JESAJA 53:4-12

JESAJA 53:4-12 Die Boodskap (DB)

Hy het al die siektes gehad wat ons eintlik moes gehad het. Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar het. Maar ons het gedink dit is God wat hom vir sy eie oortreding straf. Hy is gewond as gevolg van ons opstand teen God. Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer gesond kon word. Ons almal was soos skape wat verdwaal het. Elkeen het sy eie koers gekies. Maar die Here het al ons sonde op hom laat neerkom. Hy is sleg behandel. Tog het hy nie ’n woord gesê nie. Hy was so mak soos ’n lammetjie wat weggevat word om geslag te word. Hy was so stil soos ’n skaap wat geskeer word. Hy is gevonnis en uit die tronk weggevat om tereggestel te word. Wie het daaroor gedink dat hy doodgemaak kan word, dat hy ter wille van sy volk tereggestel kan word? Hy is by misdadigers begrawe. Sy graf is tussen sondaars, al het hy hom nooit aan geweld skuldig gemaak nie, selfs nie eens leuens verkoop nie. Die Here wou gehad het dat hy in ons plek geslaan moes word en in ons plek seerkry. Omdat hy homself aangebied het om ander se straf te dra, sal daar vir hom ’n nageslag wees. Sy naam sal nog lank bly lewe. Hy het gedoen wat die Here gedoen wou hê. Nadat hy so swaargekry het, sal hy sien wat daarvan gekom het. Hy sal tevrede wees met wat hy gedoen het. My dienaar was aan My gehoorsaam. Hy sal baie ander ook gehoorsaam aan My maak. Hy sal die straf op hulle sonde wegvat. Ek sal vir hom ’n plek gee tussen die belangrikes. Hy sal deel hê aan hulle eer. Hy was bereid om sy lewe op te offer. Hy het hom gewillig saam met die misdadigers laat tel. Hy was bereid om in te staan vir baie mense se sondes. Hy het vir die oortreders gepleit.

JESAJA 53:4-12 Bybel vir almal (ABA)

Maar hy was siek sodat ons gesond kan wees, hy het swaargekry sodat ons nie sal swaarkry nie. En ons het gedink dit is God wat hom straf en wat hom slaan en verneder. Ja, dit is óns wat opstandig was, maar hulle het hóm met 'n spies gesteek. Dit is óns wat verkeerd gedoen het, maar hulle het hóm stukkend geslaan. Hy het die straf gekry sodat dit goed kan gaan met óns, hy het seergekry sodat óns gesond kan wees. Ons almal het soos skape en bokke rondgeloop, elkeen het geloop waar hy wou loop. Ons almal het verkeerd gedoen, maar die Here het daardie man gestraf. Die mense het hom verdruk en seergemaak, maar hy het niks gesê nie. Hy was soos 'n skaap wanneer iemand hom wil slag of wanneer iemand sy wol afskeer, hy het stilgebly en niks gesê nie. Hy was 'n gevangene, hulle het gesê hy is skuldig. Was iemand bekommerd oor hoe dit met hom sal gaan? Nee, niemand nie. Hulle het hom afgesny van die mense wat lewe, hulle het hom laat swaarkry omdat sy volk opstandig was. Hulle het vir hom 'n graf gereedgemaak by skuldige mense, en toe hy sterf, het hulle hom begrawe by mense wat ander mense se goed gevat het en ryk geword het. Maar hy het niemand seergemaak nie en hy het niemand bedrieg nie. Die Here het besluit dat die dienaar moet seerkry en siek word. Die Here het gesê hy is 'n skuld-offer. Daarom sal hy lank lewe en 'n nageslag hê. Die Here sal sy dienaar gebruik om te doen wat die Here wil doen.” Die Here sê: “My dienaar het baie swaar gekry, maar hy sal lewe en tevrede wees dat hy My ken. My dienaar is nie skuldig nie, hy is regverdig, en hy sal belangrike mense regverdig maak, want hy sal die straf kry vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Daarom sal Ek vir hom 'n plek gee by die belangrike mense. Hy sal saam met die leiers besluit hoeveel goed elkeen moet kry ná die oorlog. Ek sal dit doen omdat hy tevrede was om te sterf toe almal gedink het dat hy een van die opstandige mense is. Hy het die straf gekry vir die sonde van die belangrike mense, en hy het gebid vir die mense wat opstandig was.”

JESAJA 53:4-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom 'n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.

JESAJA 53:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk. Hy het 'n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie. Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.

JESAJA 53:4-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die HERE het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom. Hy is mishandel, maar hy het hom daaraan onderwerp en nie sy mond oopgemaak nie – soos 'n skaap wat ter slagting gebring word, soos 'n ooi wat voor haar skeerders stom is. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Ná onderdrukking en 'n vonnis is hy weggeneem; en sy lot, wie dink daaroor na? Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes; vanweë die oortreding van sy volk het die slae hom getref. Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by 'n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie. Maar die HERE het verkies om hom te verbrysel; Hy het hom siek gemaak. As sy lewe dien as 'n skuldoffer, sal hy 'n nageslag sien en lank leef. Wat die HERE wil hê, sal deur sy hand suksesvol wees. Ná die swaarkry wat hy beleef het, sal hy sien; hy sal versadig wees aan sy kennis. “My dienskneg sal hom as 'n regverdige betoon aan baie, en hulle sondeskuld – hy sal dit op hom laai. Daarom sal Ek aan hom 'n deel gee onder baie; en met magtiges sal hy buit verdeel, omdat hy sy lewe blootgestel het aan die dood, en by oortreders gereken is. Hy het egter die sonde van baie gedra; vir oortreders het hy ingetree.

JESAJA 53:4-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Waarlik, Hy het óns smarte gedra en óns smarte gedra, maar ons het Hom geag as geslaan, deur God geslaan en verdruk. Maar hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is hy verbrysel; die tugtiging van ons vrede was op hom; en deur sy wonde het ons genees. Al ons soos skape het gedwaal; ons het elkeen sy eie pad gedraai; en die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is verdruk, en hy was ellendig, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam word hy na die slag gebring, en soos 'n skaap stom is voor sy skeerders, so maak hy sy mond nie oop nie. Hy is weggeneem uit die gevangenis en uit die oordeel; en wie sal sy geslag aankondig? want hy is uitgeroei uit die land van die lewendes; oor die oortreding van my volk is hy getref. En hy het sy graf by die goddelose gemaak en by die rykes in sy dood; omdat hy geen geweld gedoen het nie, en geen bedrog in sy mond was nie. Maar dit het die HERE behaag om hom te verbrysel; hy het hom bedroef; as jy sy siel 'n sondeoffer bring, sal hy sy nageslag sien, hy sal sy dae verleng, en die welbehae van die HERE sal voorspoedig wees in sy hand. Hy sal die moeitevolle arbeid van sy siel sien en versadig word; deur sy kennis sal my regverdige kneg baie regverdig maak; want Hy sal hulle ongeregtighede dra. Daarom sal Ek hom 'n deel verdeel met die grotes, en hy sal die buit verdeel met die sterkes; omdat Hy sy siel in die dood uitgestort het, en Hy is saam met die oortreders getel; en hy het die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid.

JESAJA 53:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister. Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word. Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape. Ons het ons eie pad gevolg. En toe het die HERE ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom. Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie. Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word. Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook hý sy mond nie oopgemaak nie. Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood. Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle sondes doodgemaak word? Dat hy eintlik in húlle plek gestraf word? Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie. Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê. Maar dit was die HERE se wil om hom te vermorsel en te laat ly. Al het die HERE sy lewe ’n skuldoffer gemaak, sal hy ’n groot nageslag kry en nog lank lewe. Die HERE se plan sal as gevolg van Hom ontvou. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en tevrede wees. En deur alles wat hy beleef het, sal my regverdige dienaar dit moontlik maak vir baie om ook regverdig te word, want hy dra al hulle sondes. Daarom eer Ek hom as iemand wat groot en magtig is. Want hy was bereid om doodgemaak te word en as misdadiger beskou te word. Hy het die sondes van baie gedra, en vir sondaars gebid.

JESAJA 53:4-12

JESAJA 53:4-12 AFR83JESAJA 53:4-12 AFR83JESAJA 53:4-12 AFR83JESAJA 53:4-12 AFR83JESAJA 53:4-12 AFR83JESAJA 53:4-12 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid