“Bly stil en luister na My,
eilande en kusgebiede.
Laat die nasies hulle sterkste
argumente
kom stel.
Laat die hof die saak uitmaak.
“Wie het iemand uit die ooste
wakker gemaak?
Hy behaal heelpad
oorwinning.
Die HERE gee nasies aan hom oor
en onderwerp konings aan hom.
Hy maak hulle tot stof
met sy swaard.
Sy boog maak van hulle kaf
wat die wind wegwaai.
Ongehinderd agtervolg hy hulle,
al was hy nog nooit
voorheen op dié pad nie.
Wie het sulke magtige dinge gedoen
en die verloop van dinge
van die begin af bepaal?
Dit is Ek, die HERE, die Eerste.
Wanneer die laaste dinge
gebeur,
sal Ek, die HERE, nog daar wees.”
Die eilande kyk toe in vrees,
die aarde se eindes bewe.
Hulle kom nader vir die geveg.
Hulle praat mekaar moed in
en sê: “Wees sterk!”
Die werksmense maak gou
nuwe gode.
Die ambagsman jaag
die goudsmid aan,
en die een wat die metaal uitklop,
help hom
wat by die aambeeld werk.
“Die smeewerk is goed!”
sê hulle.
Dan slaan hulle die beeld
met spykers vas
sodat dit nie omval nie!
“Maar jy, Israel,
my dienaar,
jy is Jakob, wat Ek gekies het,
afstammeling
van Abraham, my vriend.
Jou het Ek teruggeroep
vanaf die uithoeke van die aarde.
Ek het gesê: ‘Jy is my dienaar,’
want Ek het jou gekies.
Ek het jou nooit verwerp nie!
Moenie bang wees nie,
want Ek is by jou.
Moenie ontsteld word nie,
want Ek is jou God.
Ek maak jou sterk
en wil jou help.
Ek laat jou oorwin
met my regterhand wat mense red.
“Almal wat vir jou kwaad is,
sal in die skande kom
en verleë wees.
Almal wat jou weerstaan,
sal vergaan.
Jy sal jou vyande soek,
maar hulle nêrens kry nie.
Almal wat teen jou oorlog maak,
sal soos niks wees!
Ek gryp jou regterhand vas.
Ek is die HERE jou God.
En Ek sê vir jou:
‘Moenie bang wees nie.
Ek is daar om jou te help!’
Moenie bang wees nie,
nietige wurmpie, Jakob!
Al is jy min, Israel,
sal Ek jou help, sê die HERE.
Ek is die Een wat jou red,
die Heilige van Israel.
Kyk, Ek maak jou
soos ’n nuwe dorsslee
met baie skerp tande.
Jy sal die berge fynmaal,
die heuwels tot kaf maak.
Jy sal hulle uitwan,
en ’n wind sal hulle wegwaai.
’n Stormwind sal hulle verstrooi.
Maar jy sal bly wees in die HERE
en roem in die Heilige van Israel.
“Die armes en behoeftiges
soek na water, maar kry niks.
Hulle tonge bars van dors.
Dan sal Ek, die HERE,
hulle verhoor.
Ek, die God van Israel,
sal hulle nie verlaat nie.
Ek sal riviere laat ontspring
op die hoë bergpieke.
Ek sal vir hulle fonteine gee
in die valleie.
Ek sal die woestyn
in ’n poel water verander.
Ek verander die droë, gebarste grond
in fonteine.
Ek sal bome plant in die woestyn –
seders, doringbome, mirte
en olyfbome.
Ek laat in die droë wêreld
sipresse groei,
ook platane en denne.
Almal sal hierdie wonderwerk
sien gebeur.
Hulle sal dan verstaan
dat die HERE dit gedoen het.
Die Heilige van Israel
het dit geskep.