JOHANNES 3:1-12

JOHANNES 3:1-12 NLV

Daar was ’n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ’n leier onder die Jode. Hy het een nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u as leraar van God af gekom het. Niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen as God nie met hom is nie.” Jesus het daarop reageer: “Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Nikodemus vra toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n bejaarde is? Hy kan tog nie vir ’n tweede keer in sy ma se skoot gaan en gebore word nie?” Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie. Wat uit ’n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verwonderd wees dat Ek vir jou gesê het julle moet van bo gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?” Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie? Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie. As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel?