JOHANNES 3:9-17
JOHANNES 3:9-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierop vra Nikodemus Hom: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” En Jesus het hom geantwoord: “Jy is dié leermeester van Israel en jy begryp hierdie dinge nie? Amen, amen, Ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle ons getuienis nie! As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle glo nie, hoe sal julle dan glo as Ek julle van die hemelse vertel? En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die •Seun van die Mens. En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.” Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.
JOHANNES 3:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?” Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie? Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie. As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel? Niemand het nog na die hemel toe opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, en dit is Ek, die Seun van die Mens. Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
JOHANNES 3:9-17 Bybel vir almal (ABA)
Nikodemus het vir Jesus gevra: “Hoe gebeur dit?” Jesus het gesê: “Jy is iemand wat vir die mense van Israel leer om God te dien. Hoekom verstaan jy dit nie? Ek sê vir jou, en dit is seker: Ek en die mense wat aan My behoort, praat van dinge waarvan ons weet. Ons vertel van dinge wat ons self gesien het, maar julle glo niks wat ons vertel nie. Ek het met jou gepraat oor iets wat op die aarde gebeur, en jy het dit nie geglo nie. Sal julle dan glo wanneer Ek vir julle vertel van die dinge wat in die hemel gebeur? Nee, julle sal dit ook nie glo nie. Onthou, niemand het van die aarde na die hemel gegaan nie, net Ek het dit gedoen, Ek, die Seun van die mens, wat uit die hemel na die aarde gekom het. Moses het die slang hoog aan 'n paal gehang in die woestyn. So moet die mense ook vir My, die Seun van die mens, hoog aan 'n kruis hang. Dan sal elkeen wat in My glo, die ewige lewe hê.” God is lief vir die mense, daarom het Hy sy Seun gegee. Daar is niemand soos die Seun nie. Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê. God het sy Seun na die mense toe gestuur, maar nie om die mense te straf nie. Nee, God het Hom gestuur om hulle te red.
JOHANNES 3:9-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
JOHANNES 3:9-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?” En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. Moses het die slang in die woestyn hoog op 'n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
JOHANNES 3:9-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nikodemus antwoord en sê vir hom: Hoe kan hierdie dinge wees? Jesus antwoord en sê vir hom: Is jy 'n heer van Israel en weet jy nie hierdie dinge nie? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet, en getuig dat ons gesien het; en julle ontvang nie ons getuienis nie. As Ek julle aardse dinge vertel het, en julle glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van hemelse dinge vertel? En niemand het opgevaar na die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word. Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun nie na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie; maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
JOHANNES 3:9-17 Die Boodskap (DB)
“Hoe op aarde kan dit wees?” vra Nikodemus. Jesus gaan toe voort: “Hoe is dit moontlik dat jy nie hierdie dinge verstaan nie? Jy is dan self ’n onderwyser wat die Israeliete oor godsdienstige dinge touwys moet maak.” “Luister baie mooi. Ons praat nie oor dinge wat vir ons vreemd of onbekend is of waarvan ons niks weet nie. Nee, wanneer ons nou met soveel sekerheid hieroor praat, is dit omdat ons dit self gesien het. Nogtans aanvaar julle nie wat Ek vir julle sê nie. Nou ja, as julle nie wil luister wanneer Ek praat oor dinge wat hier onder ons gebeur nie, hoe sal julle My dan nog glo wanneer Ek vir julle van die dieper geestelike dinge vertel? “Immers, daar is niemand wat al opgevaar het die hemel in nie, behalwe Een. Dit is juis Hy wat uit die hemel afgekom het: die Seun van die mens. Soos Moses destyds in die woestyn die slang hoog bo-op ’n houtpaal gesit het, so moet die Seun van die mens ook hoog teen ’n kruis opgelig word, sodat elkeen wat Hom gelowig aanvaar en vertrou, vir ewig en altyd kan leef. “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef.God het nie die Seun na hierdie wêreld toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur sodat mense wat sleg was weer by God kon uitkom.