JEREMIA 7:16-34
JEREMIA 7:16-34 Bybel vir almal (ABA)
“En jy, Jeremia, jy moenie vir hierdie volk bid nie, jy moenie vir My soebat dat Ek weer goed moet wees vir hulle nie, want Ek sal nie na jou luister nie. Jy sien self wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. Die seuns kap hout en die pa's maak vuur en die vroue knie deeg en bak koeke vir die koningin van die hemel. Hulle bring drank-offers vir ander gode om My ongelukkig te maak. Maar dit is nie vir My wat hulle ongelukkig maak nie, hulle maak hulleself ongelukkig, dit is húlle wat sal swaarkry.” Dit sê die Here. Daarom sê die Here: “Ek is kwaad en Ek sal almal en alles in hierdie plek straf: mense en diere, bome en plante. Dit sal wees soos 'n vuur wat aanhou brand.” Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Dit sal beter wees as julle die vleis van julle brand-offers self eet saam met die vleis van julle ander offers. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte gebring het, het Ek nie gesê brand-offers en ander offers is die belangrikste nie. Die belangrikste wat Ek vir hulle gesê het, is: Julle moet gehoorsaam wees aan My, dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Julle moet altyd lewe soos Ek wil hê, dan sal dit goed gaan met julle. “Maar julle voorvaders was nie gehoorsaam nie, hulle het nie geluister nie. Hulle het gelewe soos hulle self gedink het, hulle was hardkoppig en hulle het gelewe soos hulle slegte harte vir hulle gesê het. Hulle wou nie naby My wees nie. Dit het julle gedoen vandat julle voorvaders uit die land Egipte gekom het, tot vandag toe. Ek het aangehou om my dienaars, die profete, na julle toe te stuur, maar julle was nie gehoorsaam nie, julle het nie geluister nie, julle was hardkoppig en julle was slegter as julle voorvaders. “Jeremia, jy sal dit alles vir die volk sê, maar hulle sal nie na jou luister nie. Jy sal hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. Dan sal jy van hulle sê: ‘Hulle is die volk wat nie gehoorsaam was aan hulle God die Here nie en wat nie gedoen het wat Hy vir hulle gesê het nie. Daar is niks wat reg is by hulle nie. Jerusalem, jy dink jy is 'n nasireër, maar jy moet jou lang hare afknip en 'n klaaglied sing op die heuwels waar daar nie plante groei nie. Jy moet huil en treur oor jou mense wat dood is, want die Here het sy volk gelos omdat Hy kwaad is vir hulle. Vyande het hulle weggevat.’ ” Die Here sê: “Ek het dit gedoen omdat die mense van Juda dinge gedoen het waarvan Ek nie hou nie. Hulle het afgodsbeelde neergesit in die tempel wat my Naam het en hulle het my tempel ontwy. En hulle het 'n offer-plek gebou in die Hinnom-vallei waar hulle vuur gemaak het en hulle seuns en dogters verbrand het. Ek het nie gesê hulle moet dit doen nie, Ek het nooit aan so iets gedink nie.” Die Here sê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer die mense nie meer sal praat van die plek in die Hinnom-vallei waar hulle vuur gemaak het nie, hulle sal die plek noem ‘Moord-vallei.’ En hulle sal die mense wat sterf, daar begrawe, omdat daar nie ander plek vir grafte sal wees nie. Die voëls en die wilde diere sal die lyke van hierdie volk vreet, en niemand sal die voëls en die diere wegjaag nie. In die stede van Juda en in die strate van Jerusalem sal niemand feesvier en vrolik wees nie, en niemand sal daar trou nie, want die land sal verwoes wees.”
JEREMIA 7:16-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie. Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg. Terg hulle Mý? spreek die HERE. Doen hulle dit nie aan hulleself tot beskaming van hul aangesig nie? Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis. Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie. Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat; maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders. Ook moet jy al hierdie woorde aan hulle meedeel, maar hulle sal na jou nie luister nie; en jy moet na hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond. Skeer jou mooi hare af, o Jerusalem, en gooi dit weg, en hef op die kaal heuwels 'n klaaglied aan; want die HERE het die geslag van sy grimmigheid verwerp en verstoot. Want die kinders van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë, spreek die HERE. Hulle het hul verfoeisels gesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig. En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand — iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie. En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak. En Ek sal uit die stede van Juda en uit die strate van Jerusalem laat ophou die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid; want die land sal 'n puinhoop word.
JEREMIA 7:16-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie. Sien jy nie wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem nie? Kinders maak hout bymekaar, die mans steek vure aan en die vrouens knie deeg om koeke te bak vir die koningin van die hemel. Hulle bring ook drankoffers aan ander gode om My seer te maak. Is dit vir My wat hulle seermaak? vra die Here. Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself. Daarom, sê die Here my God, laat Ek my gloeiende toorn oor hierdie land kom, oor mens en dier, oor die bome in die veld en die opbrengs van die land. My toorn sal bly brand en nie tot bedaring gebring kan word nie. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Bring nog meer brandoffers saam met julle offers en eet die vleis. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister nie en hulle aan My nie gesteur nie. Hulle was hardkoppig en moedswillig, hulle het hulle eie kop gevolg, sodat hulle versleg het in plaas van te verbeter. Vandat julle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur. Maar die volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie, hulle het hardkoppig gebly en meer kwaad as hulle voorvaders gedoen. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie; al roep jy hulle, sal hulle jou nie antwoord nie. Sê vir hulle hulle is 'n nasie wat ongehoorsaam is aan die Here hulle God en wat hulle nie laat leer nie. Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by hulle gehoor nie. Sny af die hare wat jy as nasireër laat groei het en gooi dit weg, sing op die heuwels 'n klaaglied, want die Here het die volk wat sy toorn laat ontbrand het, verwerp en verstoot. Die Judeërs het gedoen wat verkeerd is in my oë, sê die Here: hulle het hulle afskuwelike afgode gesit in die huis wat na my Naam genoem is en dit so ontwy. Hulle het die hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om daar hulle seuns en dogters in die vuur te offer. Dit was teen my bevel, so iets het selfs nie in my gedagte opgekom nie. Daarom kom daar dae, sê die Here, dat hulle dit nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal daar mense begrawe omdat daar nie elders meer plek sal wees vir grafte nie. Daar sal die voëls en die wilde diere die lyke van die volk eet sonder dat iemand hulle verwilder. In die stede van Juda en in die strate van Jerusalem sal Ek 'n einde maak aan vreugde en gejuig, aan die vrolikheid van huweliksfeeste. Die land sal 'n puinhoop word.
JEREMIA 7:16-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ En jy, jy moenie vir hierdie volk bid nie; moenie vir hulle 'n klaagroep, 'n gebed opstuur nie, en moenie by My pleit nie. Want Ek sal glad nie na jou luister nie. Sien jy nie wat doen hulle in die dorpe van Juda en op die strate van Jerusalem nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die pa's steek die vuur aan. Die vroue knie deeg om offerkoeke gereed te kry vir die koningin van die hemel, en hulle giet drankoffers uit vir ander gode, net om My te tart. Tart hulle My?” is die uitspraak van die HERE. “Tart hulle nie hulleself nie, sodat hulle beskaamd sal staan? Daarom,” so sê die Heer, die HERE, “Kyk, my toorn en my woede sal uitbars teen hierdie plek, oor mens en dier, oor die bome van die veld en oor die opbrengs van die landerye. Dit sal brand en nie geblus word nie.” “ ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Julle •brandoffers, voeg dit by julle •maaltydoffers en eet vleis! Ja, Ek het nie, op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, met julle voorouers soseer gepraat of opdrag gegee oor brandoffers of maaltydoffers nie, maar eintlik hierdie saak aan hulle opgedra, ‘Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees! Loop die hele pad wat Ek julle beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.’ Maar hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle het voortgegaan met hulle eie planne, in die verstoktheid van hulle bose harte. Hulle het agteruit gegaan en nie vooruit nie. Vanaf die dag dat julle voorouers uit Egipteland getrek het tot vandag toe, het Ek aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur – dag vir dag. Maar hierdie volk het nie na My geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig en het hulle nog slegter gedra as hulle voorouers. Jy moet al hierdie woorde vir hulle sê, maar hulle sal nie na jou luister nie; jy moet hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. Dan moet jy vir hulle sê, ‘Dit is die nasie wat nie na die stem van die HERE hulle God luister nie en teregwysing nie aanvaar nie. Betroubaarheid het verdwyn, dit is uitgewis uit hulle monde. ’ ” ’ ” Sny jou lang hare af, Jerusalem, en gooi dit weg! Hef op die woestynpaaie 'n klaaglied aan. Want die HERE het verwerp, Hy het die geslag wat sy gramskap opwek, prysgegee. “Ja, die nageslag van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë,” is die uitspraak van die HERE. “Hulle het hulle verfoeilike afgode geplaas in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig. Hulle het die offerhoogtes van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om hulle seuns en dogters met vuur te verbrand – iets wat Ek nie beveel het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die HERE, “wanneer daar nie meer gesê sal word ‘Tofet’ en ‘Ben-Hinnomdal’ nie, maar ‘Moorddal’. Hulle sal in Tofet mense begrawe vanweë 'n gebrek aan plek. Die lyke van hierdie volk sal kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde, en niemand sal hulle verwilder nie. Ek sal in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem die geluid van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid uitdoof, want die land sal 'n puinhoop word.
JEREMIA 7:16-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Bid dan nie vir hierdie volk nie, en hef geen geroep of gebed vir hulle op nie, en tree nie by My in nie, want Ek sal jou nie verhoor nie. Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie hulle deeg om vir die hemelkoningin koeke te maak en drankoffers uit te giet vir ander gode, om My tot toorn te terg. Terg hulle my tot toorn? spreek die HERE: terg hulle hulle nie tot verwarring van hul eie aangesig nie? Daarom, so sê die HERE HERE: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor mense en oor diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die aarde; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Bring julle brandoffers by julle slagoffers, en eet vleis. Want Ek het nie met julle vaders gespreek en hulle nie bevel gegee op die dag toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het oor brandoffers of slagoffers nie. Maar hierdie ding het ek hulle beveel en gesê: Luister na my stem, en Ek sal julle God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel in al die weë wat Ek julle beveel het, dat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister en nie hul oor geneig nie, maar gewandel in die raadslae en in die verbeelding van hul bose hart en agteruit gegaan en nie vorentoe nie. Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe stuur Ek al my knegte, die profete, na julle toe, elke dag vroeg opstaan en hulle stuur. Maar hulle het nie na My geluister en nie hul oor geneig nie, maar hul nek verhard; hulle het erger gedoen as hul vaders. Daarom moet jy al hierdie woorde tot hulle spreek; maar hulle sal na jou nie luister nie; ook moet jy na hulle roep; maar hulle sal jou nie antwoord nie. Maar jy moet vir hulle sê: Dit is 'n nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie luister nie en die tugtiging nie aanneem nie; die waarheid het verlore gegaan en uit hulle mond uitgeroei. Sny jou hare af, o Jerusalem, en gooi dit weg, en hef 'n klaaglied aan op hoogtes; want die HERE het die geslag van sy grimmigheid verwerp en verlaat. Want die kinders van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë, spreek die HERE: hulle het hul gruwels opgestel in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te ontheilig. En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand; wat ek hulle nie beveel het nie, en dit het nie in my hart opgekom nie. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat dit nie meer Tofet genoem sal word nie en ook nie die dal van die seun van Hinnom nie, maar die dal van slagting; want hulle sal in Tofet begrawe word totdat daar geen plek is nie. En die lyke van hierdie volk sal voedsel wees vir die voëls van die hemel en vir die diere van die aarde; en niemand sal hulle verskeur nie. Dan sal Ek uit die stede van Juda en uit die strate van Jerusalem die stem van vreugde en die stem van blydskap, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid laat ophou, want die land sal 'n wildernis wees.
JEREMIA 7:16-34 Die Boodskap (DB)
Die Here sê: “Moenie meer vir Juda bid nie, Jeremia. Moet ook nie by My kom huil of vir hulle bid nie. Dit sal ook nie help dat jy namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie. Kan jy nie sien wat hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie? Dit maak My woedend! Die kinders maak hout bymekaar. Die pa’s is besig om vuur te maak. Die vroue knie deeg en bak koeke vir die afgod wat hulle die koningin van die hemel noem. Vir hulle ander afgode bring hulle drank om hulle te plesier. Ek wil vra: Wat dink hulle, dat Ek nou eintlik die een is wat gaan seerkry? Nee, hulle trek aan die kortste end. Hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.” Daarom sê die Here wat die meeste mag van almal het: “Ek sal hierdie land my woede en my straf laat voel. My woede is soos ’n vuur wat nie doodgemaak kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste op die land verteer.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Gaan aan, bring nog meer offers wat verbrand word saam met julle ander offers. Ja, en eet self die vleis. Toe Ek julle voorouers uit Egipte gelei het, was dit nie allerhande offers wat Ek van hulle verwag het nie. Wat Ek van hulle verwag het, was bloot die volgende: Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan. Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie kop gevolg en verkeerd gedoen. Op die ou einde het dit net al hoe slegter met hulle gegaan. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek gereeld boodskappers wat in my diens is, na hulle gestuur. Maar my volk wou nie na My luister nie. Hulle het hulle glad nie aan My gesteur nie. Hulle het net meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer. Sê vir hulle: Julle is die volk wat nie na die Here julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Hulle ken nie meer iets soos waarheid nie. Dit is nie iets wat oor hulle lippe kom nie. Mense van Jerusalem, sny julle hare af en gooi dit weg. Sing ’n treurlied op die kaal heuwels. Die Here het julle verwerp. Hy sal julle in die steek laat, want julle het Hom baie kwaad gemaak.” Die Here sê: “Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen waarvan Ek net mooi niks hou nie. Hulle het beelde van afgode in my tempel gesit. Deur dit te doen het hulle gemaak dat die tempel nie meer ’n spesiale plek vir die Here was nie. Hulle het ’n heidense offerplek gebou en dit Tofet genoem. Hulle het dit in die Hinnomlaagte gedoen. Daar het hulle hulle seuns en dogters met vuur verbrand. Ek het nooit opdrag gegee dat hulle sulke afgryslike goed moet doen nie. Dit is nie eens iets waaraan Ek sou dink nie. Daarom sê die Here: Pas op, die tyd kom dat hierdie plek nie meer Tofet of die Hinnomlaagte genoem sal word nie, maar Moorddal. Hulle sal so baie mense in Tofet begrawe dat daar nie plek vir al die grafte sal wees nie. Die lyke van my mense sal kos wees vir die aasvoëls en die wilde diere. Niemand sal eens oor wees om hulle te verwilder nie. Ek sal die vrolike sang en die lekker gelag van die mense in die strate van Jerusalem stil maak. Selfs in die stede van Juda sal ’n mens nie meer die opgewonde stemme van bruidegomme en bruide hoor nie. Die land sal ’n verlate plek van bouvalle wees.”
JEREMIA 7:16-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Jeremia, moenie meer vir Juda bid nie. Moenie oor hulle huil of vir hulle bid nie. Moet ook nie namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie. Sien jy nie wat hulle in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie? Geen wonder Ek is woedend nie! Die kinders maak hout bymekaar en die pa’s maak die vuur. Die vroue knie deeg en hulle bak koekies om aan die koningin van die hemel te offer en hulle bring drankoffers vir ander afgode! En dit alles net om my eer te krenk.” Die HERE vra: “Is dit vir My wat hulle seermaak? Nee, hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.” Daarom sê die oppermagtige HERE: “Ek sal my woede en my straf oor hierdie land uitgiet. My woede is soos ’n vuur wat nie geblus kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste verteer.” Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Weg met julle brandoffers en ander offers! Eet self die vleis! Toe Ek julle voorouers uit Egipte uitgelei het, het Ek nie brandoffers en ander offers van hulle verwag nie. Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.’ “Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie idees gevolg en verkeerd gedoen sodat hulle agteruitgegaan het in plaas van vorentoe. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe het Ek aangehou om profete na hulle te stuur, dagin en daguit. Maar my volk het nie na My geluister nie. Hulle het hulle geensins aan My gesteur nie. Hulle het net nog meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers. “Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer. Sê vir hulle: ‘Julle is die volk wat nie na die HERE julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Julle ken nie meer iets soos waarheid nie en praat dit ook nie. “‘Inwoners van Jerusalem, sny julle hare af soos julle rou en gooi dit weg. Huil van smart op die kaal heuwels. Die HERE het hierdie geslag verwerp, hulle wat sy toorn laat ontbrand het!’” “Die mense van Juda het dinge gedoen wat vir My verkeerd is,” sê die HERE. “Hulle het in my tempel beelde van hulle afgode gesit. Hulle het die tempel onrein gemaak. Hulle het heidense hoogtes in Tofet in die Hinnomlaagte gebou. Daar het hulle hulle seuns en dogters in die vuur geoffer. Ek het hulle nooit opdrag gegee om sulke afgryslike dinge te doen nie. Dit is nie eers iets waaraan Ek ooit sou dink nie!” Daarom sê die HERE: “Pas op, die tyd kom dat hulle hierdie plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal so baie mense in Tofet begrawe dat daar nie meer plek vir al die grafte sal wees nie. Die lyke van my mense sal kos vir die aasvoëls en die wilde diere wees, en niemand sal oorleef om hulle te verwilder nie. Ek sal die vrolike sang en gelag van die mense in die strate van Jerusalem stilmaak. Selfs in die dorpe van Juda sal ’n mens nie meer die opgewonde stemme van bruidegomme en bruide hoor nie. Die land sal ’n verlate plek van bouvalle wees.”