JESAJA 44:1-20

JESAJA 44:1-20 NLV

“Maar luister nou mooi, my dienaar Jakob, Israel wat Ek gekies het. Dit is wat die HERE sê, Hy wat jou gemaak het, wat jou gevorm het in jou moeder se skoot, en jou steeds help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek gekies het. Want Ek sal jou water gee, genoeg om jou dors te les en jou droë lande nat te lei. Ek sal my Gees op jou kinders uitstort, en my seëninge op jou nageslag. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs strome water. Party sal trots sê: ‘Ek behoort aan die HERE.’ Ander sal sê: ‘Ek is ’n afstammeling van Jakob.’ Sommige sal die HERE se Naam op hulle hande skryf en die naam van Israel aanneem.” So sê die HERE, Israel se Koning en Verlosser, die HERE, die Almagtige: “Ek is die Eerste en die Laaste. Daar is geen ander God nie. Wie is daar wat kan vertel wat in die toekoms gaan gebeur? Laat hulle dit verklaar. Laat hulle verduidelik wat gebeur het vandat Ek my volk gevestig het. En laat hulle verduidelik wat nog gaan gebeur. Moenie bewe nie, moenie bang wees nie! Het Ek nie lankal gesê wat my doel met julle is nie? Julle is my getuies. Is daar enige ander God? Nee, daar is geen ander Rots nie. Ek weet van geeneen nie.” Mense wat beelde van hulle gode vervaardig, is niks! En die duur beelde wat hulle maak, is niks! Hulle is getuies dat dit so is, want hulle beelde sien niks en weet niks. Geen wonder mense wat gode aanbid, kom in die skande nie! Wie anders as ’n dwaas maak sy eie god, ’n afgod wat met net mooi niks kan help? Almal wat so ’n god vereer, kom in die skande. Die mense wat die gode maak, dink hulle maak ’n god. Hulle sal almal saam verleë staan en ontsteld en skaam wees. Die ystersmid vat gereedskap en werk daarmee in die kole. Hy vorm ’n beeld met hamers en smee ’n beeld met die krag van sy arm. Hy word honger en sy krag word minder. Hy drink nie water nie en word uitgeput. Die timmerman wat hout gebruik, meet met ’n maatlyn en merk die buitelyne van die beeld. Hy gebruik beitels en merk dit met passers. Hy vorm die beeld van ’n mens, ’n pragtige beeld, geskik om in ’n tempel te staan! Die ambagsman kap seders af. Hy kies ’n sipres of eik. Hy laat dit groei tussen die bome in die bos. Of hy plant ’n lourier, en die reën laat dit groei. ’n Deel van die hout gebruik hy om vuur te maak sodat hy warm kan word en sy brood kan bak. Met die ander deel maak hy – kan jy glo? – ’n god wat mense aanbid! Hy maak ’n beeld en buig daarvoor neer. Die helfte van die hout verbrand hy in die vuur. Hierop berei hy sy kos voor, en eet genoeg daarvan. Hy verwarm hom en sê: “Hoe lekker warm kry ek as ek na die vuur kyk!” Dit wat oorbly van die hout gebruik hy vir ’n afgodsbeeld. Hy buig voor dit en aanbid dit. Hy bid tot dit en sê: “Red my tog, want jy is my god!” Kan mense so onnosel wees! Hulle verstaan niks! Dis asof hulle oë en verstand toegepleister is sodat hulle niks kan sien of verstaan nie. Die mens wat die afgode gemaak het, gaan sit nie en dink ’n bietjie na nie: “Die helfte van die hout het ek verbrand. Op die kole het ek brood gebak, ek het vleis gebraai en geëet. Hoe kan die res daarvan ’n god wees? Moet ek dan voor ’n stuk hout neerbuig en dit aanbid?” So ’n persoon bou sy lewe op as. Hy laat hom verlei en kan homself nie red nie. En tog kom hy nie sover om te besef nie: “Wat ek in my hand vashou, is niks anders nie as ’n leuen!”