Julle moet mekaar steeds met ware broederliefde liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang! Moenie hulle wat in die tronk is, vergeet nie. Ly saam met hulle asof julle self daar sit. Deel in die seer van hulle wat mishandel word asof julle dit aan julle eie liggaam voel. Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring. Hou julle lewe vry van die honger na geld. Laat wat julle het, vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.” Daarom kan ons moed skep en antwoord: “Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan ’n blote mens my aandoen?” Onthou julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God. Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd! Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. Dit is goed om deur God se genade versterk te word en nie deur die nakoming van kosvoorskrifte, wat in elk geval vir dié wat dit nagekom het, niks gebaat het nie. Ons het ’n altaar om van te eet; dis ’n altaar waarvan die priesters in die aardse verbondstent nie die reg het om te eet nie. Die hoofpriester bring die bloed van die offerdiere in die Allerheiligste in om as ’n offer vir die sonde te dien, maar hulle karkasse word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om sy volk met sy eie bloed aan God toe te wy. Kom ons gaan dan uit na Hom toe buitekant die laer en ons dra saam aan die smaad wat Hy moes verduur. Want ons het hier geen blywende stad nie; ons hunker na die komende stad van God. Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ’n voortdurende offer van lofprysing aan God – ’n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely. Moenie versuim om goed te doen en wat julle het met mense in nood te deel nie. Dit is hierdie soort offers wat God se hart bly maak. Luister na julle voorgangers en doen wat hulle aan julle opdra. Hulle taak is om te waak oor julle geestelike lewe, want hulle moet aan God verslag doen. Help hulle om dit met blydskap te kan doen en nie met ’n beswaarde gemoed nie. Dít sal sekerlik vir julle geen voordeel inhou nie. Bid vir ons. Ons glo dat ons gewete skoon is, want ons probeer om in alle omstandighede reg op te tree. Ek vra veral dringend dat julle sal bid dat God my binnekort aan julle sal terugbesorg.
Lees HEBREËRS 13
Luister na HEBREËRS 13
Deel
Vergelyk alle weergawes: HEBREËRS 13:1-19
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's