JOHANNES 3:1-12
JOHANNES 3:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was 'n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was 'n lid van die Joodse Raad. Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan 'n mens gebore word as hy al 'n ou man is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?” En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel?
JOHANNES 3:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n Fariseër, Nikodemus. Hy was 'n leier van die Jode. Hy het in die nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “ Rabbi, ons weet God het U gestuur om vir die mense te leer hoe om Hom te dien. Die wondertekens wat U doen, kan 'n mens net doen as God hom help.” Jesus het hom geantwoord: “Ek sê vir jou, en dit is seker: 'n Mens moet eers weer gebore word, dan sal hy weet God is sy Koning.” Nikodemus sê toe vir Hom: “Maar hoe kan 'n mens gebore word as hy klaar groot is? 'n Mens kan nie 'n tweede maal in sy ma ingaan en weer gebore word nie.” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Iemand moet eers uit water en uit Gees gebore word, dan sal hy weet God is sy Koning. Wanneer iemand gebore word uit 'n mens, dan is hy 'n mens. Maar wanneer iemand gebore word uit die Heilige Gees, dan is hy 'n mens wat 'n gees het wat waarlik lewe. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou sê julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy kan die wind hoor, maar jy weet nie van waar dit kom en waarnatoe dit gaan nie. So is dit ook wanneer iemand uit die Gees gebore word.” Nikodemus het vir Jesus gevra: “Hoe gebeur dit?” Jesus het gesê: “Jy is iemand wat vir die mense van Israel leer om God te dien. Hoekom verstaan jy dit nie? Ek sê vir jou, en dit is seker: Ek en die mense wat aan My behoort, praat van dinge waarvan ons weet. Ons vertel van dinge wat ons self gesien het, maar julle glo niks wat ons vertel nie. Ek het met jou gepraat oor iets wat op die aarde gebeur, en jy het dit nie geglo nie. Sal julle dan glo wanneer Ek vir julle vertel van die dinge wat in die hemel gebeur? Nee, julle sal dit ook nie glo nie.
JOHANNES 3:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daar was 'n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, 'n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U 'n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?
JOHANNES 3:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar was 'n man uit die geledere van die •Fariseërs met die naam Nikodemus, 'n leier van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie. ” Jesus het hom geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die •koninkryk van God nie sien nie.” Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan 'n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie daaroor verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word’ nie. Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” Hierop vra Nikodemus Hom: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” En Jesus het hom geantwoord: “Jy is dié leermeester van Israel en jy begryp hierdie dinge nie? Amen, amen, Ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle ons getuienis nie! As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle glo nie, hoe sal julle dan glo as Ek julle van die hemelse vertel?
JOHANNES 3:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar was 'n man van die Fariseërs met die naam van Nikodemus, 'n owerste van die Jode: Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U 'n leraar is wat van God af kom, want niemand kan hierdie wonders doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodemus sê vir hom: Hoe kan 'n mens gebore word as hy oud is? kan hy vir die tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het: Julle moet wedergebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie; so is elkeen wat uit die Gees gebore is. Nikodemus antwoord en sê vir hom: Hoe kan hierdie dinge wees? Jesus antwoord en sê vir hom: Is jy 'n heer van Israel en weet jy nie hierdie dinge nie? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet, en getuig dat ons gesien het; en julle ontvang nie ons getuienis nie. As Ek julle aardse dinge vertel het, en julle glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van hemelse dinge vertel?
JOHANNES 3:1-12 Die Boodskap (DB)
Een nag het Nikodemus Jesus kom opsoek. Hy was ’n belangrike leier in die Joodse gemeenskap en ’n lid van die party van die Fariseërs. Hy knoop toe met Jesus ’n gesprek aan: “Meneer, ons is oortuig daarvan dat God u gebruik om ander mense te leer. Weet u waarom sê ek so? As God iemand nie bystaan nie, sal hy eenvoudig nie die dinge kan doen wat u regkry nie.” Jesus antwoord hom toe: “Weet jy, Ek wil nou vir jou iets belangriks sê. As iemand nie nog ’n keer gebore word nie, sal hy sowaar nie deel word van die ryk waar God Koning is nie.” “Hoe is dit moontlik om as jy al groot en oud is, nog ’n keer gebore te word?” vra Nikodemus Hom. “’n Mens kan mos nie ’n tweede maal in jou ma terugklim om weer ’n keer gebore te word nie.” “Luister baie mooi wat Ek vir jou sê,” kom dit van Jesus. “Die pad na die ryk waar God Koning is, is toe vir elkeen wat nie gebore word uit lewende water en die Heilige Gees nie. Immers, ’n kind wat uit ’n mens gebore word, is maar net ’n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, begin geestelik lewe. “Daarom moet jy nie vol allerhande vraagtekens wees oor my woorde dat julle nog ’n keer gebore moet word nie. Leer uit die natuur. Hoewel jy die wind hoor waai, kan jy dit tog nie beheer of stuur nie. Dit waai waar dit wil. Jy weet nie eens presies waar dit vandaan kom of waarheen dit uiteindelik waai nie. Maar nogtans waai dit. Presies dit is waar van die manier waarop die Gees werk. Elke persoon wat uit die Gees gebore word, ervaar dit ook so.” “Hoe op aarde kan dit wees?” vra Nikodemus. Jesus gaan toe voort: “Hoe is dit moontlik dat jy nie hierdie dinge verstaan nie? Jy is dan self ’n onderwyser wat die Israeliete oor godsdienstige dinge touwys moet maak.” “Luister baie mooi. Ons praat nie oor dinge wat vir ons vreemd of onbekend is of waarvan ons niks weet nie. Nee, wanneer ons nou met soveel sekerheid hieroor praat, is dit omdat ons dit self gesien het. Nogtans aanvaar julle nie wat Ek vir julle sê nie. Nou ja, as julle nie wil luister wanneer Ek praat oor dinge wat hier onder ons gebeur nie, hoe sal julle My dan nog glo wanneer Ek vir julle van die dieper geestelike dinge vertel?
JOHANNES 3:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ’n leier onder die Jode. Hy het een nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u as leraar van God af gekom het. Niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen as God nie met hom is nie.” Jesus het daarop reageer: “Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Nikodemus vra toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n bejaarde is? Hy kan tog nie vir ’n tweede keer in sy ma se skoot gaan en gebore word nie?” Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie. Wat uit ’n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verwonderd wees dat Ek vir jou gesê het julle moet van bo gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?” Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie? Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie. As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel?