JESAJA 44:1-20

JESAJA 44:1-20 Die Boodskap (DB)

Jakob behoort aan My. Ek het Israel gekies om Myne te wees. Luister na wat Ek vir jou sê, Jakob-Israel. Die Here het jou gemaak. Hy het jou nog altyd gehelp vandat Hy jou in die lewe gebring het. Hy sê vir jou: Jy moenie bang wees nie, Jakob. My liewe Jesurun wat Ek gekies het om aan My te behoort, jy hoef nie te vrees nie. Ek sal water gee in die plekke waar dit baie droog is. Daar sal waterstrome loop waar die grond uitgedroog is. Ek sal my Gees in jou kinders laat kom. Ek sal krag gee vir jou nageslag. Hulle sal wees soos gras wat uitloop, soos wilgerbome wat langs die water staan. Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here.” Die ander sal sê: “Ek is ’n afstammeling van Jakob.” Nog ’n ander een sal op sy hand skryf: “Die Here s’n.” En ’n ander een sal homself ’n Israeliet noem. Die Here is Israel se koning. Die Here wat die hemelse leërmag aanvoer, sal Israel bevry. Hy sê: Ek is God van ewigheid af tot in ewigheid. Daar is nie ’n ander God behalwe Ek nie. As iemand dink dat hy soos Ek is, moet hy dit sê. Hy moet dit kom bewys. Hy moet kom sê wat in die verlede met my volk gebeur het. Hy moet ook sê wat nog alles met hulle gaan gebeur. Moenie skrik nie. Hou op om bang te wees. Ek het mos lankal al vir julle gesê wat gaan gebeur. Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander god behalwe Ek nie. Ek weet van niemand anders op wie julle kan vertrou nie. Dié wat afgodsbeelde maak, is niks werd nie. Hulle gunstelinggode bring vir hulle geen voordeel nie. Dié wat hulle gode verdedig, is blind en onnosel. Hulle gaan nog baie skaam kry. Wie is dan so dom om ’n afgodsbeeld te maak wat vir jou niks bring nie? Elkeen wat afgodsbeelde maak, gaan maar sleg daarvan afkom. Dit is goed wat deur mense gemaak is. As hulle bymekaarkom en voor die beelde kom staan, gaan hulle geskok wees en skaam kry vir wat hulle doen. Die smid werk met sy gereedskap en bewerk die yster in die vuur. Hy vorm die beeld met sy hamer op die aambeeld. Met sy gespierde arm slaan hy dit in die vorm wat hy dit wil hê. Maar hy is ook maar net ’n mens. Hy word ook maar honger en moeg. As hy nie water drink nie, raak hy ook maar uitgeput. Die kunstenaar wat met hout werk, meet ’n stuk hout af en merk die buitelyne daarop uit met ’n potlood en ’n passer. Hy gebruik sy beitel en kerf uit die hout iets wat soos ’n mens lyk. Dit word ’n pragtige beeld wat lyk soos ’n mens wat in ’n huis woon. Die hout wat hy gebruik, kom van ’n sederboom wat hy afgekap het. Hy kon ook ’n sipresboom of eikeboom gevat het. Hy laat vir hom bome in die bos grootword. Hy plant hulle en wag dat die reën hulle grootmaak. Wanneer hy dit afkap, gebruik die mens die hout om vuur te maak. Hy maak homself daarmee warm, of hy gebruik dit vir die vuur waarmee hy brood bak. Maar hy gebruik van dieselfde hout om vir hom ’n god te maak waarvoor hy buig. Hy maak daarvan ’n afgodsbeeld en dan gaan buig hy in aanbidding voor die beeld. Met die een helfte maak hy vuur. Hy braai vleis daarop en eet tot hy versadig is. Hy sit by die vuur om homself warm te maak. Hy sê ewe tevrede: “Ai, ek kry nou lekker warm. Dis lekker hier by die vuur.” Van die hout wat nog oor is, gaan maak hy dan vir hom ’n afgodsbeeld. Hy buig voor die beeld neer en aanbid dit. Hy bid tot die beeld en hy sê: “Jy is my god. Jy moet my red!” Hulle verstaan glad nie wat hulle besig is om te doen nie. Hulle oë is bottoe. Hulle sien en verstaan glad nie wat besig is om met hulle te gebeur nie. Dit kom nie eens by hulle op om ’n oomblik na te dink en vir hulleself te sê nie: “Ek het dan met die een helfte vuur gemaak om brood te bak en vleis gaar te maak, hoe kan ek nou die ander helfte gebruik om ’n afgod van te maak? Ek bid mos nou tot ’n stuk hout!” Iemand wat hom ophou met hout wat verbrand het, kan nie meer mooi dink nie. Hy kan nie meer op ’n afstand gaan staan en vir homself vra: “Is ek nie besig om myself te bedrieg as ek so maak nie?”

JESAJA 44:1-20 Bybel vir almal (ABA)

“Maar nou moet julle luister, nageslag van Jakob, my dienaars, Israeliete, Ek het julle gekies.” Dit is die Here wat praat, Hy wat vir julle gemaak het, wat vir julle liggame gegee het voordat julle gebore is, dit is Hy wat vir julle help. Die Here sê: “Nageslag van Jakob, my dienaars, nageslag van Jesurun, Ek het julle gekies, julle moenie bang wees nie, want Ek sal dit laat reën op die droë grond, daar sal strome water vloei. Ek sal my Gees na julle nageslag toe stuur en Ek sal hulle seën. Hulle sal gebore word en groei soos die gras en soos die populierbome langs die riviere. Hulle sal sê: ‘Ons behoort aan die Here,’ en hulle sal dit op hulle hande skryf. Hulle sal hulleself noem ‘die nageslag van Jakob, die volk Israel.’ ” Dit is die Here wat praat, die Koning van Israel wat hulle vrymaak, die Here wat oor alles regeer. Hy sê: “Ek was altyd God en Ek sal altyd God wees, daar is nie 'n ander God nie. Wie is soos Ek? As daar 'n ander God is, dan moet hy praat. Hy moet vir My sê wat het gebeur vandat Ek lank gelede my volk gemaak het, en Hy moet sê wat nog sal gebeur. Julle moenie skrik nie, julle moenie bang wees nie, Ek het dit lank gelede vir julle gesê, en julle weet Ek is God. Is daar 'n ander God? Nee, daar is nie een nie, nie een wat kan doen wat hy sê nie. Ek weet daar is nie 'n ander God nie.” “Al die mense wat beelde maak, is self niks. Hulle is lief vir die beelde, maar die beelde beteken niks. Hulle sê die beelde is gode, maar hulle sal teleurgesteld wees, want die beelde kan nie sien nie en hulle weet niks. Wie maak 'n god, 'n beeld wat niks beteken nie? Wie is so dom? Almal wat so 'n god aanbid, sal teleurgesteld wees. Dit is mense wat die god gemaak het, en dan kom hulle bymekaar en wag dat die god iets moet sê, maar hulle hoor niks en hulle is teleurgesteld. Die man wat met yster kan werk, maak die yster warm in die vuur en hy slaan die yster met 'n hamer en hy maak 'n beeld met sy sterk hande. Hy word ook honger en moeg en baie dors. Die man wat met hout kan werk, meet die hout en hy teken die beeld. Hy kap en meet totdat die beeld soos 'n mens lyk, 'n mooi mens, en dan sit hy die beeld in 'n tempel. Die man kap 'n sederboom af, of hy kies 'n ander boom en hy wag totdat die boom groot word tussen die ander bome in die bos, of hy plant 'n boom, en die boom word groot as dit reën. Hy maak vuur met die hout en hy maak hom warm, maar hy bak ook brood en hy maak 'n god en hy buig voor die god. Hy maak vuur met party van die hout, en dan braai hy vleis en eet totdat hy genoeg geëet het. Hy maak hom warm en hy sê: ‘Ek het lekker warm geword, die vuur het lig gemaak, en ek kon sien.’ Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god. Hy buig voor die beeld en hy bid tot die beeld en sê: ‘Red my, want jy is my god.’ Mense wat dit doen, is baie dom. Hulle oë is toe en hulle weet nie wat hulle doen nie. Hulle is baie dom, hulle het nie gedink dat hulle vuur gemaak het met party van die hout en brood gebak het op die kole en vleis gebraai en geëet het, en dat hulle 'n afgod gemaak het van die hout wat oorgebly het, en dat hulle nou buig voor 'n droë stuk hout nie. Iemand wat dit doen, kul homself, hy kan homself nie red nie. Hy besef nie dat die god wat hy van hout gemaak het, kan verbrand nie, dit beteken niks.

JESAJA 44:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het! So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het! Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope. Die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en die ander sal die naam van Jakob uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE, en hom met die erenaam Israel noem. SO sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie. En wie roep soos Ek — laat hom dit dan te kenne gee en aan My voorlê — vandat Ek die volk van die ou tyd gegrond het? En laat hulle die toekomstige dinge en wat sal gebeur, te kenne gee. Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar 'n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie. Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge bring geen voordeel nie; en hulle getuies — dié sien niks en weet niks, sodat hulle beskaamd staan. Wie maak 'n god en giet 'n beeld wat geen voordeel aanbring nie? Kyk, al sy aanhangers sal beskaamd staan; en die ambagsmanne is uit die mense! Laat hulle almal bymekaarkom, gaan staan, verskrik wees, tesame beskaamd staan! Die ystersmid het 'n byl en werk in die gloed; en hy maak hom met hamers en bewerk hom met sy sterk arm; daarby word hy honger en het geen krag nie; drink hy geen water nie, dan word hy moeg. Die timmerman span 'n lyn; hy trek hom af met 'n potlood; hy bewerk hom met skawe en teken hom met 'n passer en maak hom na die beeltenis van 'n man, na die skoonheid van 'n mens, om in 'n huis te woon. Een gaan sederbome afkap, en hy neem 'n steeneik of 'n eikeboom en laat een vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het 'n pynboom geplant, en die reën het dit grootgemaak. Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar 'n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar 'n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer. Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien! En van wat oor is, maak hy 'n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god! Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie; en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan 'n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor 'n stuk hout? Hy wat hom besig hou met as, 'n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?

JESAJA 44:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar luister nou, my dienaar Jakob, Israel wat Ek uitverkies het: So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek uitverkies het. Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope. Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here,” en homself 'n nakomeling van Jakob noem; die ander sal op sy hand skryf: Die Here S'n en homself 'n lid van die volk Israel noem. So sê die Here, die Koning van Israel, sy Verlosser, die Here die Almagtige: Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie. Wie soos Ek is, laat hom dit sê, laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê; laat hom 'n verklaring gee van wat gebeur het vandat Ek my volk lank gelede gemaak het en ook van wat sal gebeur; laat hy vertel van die dinge wat kom. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie! Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig, dit vir julle gesê nie? Julle is my getuies: is daar 'n God buiten My? Daar is geen ander Rots nie; Ek weet van geeneen nie. Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks; die dierbare gode van hulle kan nie help nie. Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie, kan nie verstaan nie; dié wat sulke gode het, word teleurgestel. Wie maak nou 'n god, giet 'n beeld wat nie kan help nie! Almal wat so 'n god aanhang, word teleurgestel: dit is gode wat deur mense gemaak is. Wanneer dié wat hulle aanhang, bymekaarkom vir 'n beslissing, staan hulle verbyster en verleë. Die ystersmid vat 'n stuk gereedskap en werskaf in die gloeiende kole. Met hamers vorm hy die beeld, met sy gespierde arm maak hy die beeld: die smid eet nie en word swak, hy drink nie water nie en raak uitgeput. Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn en merk die beeld se buitelyne af. Hy bewerk hom met beitels en trek sy mate met 'n passer af. Hy maak hom in die vorm van 'n mens, 'n pragtige mens wat in 'n huis moet woon. Die ambagsman kap vir hom seders af, of hy kies sipresse of eike en laat hulle groot word in die bos, of hy plant 'n lourierboom, en die reën laat dit groot word. Dit dien as vuurmaakhout vir die mens; iemand vat daarvan en maak hom warm, of hy maak 'n vuur om brood te bak, of hy maak 'n god en aanbid dit, hy maak 'n beeld en buig daarvoor. 'n Deel van die hout verbrand hy: hy maak kos daarmee gaar, hy braai vleis en eet tot hy genoeg het; hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker! Ek is warm, ek geniet die vuur!” Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god, 'n beeld, hy buig voor hom en aanbid hom, hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!” Sulke mense weet nie wat hulle doen nie, hulle het nie insig nie, hulle oë is toegepleister, hulle sien nie, niks dring tot hulle verstand deur nie. Hulle kom nie tot besinning nie, hulle het te min kennis en verstand om te sê: “'n Gedeelte van die hout het ek verbrand, ek het op die kole kos gaar gemaak, ek het vleis gebraai en geëet, en moet ek nou van wat oor is 'n afskuwelike afgod maak, moet ek voor 'n stuk hout buig?” Iemand wat hom met as besig hou, laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings. Hy kan homself nie red nie, hy vra homself nie af: “Is dit nie 'n leuen waarmee ek my besig hou nie?”

JESAJA 44:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Maar luister nou, Jakob, my dienaar, Israel, wat Ek uitgekies het.” So sê die HERE, wat jou gemaak, jou in die moederskoot al gevorm het, wat jou help: “Moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob, ja, Jesurun, wat Ek uitgekies het. Want Ek sal water uitgiet op dorre aarde, waterstrome op droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou nageslag, en my seën op jou nakomelinge. Hulle sal groei tussen gras, soos rivierwilgers langs waterstrome. Een sal sê, ‘Aan die HERE behoort ek,’ en 'n ander een sal die naam van Jakob uitroep. Nog een sal op sy hand skryf, ‘Die HERE s'n,’ en homself die naam Israel gee.” So sê die HERE, die Koning van Israel, die Een wat hom loskoop, die HERE, Heerser oor alle magte: “Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste. Buiten My is daar geen God nie. Wie is soos Ek? Laat hy dit uitroep! Hy moet die saak stel, dit aan My voorlê, aangesien Ek die oeroue volk gevestig het. Toekomstige gebeure en wat daarna sou volg, moes hulle vir die volk aangekondig het. Julle moet nie ontsteld wees nie, moenie deur vrees verlam word nie. Het Ek jou, Israel, dit nie vantevore laat hoor, dit aangekondig nie? Julle is my getuies: Is daar 'n God buiten My? Daar is nie nog 'n rots nie. Ek weet nie van een nie. “Dié wat gesnede beelde vorm, hulle almal is nietig. Hulle geliefde maaksels baat hulle niks nie. Hulle getuig self oor hulle gode, ‘Hulle sien niks nie en weet niks nie,’ sodat hulle beskaamd staan. Wie vorm 'n god, wie giet 'n afgodsbeeld wat hom niks baat nie? Kyk, al sy aanhangers staan beskaamd; en die vakmanne, hulle is bloot mense. Hulle kom almal byeen, neem hulle plekke in, raak vreesbevange, staan saam beskaamd. Die ystersmid slyp sy gereedskap, en werk met gloeiende kole. Met hamers vorm hy iets en bewerk dit met sy kragtige voorarm. Hy word selfs honger en is sonder krag; hy drink nie water nie en raak uitgeput. Die skrynwerker span 'n maatlyn; hy merk die buitelyne af met 'n griffel. Hy werk aan die hout met kerfmesse, merk in sirkels die buitelyne af. Hy maak dit in die vorm van 'n man, 'n pragstuk van 'n mens, om in 'n huis te woon. Dit was vir hom nodig om seders af te kap; hy het 'n kroonden of 'n eik geneem, hy het dit tussen die bome in die bos laat groei. Of hy het 'n sparboom geplant, en die reën het dit laat groei. Dit is daar vir 'n mens om vuur mee te maak; hy vat daarvan en maak hom warm. Hy kan vuur maak en brood bak daarmee, én 'n god maak en daarvoor buig in aanbidding. Hy maak daarvan 'n afgodsbeeld en kniel daarvoor neer. Die helfte daarvan verbrand hy in 'n vuur; op hierdie helfte is vleis wat hy kan eet; hy braai dit en word versadig. Hy maak hom ook warm en sê, ‘A! Ek word warm; ek sien die gloed van 'n vuur!’ En die res daarvan verwerk hy tot 'n god, tot sy afgodsbeeld. Hy kniel daarvoor neer, buig daarvoor in aanbidding, aanbid dit en sê, ‘Red my, want u is my god!’ “Hulle besef dit nie, hulle het nie insig nie; want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie kan sien nie, hulle harte, sodat hulle nie kan begryp nie. Hulle neem dit nie ter harte nie, en het nie die kennis of insig om te kan dink nie: Die helfte daarvan het ek in die vuur verbrand; ek het ook op die kole daarvan brood gebak en vleis gebraai en dit geëet. En wat daarvan oor is – tot iets afstootliks maak ek dit; voor 'n stuk hout kniel ek neer. “So iemand bemoei hom met as; sy hart is mislei en verlei hom. Hy kan homself nie losruk of vra, ‘Is dit nie dalk 'n stuk bedrog hier in my regterhand nie?’

JESAJA 44:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar luister nou, o my kneg Jakob! en Israel wat Ek uitverkies het: So sê die HERE, wat jou gemaak en jou gevorm het van die moederskoot af, wat jou sal help; Wees nie bevrees nie, o Jakob, my kneg; en jy, Jesurun, wat Ek uitverkies het. Want Ek sal water giet op hom wat dors het, en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou nageslag giet en my seën op jou nageslag. En hulle sal uitspruit soos tussen die gras, soos wilgers by waterstrome. Iemand sal sê: Ek behoort aan die HERE; en 'n ander sal hom by die naam van Jakob noem; en 'n ander moet met sy hand die HERE teken en hom by die naam van Israel noem. So sê die HERE, die Koning van Israel, en sy Losser, die HERE van die leërskare; Ek is die eerste, en ek is die laaste; en buiten my is daar geen God nie. En wie, soos Ek, sal roep, en sal dit verkondig en dit vir My instel, vandat Ek die ou volk aangestel het? en die dinge wat kom en sal kom, laat dit hulle te kenne gee. Wees nie bevrees en bevrees nie; julle is selfs my getuies. Is daar 'n God langs my? ja, daar is geen God nie; Ek ken nie enige nie. Hulle wat 'n gesnede beeld maak, is almal nietigheid; en hulle lieflike dinge sal geen nut wees nie; en hulle is hulle eie getuies; hulle sien nie en weet nie; dat hulle beskaamd kan staan. Wie het 'n god gevorm of 'n gesnede beeld gegiet wat verniet nuttig is? Kyk, al sy maats staan beskaamd, en die arbeiders, hulle is uit mense; laat hulle almal bymekaarkom, laat hulle opstaan; tog sal hulle vrees en saam beskaamd staan. Die smid met die tang bewerk die kole en bewerk dit met hamers en bewerk dit met die krag van sy arms; ja, hy is honger, en sy krag neem op; hy drink geen water nie en is moeg. Die timmerman span sy heerskappy uit; hy bemark dit met 'n lyn; hy pas dit met vlakke aan, en hy bemark dit met die kompas en maak dit na die figuur van 'n mens, volgens die skoonheid van 'n mens; dat dit in die huis kan bly. Hy kap vir hom seders af en neem die sipres en die terpentynboom wat Hy vir hom versterk tussen die bome van die woud; hy plant 'n as, en die reën voed dit. Dan sal dit vir 'n mens wees om te verbrand, want hy sal daarvan neem en hom warm maak; ja, hy steek dit aan en bak brood; ja, hy maak 'n god en aanbid dit; hy maak daarvan 'n gesnede beeld en val daarop neer. Hy verbrand 'n deel daarvan met vuur; met 'n deel daarvan eet hy vleis; hy braai gebraai en word versadig; ja, hy maak homself warm en sê: Aha, ek is warm, ek het die vuur gesien. En die oorblyfsel daarvan maak hy 'n god, sy gesnede beeld; hy val daarop neer en aanbid dit en bid tot dit en sê: Verlos my! want U is my god. Hulle het nie geweet en verstaan nie, want Hy het hulle oë toegesluit, sodat hulle nie kan sien nie; en hulle harte, dat hulle nie kan verstaan nie. En niemand slaan in sy hart op nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê: Ek het 'n deel daarvan met vuur verbrand; ja, ook het ek brood op sy kole gebak; Ek het vleis gebraai en dit geëet, en sal ek die oorblyfsel daarvan 'n gruwel maak? sal ek op die stam van 'n boom val? Hy voed op as; 'n bedrieglike hart het hom afgewend, sodat hy sy siel nie kan red en nie kan sê: Is daar geen leuen in my regterhand nie?

