Jeremia 7

7
Vals vertroue op die tempel
1 Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“Gaan staan by die poort van die huis van die Here. Roep hierdie woorde daar uit en sê, ‘Hoor die woord van die Here, die hele Juda wat by hierdie poorte ingaan om voor die Here in aanbidding te buig! 3 So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Laat julle doen en late goed wees, sodat Ek julle in hierdie plek kan laat bly! 4 Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here is dit!’ nie. 5As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, 6 •vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, 7 dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd. 8Kyk, julle bly julle vertroue stel op bedrieglike woorde wat niks baat nie.
9“ ‘ “ Sal julle steel, moord pleeg, egbreuk pleeg, vals sweer, vir Baäl offers verbrand, agter ander gode aanloop vir wie julle nie ken nie, 10en dan inkom en in my teenwoordigheid kom staan in hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, en dan nog sê, ‘Ons is gered!’ sodat julle met hierdie afstootlike dinge kan voortgaan? 11 Het hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, 'n grot van struikrowers geword in julle oë? Ook Ek, kyk, Ek het dit gesien,” ’ is die uitspraak van die Here.
12“ ‘ “ Ja, gaan gerus na my plek wat in Silo was, waar Ek vroeër my Naam laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk, Israel. 13Nou, omdat julle al hierdie dinge gedoen het,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “en Ek aanhoudend met julle gepraat het, maar julle nie geluister het nie, Ek julle geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, 14sal Ek met hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, die plek wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, doen wat Ek met Silo gedoen het. 15 Ek sal julle wegwerp uit my teenwoordigheid, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, weggewerp het.” ’ ”
16“ En jy, jy moenie vir hierdie volk bid nie; moenie vir hulle 'n klaagroep, 'n gebed opstuur nie, en moenie by My pleit nie. Want Ek sal glad nie na jou luister nie. 17Sien jy nie wat doen hulle in die dorpe van Juda en op die strate van Jerusalem nie? 18 Die kinders maak hout bymekaar, en die pa's steek die vuur aan. Die vroue knie deeg om offerkoeke gereed te kry vir die koningin van die hemel, en hulle giet drankoffers uit vir ander gode, net om My te tart. 19 Tart hulle My?” is die uitspraak van die Here. “Tart hulle nie hulleself nie, sodat hulle beskaamd sal staan? 20 Daarom,” so sê die Heer, die Here, “Kyk, my toorn en my woede sal uitbars teen hierdie plek, oor mens en dier, oor die bome van die veld en oor die opbrengs van die landerye. Dit sal brand en nie geblus word nie.”
21 “ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Julle •brandoffers, voeg dit by julle •maaltydoffers en eet vleis! 22 Ja, Ek het nie, op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, met julle voorouers soseer gepraat of opdrag gegee oor brandoffers of maaltydoffers nie, 23 maar eintlik hierdie saak aan hulle opgedra, ‘Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees! Loop die hele pad wat Ek julle beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.’ 24 Maar hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle het voortgegaan met hulle eie planne, in die verstoktheid van hulle bose harte. Hulle het agteruit gegaan en nie vooruit nie. 25 Vanaf die dag dat julle voorouers uit Egipteland getrek het tot vandag toe, het Ek aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur – dag vir dag. 26 Maar hierdie volk het nie na My geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig en het hulle nog slegter gedra as hulle voorouers. 27Jy moet al hierdie woorde vir hulle sê, maar hulle sal nie na jou luister nie; jy moet hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. 28Dan moet jy vir hulle sê, ‘Dit is die nasie wat nie na die stem van die Here hulle God luister nie en teregwysing nie aanvaar nie. Betroubaarheid het verdwyn, dit is uitgewis uit hulle monde. ’ ” ’ ”
29 Sny jou lang hare af, Jerusalem,
en gooi dit weg!
Hef op die woestynpaaie 'n klaaglied aan.
Want die Here het verwerp,
Hy het die geslag wat sy gramskap
opwek, prysgegee.
30“Ja, die nageslag van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë,” is die uitspraak van die Here. “Hulle het hulle verfoeilike afgode geplaas in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig. 31 Hulle het die offerhoogtes van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om hulle seuns en dogters met vuur te verbrand – iets wat Ek nie beveel het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. 32 Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer daar nie meer gesê sal word ‘Tofet’ en ‘Ben-Hinnomdal’ nie, maar ‘Moorddal’. Hulle sal in Tofet mense begrawe vanweë 'n gebrek aan plek. 33 Die lyke van hierdie volk sal kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde, en niemand sal hulle verwilder nie. 34 Ek sal in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem die geluid van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid uitdoof, want die land sal 'n puinhoop word.

Tans Gekies:

Jeremia 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid