JOB 9

9
Job praat ’n derde keer in antwoord op Bildad
1Job het weer gepraat:
2“Ja, ek weet,
dis alles in beginsel waar.
Hoe kan ’n mens onskuldig wees
in die oë van God?
3As iemand met God
na die gereg wil gaan,
sou hy Hom een keer
uit duisend
kon antwoord?
4God is so wys en so magtig.
Wie sal ooit Hom kan teenstaan
en ’n saak teen Hom wen?
5Sonder waarskuwing
verskuif Hy berge,
keer Hy hulle om in sy woede.
6Hy skud die aarde uit sy plek,
en sy fondamente bewe.
7“Op sy bevel
sal die son nie opkom
en die sterre nie skyn nie.
8Hy alleen sprei die hemele uit,
Hy wandel
op die golwe van die see.
9Hy maak al die sterre:
die Beer, Orion, Sewester
en al die sterrebeelde
in die suidelike hemelruim.
10Sy groot werke is te wonderlik
om te verstaan.
Hy bewerk ontelbare wonders.
11Wanneer Hy by my kom,
sien ek Hom nie.
Ek sien Hom nie
wanneer Hy verbygaan nie.
12As Hy deur die dood
iemand wegvat,
wie kan Hom keer?
Wie sal dit waag om te sê:
‘Wat doen U nou?’
13God hou sy toorn nie terug nie,
Hy vernietig die helpers van
die groot seemonster.
14“Wie is ek dan
om God te antwoord
of met Hom te redeneer?
15Selfs al was ek onskuldig,
ek het geen verweer nie.
Ek kan maar net
by my Regter om genade pleit.
16Selfs al sou ek Hom dagvaar
en Hy daag op,
glo ek nie Hy sal na my luister nie.
17Want Hy val my aan
sonder rede,#9:17 Grondteks Hy val my met ’n stormwind aan. Hier soos in Siriese vertaling.
en sonder oorsaak
verwond Hy my.
18Hy gee my geen kans
om asem te skep nie
en versadig my
met bitter lyding.
19Hy is die sterk Een.
As dit oor krag gaan,
as dit oor regspraak gaan,
wie kan Hom ooit uitdaag?
20Selfs al is ek onskuldig,
my eie mond sal my veroordeel.
Selfs al is ek reg,
dit sal net wys
hoe verkeerd ek is.
21“Al is ek onskuldig,
dit maak geen verskil nie.
Ek verag my lewe.
22Of ek skuldig of onskuldig is,
dit is alles dieselfde.
Ek sê jou mos:
Hy vernietig die onskuldige
én dié wat kwaad doen.
23Hy lag wanneer ’n plaag
die onskuldige skielik doodmaak.
24Die hele aarde is in die hande
van die kwaaddoener
en God verblind die oë
van die regters
sodat hulle onreg pleeg.
As dit nie Hy is nie, wie anders?
25“My lewe gaan vinniger verby
as ’n naelloper.
Dit vlieg verby,
sonder dat ek geluk ervaar.
26Dit verdwyn
soos ’n vinnige rietbootjie,
soos ’n arend wat afswiep
op sy prooi.
27As ek sou dink:
ek gaan ophou kla,
my treurigheid laat vaar,
en vrolik wees,
28dan vrees ek steeds al my pyn,
want ek weet
U beskou my as skuldig, o God.
29Wat ook al gebeur,
ek is reeds skuldig bevind.
Hoekom dan nog probeer?
30Al was ek myself met seep
en my hande met wassoda,
31gooi U my weer
in ’n modderpoel.
Ek is so vuil
dat my eie klere my haat.
32“God is nie ’n mens soos ek nie.
Ek kan nie met Hom redeneer
of Hom voor ’n hof bring nie.
33As daar net iemand was
om tussen ons te bemiddel
en ons bymekaar te bring!
34Die middelaar sou dan keer
dat God
aanhou om my te slaan.
Ek sou nie langer in vrees lewe
vir sy straf nie.
35Dan sou ek met Hom
kon praat
sonder om bang te wees.
Maar in my eie krag
kan ek dit nie doen nie.”

Tans Gekies:

JOB 9: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan