van die dood lewe,
en om ons te lei
op die pad van vrede.”
Johannes het groot en sterk geword in die Gees. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy sy bediening onder Israel begin het.