HEBREËRS 7:5-10
HEBREËRS 7:5-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om 'n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham 'n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word. In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe. 'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.
HEBREËRS 7:5-10 Bybel vir almal (ABA)
Die Wette van Moses sê dat die mense wat van die nageslag van Levi is, priesters mag wees, en hulle mag tiendes neem van die volk. Die volk is die Leviete se broers en die volk is die nageslag van Abraham, maar die Leviete kon tiendes neem van die volk. Maar Melgisedek was nie een van die Levi-priesters nie, en hy het 'n tiende van Abraham geneem. God het vir Abraham goeie dinge belowe, en Melgisedek het vir Abraham geseën. Almal weet dat 'n mens wat belangrik is, die minder belangrike mens seën. Die Levi-priesters ontvang tiendes en hulle is mense wat sal sterf. Maar Melgisedek ontvang ook tiendes, en die Ou Testament sê dat hy aangehou het om te lewe. 'n Mens kan miskien sê die nageslag van Levi wat tiendes ontvang, het ook vir Melgisedek tiendes gegee toe Abraham vir Melgisedek ontmoet het en vir hom 'n tiende gegee het. Want Levi was toe nog in sy voorvader Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.
HEBREËRS 7:5-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel 'n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën. Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën. En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe. En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.
HEBREËRS 7:5-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die nakomelinge van Levi wat die priesterskap ontvang, het 'n gebod dat hulle, volgens wet, tiendes moet ontvang van die volk, naamlik hulle broers, alhoewel dié afstammelinge van Abraham is. Maar Melgisedek, wat nie van hulle afstam nie, het tiendes van Abraham ontvang, en hierdie draer van die beloftes geseën. Sonder enige teenspraak, word die mindere tog deur die meerdere geseën. In die een geval ontvang sterflike mense tiendes, maar in die ander geval hy van wie getuig word dat hy leef. Mens kan selfs sê, ook Levi, wat tiendes ontvang, het deur Abraham tiendes gegee; want Levi was nog in die liggaam van sy voorvader toe Melgisedek Abraham tegemoetgegaan het.
HEBREËRS 7:5-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En waarlik, hulle wat uit die seuns van Levi is, wat die amp van die priesterskap ontvang, het 'n bevel om tiendes van die volk te neem volgens die wet, dit is, van hulle broers, al kom hulle uit die lendene van Abraham; Maar hy wie se afkoms nie van hulle gereken word nie, het tiendes van Abraham ontvang en hom geseën wat die beloftes gehad het. En sonder alle teenstrydigheid word die mindere van die beters geseën. En hier ontvang mense wat sterf tiendes; maar daar ontvang Hy hulle, van wie getuig is dat Hy lewe. En soos ek so kan sê, Levi, wat tiendes ontvang, het ook tiendes in Abraham betaal. Want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom ontmoet het.
HEBREËRS 7:5-10 Die Boodskap (DB)
Dit is wel so dat die wet sê dat net nakomelinge van Levi priesters mag word. Die volk moes aan hulle ’n tiende gee van wat hulle gehad het, al was die Leviete ook maar net deel van dieselfde volk as hulle. Maar Melgisedek was glad nie deel van die Leviete nie. Juis vir hom het Abraham ’n tiende gegee en hy het Abraham geseën, en onthou, God het Abraham alles beloof. Een ding is seker: die belangriker persoon seën die onbelangriker persoon. Boonop is die Leviete sterflik en kan hulle net die tiendes insamel tot hulle doodgaan, maar van Melgisedek word gesê dat hy nie dood is nie, maar leef. Ons kan dit ook so stel: Levi, wat van God se volk die tiendes insamel, moes self deur sy vader Abraham aan Melgisedek sy tiende betaal. Immers, toe Abraham vir Melgisedek ’n tiende gegee het, was Levi eintlik nog in die liggaam van Abraham, sy voorvader. Daarom kan ons sê dat hy dit eintlik self gedoen het.
HEBREËRS 7:5-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die priesters, wat uit die nageslag van Levi is, word in die wet beveel om ’n tiende van die volk Israel in te vorder, alhoewel hulle hulle eie bloedverwante is en ook van Abraham afstam. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het nietemin ’n tiende van Abraham ontvang en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. Dit kan tog nie ontken word nie dat dit altyd die meerdere is wat die mindere seën. In die geval van die Joodse priesterdom word tiendes aan sterflike mense betaal. Melgisedek is egter belangriker as hulle, want daar word van hom getuig dat hy voortlewe. Ons kan dus so ver gaan om te sê dat, deur Abraham, Levi ook eintlik tiendes aan Melgisedek gegee het. Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.