JAKOBUS 2:1-9

JAKOBUS 2:1-9 NLV

My broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer? Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet. As julle dan ’n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom: “U moet asseblief hier gemaklik kom sit,” maar vir die arm man sê julle: “Jy kan maar daar anderkant gaan sit,” of: “Kom sit hier op die vloer,” sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie? Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie? Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders.

Video for JAKOBUS 2:1-9

Gratis leesplanne en oordenkings oor JAKOBUS 2:1-9