JOHANNES 18:33-37

JOHANNES 18:33-37 NLV

Pilatus het toe weer in die hoofkwartier ingegaan, Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus het daarop reageer: “Sê u dit uit u eie, of het ander dit oor My aan u vertel?” “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.” “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus. “U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.”