HEBREËRS 7:5-10

HEBREËRS 7:5-10 NLV

Die priesters, wat uit die nageslag van Levi is, word in die wet beveel om ’n tiende van die volk Israel in te vorder, alhoewel hulle hulle eie bloedverwante is en ook van Abraham afstam. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het nietemin ’n tiende van Abraham ontvang en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. Dit kan tog nie ontken word nie dat dit altyd die meerdere is wat die mindere seën. In die geval van die Joodse priesterdom word tiendes aan sterflike mense betaal. Melgisedek is egter belangriker as hulle, want daar word van hom getuig dat hy voortlewe. Ons kan dus so ver gaan om te sê dat, deur Abraham, Levi ook eintlik tiendes aan Melgisedek gegee het. Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.