JESAJA 53:4-12

JESAJA 53:4-12 NLV

Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister. Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word. Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape. Ons het ons eie pad gevolg. En toe het die HERE ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom. Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie. Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word. Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook hý sy mond nie oopgemaak nie. Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood. Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle sondes doodgemaak word? Dat hy eintlik in húlle plek gestraf word? Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie. Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê. Maar dit was die HERE se wil om hom te vermorsel en te laat ly. Al het die HERE sy lewe ’n skuldoffer gemaak, sal hy ’n groot nageslag kry en nog lank lewe. Die HERE se plan sal as gevolg van Hom ontvou. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en tevrede wees. En deur alles wat hy beleef het, sal my regverdige dienaar dit moontlik maak vir baie om ook regverdig te word, want hy dra al hulle sondes. Daarom eer Ek hom as iemand wat groot en magtig is. Want hy was bereid om doodgemaak te word en as misdadiger beskou te word. Hy het die sondes van baie gedra, en vir sondaars gebid.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid