JEREMIA 7:16-34

JEREMIA 7:16-34 NLV

“Jeremia, moenie meer vir Juda bid nie. Moenie oor hulle huil of vir hulle bid nie. Moet ook nie namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie. Sien jy nie wat hulle in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie? Geen wonder Ek is woedend nie! Die kinders maak hout bymekaar en die pa’s maak die vuur. Die vroue knie deeg en hulle bak koekies om aan die koningin van die hemel te offer en hulle bring drankoffers vir ander afgode! En dit alles net om my eer te krenk.” Die HERE vra: “Is dit vir My wat hulle seermaak? Nee, hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.” Daarom sê die oppermagtige HERE: “Ek sal my woede en my straf oor hierdie land uitgiet. My woede is soos ’n vuur wat nie geblus kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste verteer.” Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Weg met julle brandoffers en ander offers! Eet self die vleis! Toe Ek julle voorouers uit Egipte uitgelei het, het Ek nie brandoffers en ander offers van hulle verwag nie. Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.’ “Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie idees gevolg en verkeerd gedoen sodat hulle agteruitgegaan het in plaas van vorentoe. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe het Ek aangehou om profete na hulle te stuur, dagin en daguit. Maar my volk het nie na My geluister nie. Hulle het hulle geensins aan My gesteur nie. Hulle het net nog meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers. “Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer. Sê vir hulle: ‘Julle is die volk wat nie na die HERE julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Julle ken nie meer iets soos waarheid nie en praat dit ook nie. “‘Inwoners van Jerusalem, sny julle hare af soos julle rou en gooi dit weg. Huil van smart op die kaal heuwels. Die HERE het hierdie geslag verwerp, hulle wat sy toorn laat ontbrand het!’” “Die mense van Juda het dinge gedoen wat vir My verkeerd is,” sê die HERE. “Hulle het in my tempel beelde van hulle afgode gesit. Hulle het die tempel onrein gemaak. Hulle het heidense hoogtes in Tofet in die Hinnomlaagte gebou. Daar het hulle hulle seuns en dogters in die vuur geoffer. Ek het hulle nooit opdrag gegee om sulke afgryslike dinge te doen nie. Dit is nie eers iets waaraan Ek ooit sou dink nie!” Daarom sê die HERE: “Pas op, die tyd kom dat hulle hierdie plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal so baie mense in Tofet begrawe dat daar nie meer plek vir al die grafte sal wees nie. Die lyke van my mense sal kos vir die aasvoëls en die wilde diere wees, en niemand sal oorleef om hulle te verwilder nie. Ek sal die vrolike sang en gelag van die mense in die strate van Jerusalem stilmaak. Selfs in die dorpe van Juda sal ’n mens nie meer die opgewonde stemme van bruidegomme en bruide hoor nie. Die land sal ’n verlate plek van bouvalle wees.”