HEBREËRS 2:5-18

HEBREËRS 2:5-18 Bybel vir almal (ABA)

God het nie gesê dat die engele moet regeer oor die nuwe wêreld wat kom nie, die wêreld waaroor ons praat. Maar iemand het in die Ou Testament 'n belangrike ding gesê en gevra: Hoekom dink U aan mense? Hoekom sorg U vir iemand wat net 'n mens is? U het die mens vir 'n kort tydjie minder belangrik gemaak as engele, maar U het vir die mens eer gegee en U het hom belangrik gemaak. U laat hom regeer oor alles wat U gemaak het. Toe God gesê het dat die mense kan regeer oor alles wat Hy gemaak het, het God niks gelos waaroor die mense nie kon regeer nie. Maar ons sien nog nie dat die mense oor alles regeer nie. Nee, ons sien vir Jesus, en God het Hom vir 'n kort tydjie minder belangrik gemaak as die engele. Maar Jesus het baie swaar gekry en Hy het gesterf, daarom het God vir Hom eer gegee en God het Hom belangrik gemaak. Jesus het gesterf sodat elke mens kan lewe omdat God baie goed is vir mense. God het alles gemaak, en alles is daar om Hom te eer, Hy wou baie mense na Hom, die Koning, bring. Daarom moes Hy vir Jesus baie swaar laat kry en Hy moes vir Jesus laat sterf. Jesus moes sy werk heeltemal klaar doen en Hy moes die Leier word wat mense red. Ja, Jesus wy mense om aan Hom te behoort, en die mense wat Hy wy, het almal dieselfde Vader. Daarom is Jesus nie skaam om hulle broer te wees nie. Want Jesus sê: Ek sal vir my vriende vertel wat U gedoen het, Ek sal U prys daar waar hulle bymekaar is. En Jesus sê ook: Ek sal aanhou om op Hom te vertrou, en Hier is Ek en die kinders wat God vir My gegee het. Hierdie kinders was regte mense, en daarom het Jesus ook 'n regte mens geword, soos hulle. Jesus was 'n mens sodat Hy kon sterf en so kon Hy die krag heeltemal wegvat van die een wat sterker is as die dood, dit is die duiwel. Jesus het 'n mens geword sodat Hy al die mense vry kon maak wat hulle hele lewe lank soos slawe was omdat hulle bang was om te sterf. Want dit is seker: Jesus is nie bekommerd oor die engele nie, Hy is bekommerd oor die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in alles word soos sy broers, sodat Hy goed kan wees vir hulle en 'n Hoëpriester kan wees wat sy werk goed doen. Sy werk is om te doen wat God wil hê en om die sondes van die volk te versoen. Jesus het self baie swaar gekry, en die duiwel het probeer om Hom te verlei, daarom kan Hy mense help wanneer die duiwel hulle ook wil verlei.

HEBREËRS 2:5-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie; maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir 'n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak. Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys; en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het. Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel — en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

HEBREËRS 2:5-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê: “Wat is 'n mens dat U aan hom dink, 'n mensekind dat U na hom omsien? U het hom 'n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon; U het alles aan hom onderwerp.” By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is 'n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe. God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.” Ook sê Hy: “Ek sal altyd op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.” Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

HEBREËRS 2:5-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Want Hy het die komende wêreld waarvan ons praat, nie aan engele onderwerp nie. Maar iewers het iemand dit uitdruklik bevestig en gesê: “Wat is die mens dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U na hom omsien? U het hom vir 'n kort rukkie minder as engele gemaak, en hom met heerlikheid en eer gekroon; U het alles onder sy voete gestel. ” Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir 'n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar. Dit was immers gepas dat Hy, vir en deur wie alles bestaan, ten einde baie kinders tot heerlikheid te lei, die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid sou bring. Want sowel Hy wat heilig maak as hulle wat heilig gemaak word, is almal uit Een. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie, wanneer Hy sê: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig, in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” En ook: “Ek sal my vertroue steeds in Hom stel.” En ook: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry. Want Hy is vir seker nie oor engele besorg nie; inteendeel, Hy is oor Abraham se nageslag besorg. Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word, te help.

HEBREËRS 2:5-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, nie onderwerp nie. Maar iemand het op 'n sekere plek getuig en gesê: Wat is die mens dat U aan hom dink? of die seun van die mens, dat U hom besoek? U het hom 'n bietjie minder gemaak as die engele; U het hom met heerlikheid en eer gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. U het alles aan sy voete onderwerp. Want deurdat hy alles aan hom onderwerp het, het hy niks nagelaat wat hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie alle dinge onder Hom geplaas nie. Maar ons sien Jesus, wat 'n bietjie minder as die engele gemaak is weens die lyding van die dood, met heerlikheid en eer gekroon; dat hy deur die genade van God vir elke mens die dood sou smaak. Want dit het Hom geword, vir wie alle dinge is en deur wie alle dinge is, deur baie seuns tot heerlikheid te bring, om die owerste van hulle verlossing deur lyding volmaak te maak. Want hy wat heilig sowel as die wat geheilig word, is almal uit een; daarom is hy nie skaam om hulle broers te noem nie, en gesê: Ek sal u naam aan my broers verkondig, te midde van die gemeente sal ek tot eer van u sing. En weer, ek sal my vertroue op hom stel. En verder: Kyk, ek en die kinders wat God my gegee het. Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het hy ook self daaraan deelgeneem; sodat Hy deur die dood hom kon vernietig wat mag oor die dood het, dit is die duiwel; En verlos hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank aan slawerny onderworpe was. Want waarlik, Hy het nie die natuur van engele aangeneem nie; maar hy het die nageslag van Abraham op hom geneem. Daarom moes Hy in alles aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge van God, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, is Hy in staat om dié te help wat versoek word.

HEBREËRS 2:5-18 Die Boodskap (DB)

Jesus wat ons red, gee vir ons ’n nuwe bestaan in ’n nuwe wêreld. Dit is waaroor ons praat. God het egter nie die hemelse wesens baas oor die nuwe wêreld gemaak nie. Iewers in die Skrif vra iemand vir God: “Wat is daar in ’n mens dat U hoegenaamd nog aandag gee aan hom? Is ’n mens die moeite werd dat U so vir hom sorg? En tog, U het die mens vir ’n rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gegee. U het egter vir die mens die eer gegee wat net konings het. U het alles vir hom gegee om oor te regeer.” As die Skrif sê dat God alles aan die mens gegee het om oor te regeer, beteken dit álles, sonder enige uitsondering. Soos dit op die oomblik lyk, regeer die mens nog nie oor alles nie. Daar is egter een uitsondering en dit is Jesus. Ons sien dat Hy vir ’n kort rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gehad het. Hy het selfs gely en is doodgemaak. Maar nou is dit anders. Juis omdat Hy so gely het, het God Hom ’n belangriker posisie as die hemelwesens gegee. In die oë van almal is Hy nou so belangrik soos ’n koning vir sy onderdane is. Dit was egter goed dat God Jesus vir ’n kort rukkie minder belangrik as die hemelse wesens gemaak het. So kon Hy as mens sy lewe in ons plek gee. God het alles gemaak en alles wat bestaan, bestaan net vir Hom. Hy wil ook hê dat baie mense hemel toe moet gaan. Daarom is daar niks mee verkeerd dat Hy Jesus laat ly het sodat daar geen twyfel kan bestaan dat Jesus absoluut volmaak is nie. Jesus is immers die Een wat mense moet red. Dit is Jesus wat sorg dat mense na God toe mag gaan, en die mense wat deur Jesus vir God aanvaarbaar gemaak word, behoort aan dieselfde gesin. Daarom is Jesus nie skaam om hulle sy broers en susters te noem en hulle so te behandel nie. Hy sê: “Ek sal my broers en susters alles vertel wat Ek van U weet. Waar almal saam is, sal Ek liedere sing wat vertel hoe groot en belangrik U werklik is.” Dit het Hy ook nog oor die familie gesê: “Ook Ek vertrou God altyd,” en: “Kyk, hier is Ek en al die kinders wat God My gegee het.” Hierdie kinders in die familie van God is almal mense en daarom is dit logies dat Jesus ook mens geword het. Op dié manier kon Hy ook doodgaan om so die duiwel op sy plek te sit. Dit is mos juis die duiwel wat mense doodmaak. So het Jesus die mense vrygemaak van die vrees wat hulle altyd nog vir die dood gehad het. Ons weet goed dat Hy nie al die moeite gedoen het om die hemelse wesens te kom help nie. Hy het dit gedoen om mense te kom help. Daarom was dit nodig dat Jesus in elke opsig ’n mens moes word, net soos ons, sy broers en susters. So kan Hy regtig namens mense die diens aan God bewys wat God verwag. Hy kan die hoëpriester wees wat simpatie met mense het en wat mense se belange op sy hart dra. So kan Hy daarvoor sorg dat mense se sondes vergewe word en nie teen hulle gehou sal word nie. Juis omdat Hy self ervaar het hoe dit voel om swaar te kry en nee te moet sê vir versoekings, kan Hy mense wat ook in sulke situasies beland baie goed help.

HEBREËRS 2:5-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

God het ook nie aan engele die beheer van die toekomstige wêreld waarvan ons praat, toevertrou nie. Inteendeel, iemand het êrens soos volg getuig: “Wat is die mens dat U aan hom sou dink, ’n mensekind dat U aan hom sou aandag gee? Vir ’n klein rukkie het U hom minder gemaak as die engele; U het hom met heerlikheid en eer gekroon. U het alles onder sy beheer geplaas.” Wanneer die Skrif sê “alles” is onder die mens se beheer geplaas, beteken dit werklik álles. Tog sien ons nou nog glad nie dat alles reeds onder die mens se beheer is nie. Maar ons sien wel vir Jésus. Vir “’n klein rukkie” is Hý “minder gemaak as die engele”, maar nou is Hy “met heerlikheid en eer gekroon” omdat Hy vir ons die doodslyding deurgemaak het. Ja, Hy het deur God se genade vir elke mens gesterf. God – wat alles gemaak het en op wie alles gerig is – wou baie mense deel laat kry aan die heerlikheid. Daarom was dit net gepas dat Hy hulle Voorganger – naamlik Jesus wat vir hulle die pad tot verlossing sou oopmaak – deur lyding volkome vir sy taak gereedmaak. Nou is dit so dat sowel Jesus – dié Een wat heilig maak – as almal wat deur Hom geheilig word, dieselfde Vader het. Dit is waarom Jesus nie huiwer om hulle sy broers en susters te noem nie. Want Hy sê vir God: “Ek sal u Naam bekendmaak aan my broers en susters. Ek sal in u gemeente u lof besing.” Hy sê ook: “Ek sal vas op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek saam met die kinders wat God My gegee het.” Omdat hierdie “kinders” mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel. Net op hierdie manier kon Hy dié vrymaak wat hulle lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het. Ons weet almal dat Jesus gekom het om die nakomelinge van Abraham te help – nie die engele nie. Daarom moes Hy ten volle soos ons – sy broers en susters – word om as ons ontfermende en betroubare Hoofpriester voor God priesterdiens te verrig en die sondes van God se volk te versoen. Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry.