JESAJA 62:6-12

JESAJA 62:6-12 NLV

Ek het wagte op jou mure gesit, Jerusalem. Hulle sal dag en nag bid. Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes, moenie rus nie. Moenie die HERE met rus laat nie, totdat Hy Jerusalem herstel het, en die hele wêreld die stad se lof besing. Die HERE het vir Jerusalem gesweer by sy eie mag: “Ek sal nooit weer jou koring as kos vir jou vyande gee nie. Nooit weer sal vreemde soldate die wyn drink waarvoor jy hard gewerk het nie. Dié wat die koring oes, sal dit ook eet en die HERE loof. Dié wat druiwe pluk, sal self die wyn drink in die voorhof van my heiligdom.” Gaan uit, gaan uit deur die poorte, maak die grootpad gereed vir my volk wat terugkom! Maak die pad reg! Bou dit op! Bou die grootpad! Rol weg die klippe! Steek ’n vaandel in die lug sodat al die volke dit kan sien! Die HERE maak ’n aankondiging oor die hele aarde: “Sê vir Sion: Jou Redder kom! Kyk, sy beloning is by Hom.” Hulle sal genoem word: “Die heilige volk, die volk wat deur die HERE gered is.” Jerusalem, jy sal genoem word: “Die begeerlike stad, die stad wat nie meer verlate is nie.”