JOHANNES 3:9-17

JOHANNES 3:9-17 NLV

Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?” Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie? Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie. As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel? Niemand het nog na die hemel toe opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, en dit is Ek, die Seun van die Mens. Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.