JOHANNES 6:32-59

JOHANNES 6:32-59 NLV

Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee. “Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.” Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie. Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan. “Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.” Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?” Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek. In die profete staan daar geskryf: ‘Hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand al die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van die Vader af gekom het – Hý het die Vader gesien. “Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.” Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?” Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom. “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe. “Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.” Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee.