God het ook nie aan engele die beheer van die toekomstige wêreld waarvan ons praat, toevertrou nie. Inteendeel, iemand het êrens soos volg getuig: “Wat is die mens dat U aan hom sou dink, ’n mensekind dat U aan hom sou aandag gee? Vir ’n klein rukkie het U hom minder gemaak as die engele; U het hom met heerlikheid en eer gekroon. U het alles onder sy beheer geplaas.” Wanneer die Skrif sê “alles” is onder die mens se beheer geplaas, beteken dit werklik álles. Tog sien ons nou nog glad nie dat alles reeds onder die mens se beheer is nie. Maar ons sien wel vir Jésus. Vir “’n klein rukkie” is Hý “minder gemaak as die engele”, maar nou is Hy “met heerlikheid en eer gekroon” omdat Hy vir ons die doodslyding deurgemaak het. Ja, Hy het deur God se genade vir elke mens gesterf. God – wat alles gemaak het en op wie alles gerig is – wou baie mense deel laat kry aan die heerlikheid. Daarom was dit net gepas dat Hy hulle Voorganger – naamlik Jesus wat vir hulle die pad tot verlossing sou oopmaak – deur lyding volkome vir sy taak gereedmaak. Nou is dit so dat sowel Jesus – dié Een wat heilig maak – as almal wat deur Hom geheilig word, dieselfde Vader het. Dit is waarom Jesus nie huiwer om hulle sy broers en susters te noem nie. Want Hy sê vir God: “Ek sal u Naam bekendmaak aan my broers en susters. Ek sal in u gemeente u lof besing.” Hy sê ook: “Ek sal vas op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek saam met die kinders wat God My gegee het.” Omdat hierdie “kinders” mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel. Net op hierdie manier kon Hy dié vrymaak wat hulle lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het. Ons weet almal dat Jesus gekom het om die nakomelinge van Abraham te help – nie die engele nie. Daarom moes Hy ten volle soos ons – sy broers en susters – word om as ons ontfermende en betroubare Hoofpriester voor God priesterdiens te verrig en die sondes van God se volk te versoen. Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry.
Lees HEBREËRS 2
Luister na HEBREËRS 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: HEBREËRS 2:5-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's