JOHANNES 18:33-37 - Compare All Versions
JOHANNES 18:33-37 ABA (Bybel vir almal)
Pilatus het weer in sy huis ingegaan. Hy het vir Jesus laat roep en hy het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus het vir Pilatus gevra: “Hoekom vra jy vir My of Ek die koning van die Jode is? Het jy dit self gedink, of het ander mense met jou gepraat oor My?” Pilatus het vir Jesus gesê: “Ek is nie 'n Jood nie! Jou eie mense en die priesterleiers het jou na my toe gebring. Hulle wil hê ek moet jou straf. Jy moet vir my sê wat jy verkeerd gedoen het.” Jesus het vir hom gesê: “Ek is nie 'n koning soos die ander konings op die aarde nie. As Ek so 'n koning is, dan sal my mense veg om My te beskerm, en jy sal My dan nie vir die Jode kan gee nie. Nee, Ek is nie 'n koning soos die ander konings op die aarde nie.” Pilatus het vir Jesus gesê: “O, jy is 'n koning?” Jesus het vir hom gesê: “Dit is jý wat sê Ek is 'n koning. Ek is gebore en Ek het na die wêreld gekom om vir die mense van die waarheid te kom vertel. Elkeen wat die waarheid gekry het van God, luister na My.”
JOHANNES 18:33-37 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode? Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê? Pilatus antwoord: Is ek dan 'n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen? Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.
JOHANNES 18:33-37 AFR83 (Afrikaans 1983)
Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?” Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?” “Ek is mos nie 'n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?” “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” “Dan is jy tog wel 'n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is 'n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”
JOHANNES 18:33-37 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Pilatus het toe weer 'n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien 'n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het u gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” “Is u dan tog 'n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem. ”
JOHANNES 18:33-37 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Pilatus het toe weer in die regslokaal ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gesê: Is U die Koning van die Jode? Jesus antwoord hom: Sê jy hierdie ding van jouself, of het ander dit vir jou van My vertel? Pilatus antwoord: Is ek 'n Jood? U eie nasie en die owerpriesters het u aan my oorgegee; wat het u gedoen? Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer sou word nie; maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: Is jy dan 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiertoe is Ek gebore, en daarom het Ek in die wêreld gekom om van die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.
JOHANNES 18:33-37 DB (Die Boodskap)
Pilatus het omgedraai en teruggestap na Jesus toe. Hy was nog in die vesting. Daar gekom, roep hy Jesus nader. “Sê my, is jy die koning van die Jode? Is jy die een wat oor die Jode gaan heers?” Jesus antwoord toe: “Vra jy dit omdat ander dit van My gesê het, of is dit omdat jy self so ’n aanvoeling oor My het?” “Lyk ek vir jou na ’n Jood wat sulke aanvoelings sal hê?” reageer Pilatus dadelik. “Jou eie mense en die leiers van die priesters het jou hier voor my gesleep. Wat het jy aangevang?” Jesus antwoord toe: “Ek is ’n koning, maar nie ’n aardse koning nie. As Ek ’n aardse koning was, sou my volgelinge hand en tand baklei het om te keer dat die Jode My vang. Dis miskien wat aardse konings doen, maar Ek is nie so ’n koning nie.” “O so, dan is jy tog ’n koning!” sê Pilatus toe. “As jy so sê,” sê Jesus. “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met ’n doel: om met oortuiging vir mense die waarheid te kom vertel. Ja, daarvoor is Ek gebore. Weet jy wie luister na wat Ek sê? Mense wat hart en siel aan die kant van die waarheid staan.”
JOHANNES 18:33-37 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Pilatus het toe weer in die hoofkwartier ingegaan, Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus het daarop reageer: “Sê u dit uit u eie, of het ander dit oor My aan u vertel?” “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.” “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus. “U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.”