JESAJA 44:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Maar luister nou mooi, my dienaar Jakob, Israel wat Ek gekies het. Dit is wat die HERE sê, Hy wat jou gemaak het, wat jou gevorm het in jou moeder se skoot, en jou steeds help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek gekies het. Want Ek sal jou water gee, genoeg om jou dors te les en jou droë lande nat te lei. Ek sal my Gees op jou kinders uitstort, en my seëninge op jou nageslag. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs strome water. Party sal trots sê: ‘Ek behoort aan die HERE.’ Ander sal sê: ‘Ek is ’n afstammeling van Jakob.’ Sommige sal die HERE se Naam op hulle hande skryf en die naam van Israel aanneem.” So sê die HERE, Israel se Koning en Verlosser, die HERE, die Almagtige: “Ek is die Eerste en die Laaste. Daar is geen ander God nie. Wie is daar wat kan vertel wat in die toekoms gaan gebeur? Laat hulle dit verklaar. Laat hulle verduidelik wat gebeur het vandat Ek my volk gevestig het. En laat hulle verduidelik wat nog gaan gebeur. Moenie bewe nie, moenie bang wees nie! Het Ek nie lankal gesê wat my doel met julle is nie? Julle is my getuies. Is daar enige ander God? Nee, daar is geen ander Rots nie. Ek weet van geeneen nie.” Mense wat beelde van hulle gode vervaardig, is niks! En die duur beelde wat hulle maak, is niks! Hulle is getuies dat dit so is, want hulle beelde sien niks en weet niks. Geen wonder mense wat gode aanbid, kom in die skande nie! Wie anders as ’n dwaas maak sy eie god, ’n afgod wat met net mooi niks kan help? Almal wat so ’n god vereer, kom in die skande. Die mense wat die gode maak, dink hulle maak ’n god. Hulle sal almal saam verleë staan en ontsteld en skaam wees. Die ystersmid vat gereedskap en werk daarmee in die kole. Hy vorm ’n beeld met hamers en smee ’n beeld met die krag van sy arm. Hy word honger en sy krag word minder. Hy drink nie water nie en word uitgeput. Die timmerman wat hout gebruik, meet met ’n maatlyn en merk die buitelyne van die beeld. Hy gebruik beitels en merk dit met passers. Hy vorm die beeld van ’n mens, ’n pragtige beeld, geskik om in ’n tempel te staan! Die ambagsman kap seders af. Hy kies ’n sipres of eik. Hy laat dit groei tussen die bome in die bos. Of hy plant ’n lourier, en die reën laat dit groei. ’n Deel van die hout gebruik hy om vuur te maak sodat hy warm kan word en sy brood kan bak. Met die ander deel maak hy – kan jy glo? – ’n god wat mense aanbid! Hy maak ’n beeld en buig daarvoor neer. Die helfte van die hout verbrand hy in die vuur. Hierop berei hy sy kos voor, en eet genoeg daarvan. Hy verwarm hom en sê: “Hoe lekker warm kry ek as ek na die vuur kyk!” Dit wat oorbly van die hout gebruik hy vir ’n afgodsbeeld. Hy buig voor dit en aanbid dit. Hy bid tot dit en sê: “Red my tog, want jy is my god!” Kan mense so onnosel wees! Hulle verstaan niks! Dis asof hulle oë en verstand toegepleister is sodat hulle niks kan sien of verstaan nie. Die mens wat die afgode gemaak het, gaan sit nie en dink ’n bietjie na nie: “Die helfte van die hout het ek verbrand. Op die kole het ek brood gebak, ek het vleis gebraai en geëet. Hoe kan die res daarvan ’n god wees? Moet ek dan voor ’n stuk hout neerbuig en dit aanbid?” So ’n persoon bou sy lewe op as. Hy laat hom verlei en kan homself nie red nie. En tog kom hy nie sover om te besef nie: “Wat ek in my hand vashou, is niks anders nie as ’n leuen!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid