JEREMIA 35:2-10

JEREMIA 35:2-10 NLV

“Gaan na die plek waar die Rekabiete bly. Nooi hulle om saam met jou na die tempel van die HERE te kom. Vat hulle na een van die vertrekke binne-in die tempel en bied vir hulle wyn aan om te drink.” Ek het toe vir Jaäsanja seun van Jeremia en kleinseun van Gabassinja gaan haal, en ook al sy broers en seuns en al die Rekabietefamilies. Ek het hulle na die tempel van die HERE toe gebring. Ons het toe na ’n vertrek gegaan wat aan die seuns van Ganan seun van Jigdalja behoort het. Hy was bekend as ’n man van God. Hierdie kamer was langs die een wat die amptenare in die paleis gebruik het en reg bokant die kamer wat Maäseja seun van Sallum gebruik het. Maäseja was in beheer van die tempel se ingange. Ek het bekers met wyn en glase voor die Rekabiete neergesit. Toe nooi ek hulle om van die wyn te drink. Maar hulle het geantwoord: “Nee, ons drink nie wyn nie. Jonadab seun van Rekab is ons voorvader. Hy het ons opdrag gegee: ‘Nie julle of julle nageslag mag ooit wyn drink nie. Julle mag ook nie huise bou of graan of wingerde plant nie. Julle moet altyd in tente bly. As julle hierdie voorskrifte volg, sal julle lank in die land bly waar julle soos bywoners leef.’ Ons was nog altyd gehoorsaam aan die opdrag van Jonadab seun van Rekab, ons vader. Ons het niks gedoen wat hy ons beveel het om nie te doen nie. Ons het nog nooit wyn gedrink nie, nie ons of ons vroue, seuns of dogters nie. Ons het ook nie huise gebou nie en ons besit geen wingerde, landerye of graan nie. Ons bly in tente en gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab, ons voorouer, vir ons gegee het.