JOB 8

8
Bildad praat die eerste keer met Job
1Bildad die Suagiet
het Job geantwoord:
2“Hoe lank gaan jy nog
so aanhou praat?
Jou woorde is soos ’n wind
wat alles wegvee.
3Verdraai God die reg?
Verdraai die Almagtige wat reg is?
4Jou kinders het klaarblyklik
teen Hom gesondig.
Daarom het hulle
hulle straf verdien.
5Maar as jy na God roep
en die Almagtige vra
om genade aan jou te bewys;
6as jy opreg en sonder sonde lewe,
sal Hy opstaan
en jou weer gelukkig maak
in jou huis.
7En al het jy met min begin,
sal jy met baie eindig.
8“Vra vir die vorige geslag.
Luister na die ervaring
van jou voorvaders.
9Ons is maar gister eers gebore.
Ons weet so min!
Ons dae op aarde gaan verby
soos ’n skaduwee.
10Dié wat voor ons geleef het,
sal ons leer,
uit die wysheid
van vorige geslagte
sal hulle ons onderrig.
11Groei riete buite ’n moeras?
Floreer vleigras
waar daar nie water is nie?
12As dit nog te jonk is
om gesny te word,
verdroog dit vinniger as gras.
13So gaan dit met iemand
wat vergeet van God.
Die verwagting van die goddelose
kom tot niks.
14Alles waarop hulle bou,
val inmekaar.
Hulle steun op ’n spinnerak.
15Hulle dink
hulle huise bied sekuriteit.
Maar dit hou nie.
Hulle probeer daaraan vasklou,
maar dit bly nie staan nie.
16Hulle lyk soos ’n welige struik
in die son.
Sy takke sprei uit
oor die hele tuin.
17Die wortels groei deur klippe
sodat dit stewig staan tussen rotse.
18Maar wanneer dit uit sy plek
uitgetrek is,
mis niemand dit nie.
19Dis die einde van sy lewe.
Ander groei in sy plek.
20“Maar kyk:
God verwerp nooit ’n mens
wat opreg
voor Hom leef nie.
So laat Hy dit nie goed gaan
met die kwaaddoener nie.
21Hy sal jou weer
met vrolikheid vul
en jou laat uitroep van vreugde.
22Dié wat jou haat,
sal beskaamd staan.
Die tent van die bose mens
sal vernietig word.”

Tans Gekies:

JOB 8: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan