HEBREËRS 13:1-19
HEBREËRS 13:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word. Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?” Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie. Ons het 'n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is. Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie. Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.
HEBREËRS 13:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die broederliefde moet bly! Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang. Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, aan hulle wat mishandel word asof julle dit self aan julle liggaam beleef. Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”, sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my 'n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal 'n mens aan my doen?” Hou altyd julle leiers in gedagte, dié wat die woord van God aan julle verkondig het; gee ag op die uiteinde van hulle lewensloop, en neem hulle geloof as voorbeeld. Jesus •Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. Moenie meegevoer raak deur allerhande vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike wat dié wat daarvolgens lewe, niks baat nie. Ons het 'n offeraltaar waarvan dié wat in die •tabernakel diens verrig, nie mag eet nie. Want die karkasse van die diere waarvan die bloed ter wille van die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word, word buite die laer verbrand. Daarom het ook Jesus so buite die stadspoort gely, sodat Hy die volk deur sy eie bloed kon heilig. Laat ons dus uitgaan na Hom buite die laer, en sy smaad verduur. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons is op soek na die toekomstige stad. Laat ons dan deur Hom voortdurend 'n lofoffer aan God bring – dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely. En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers. Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers, want hulle waak oor julle siele, as diegene wat rekenskap sal moet gee – sodat hulle dit met vreugde kan doen, en nie al sugtend nie, want dit sal vir julle nie goed wees nie. Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons 'n goeie gewete het, omdat ons in alles daarna streef om eerbaar te leef. Veral pleit ek dat julle dit sal doen, sodat ek binnekort na julle teruggebring sal word.
HEBREËRS 13:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle moet mekaar steeds met ware broederliefde liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang! Moenie hulle wat in die tronk is, vergeet nie. Ly saam met hulle asof julle self daar sit. Deel in die seer van hulle wat mishandel word asof julle dit aan julle eie liggaam voel. Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring. Hou julle lewe vry van die honger na geld. Laat wat julle het, vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.” Daarom kan ons moed skep en antwoord: “Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan ’n blote mens my aandoen?” Onthou julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God. Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd! Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. Dit is goed om deur God se genade versterk te word en nie deur die nakoming van kosvoorskrifte, wat in elk geval vir dié wat dit nagekom het, niks gebaat het nie. Ons het ’n altaar om van te eet; dis ’n altaar waarvan die priesters in die aardse verbondstent nie die reg het om te eet nie. Die hoofpriester bring die bloed van die offerdiere in die Allerheiligste in om as ’n offer vir die sonde te dien, maar hulle karkasse word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om sy volk met sy eie bloed aan God toe te wy. Kom ons gaan dan uit na Hom toe buitekant die laer en ons dra saam aan die smaad wat Hy moes verduur. Want ons het hier geen blywende stad nie; ons hunker na die komende stad van God. Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ’n voortdurende offer van lofprysing aan God – ’n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely. Moenie versuim om goed te doen en wat julle het met mense in nood te deel nie. Dit is hierdie soort offers wat God se hart bly maak. Luister na julle voorgangers en doen wat hulle aan julle opdra. Hulle taak is om te waak oor julle geestelike lewe, want hulle moet aan God verslag doen. Help hulle om dit met blydskap te kan doen en nie met ’n beswaarde gemoed nie. Dít sal sekerlik vir julle geen voordeel inhou nie. Bid vir ons. Ons glo dat ons gewete skoon is, want ons probeer om in alle omstandighede reg op te tree. Ek vra veral dringend dat julle sal bid dat God my binnekort aan julle sal terugbesorg.
HEBREËRS 13:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Julle is gelowiges, julle moet aanhou om lief te wees vir mekaar. Julle moet aanhou om vriendelik te wees met vreemdelinge, want party mense wat dit gedoen het, was vriendelik met engele, maar hulle het nie geweet dat dit engele is nie. Julle moet aanhou dink aan die gevangenes, julle moet voel soos mense wat self ook gevangenes is. Julle moet ook dink aan die mense wat swaarkry, julle moet self voel soos mense wat 'n liggaam het en wat swaarkry. Almal moet die huwelik respekteer, en mans en vrouens wat getroud is, moet net aan mekaar behoort, want God sal mense oordeel wat onsedelik lewe en egbreuk pleeg. Julle moenie baie lief wees vir geld nie, julle moet tevrede wees met dit wat julle het. Want God het gesê: “ Ek sal jou nooit los nie, Ek sal nooit weggaan van jou nie.” Daarom moet ons nie moedeloos wees nie, ons moet sê: Die Here help my, en ek sal nie bang wees nie. Dan kan 'n mens niks sleg aan my doen nie. Julle moet aanhou dink aan julle leiers, hulle wat vir julle die boodskap van God gebring het. Julle moet aanhou om te dink aan die einde van hulle lewe, en julle moet in God glo soos julle leiers geglo het. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, Hy bly altyd dieselfde. Julle moenie dat mense vir julle baie nuwe dinge wil leer en vir julle verlei nie. Dit is goed wanneer die genade van God julle geloof sterk maak, want die mense sê vir julle wat julle moet eet en wat julle nie moet eet nie, maar daardie dinge kan nie julle geloof sterk maak nie. Die wette wat hierdie mense vir julle geleer het, het nie vir hulleself gehelp nie. Maar ons wat in Christus glo, het 'n altaar, en die priesters wat in die tempel-tent werk, mag nie eet van die offers op die altaar nie. Want die hoëpriester het die bloed van die diere wat hy ge-offer het, ingebring in die hoog-gewyde kamer, dit was 'n offer om te betaal vir die sonde. Maar iemand het die liggame van die offer-diere wat die hoëpriester ge-offer het, buite die kamp verbrand. Daarom het ook Jesus buite die stad se poort swaargekry en gesterf sodat Hy met sy eie bloed die volk kon wy, ja, Hy het dit gedoen toe Hy vir ons gesterf het. Daarom moet ons uitgaan na Jesus toe, Hy is buite die kamp. Ons moet gaan terwyl die mense ook vir ons beledig soos hulle vir Hom beledig het. Want hier op die aarde het ons nie 'n stad wat vir altyd daar sal wees nie, maar ons wil graag die stad hê wat later sal kom. Jesus help vir ons, en daarom moet ons aanhou om 'n offer vir God te bring, ons moet Hom prys sodat almal dit kan hoor. Julle moenie vergeet om baie goeie dinge te doen nie, julle moet graag van julle eie goed vir ander mense gee, want God is baie tevrede met daardie soort offers. Julle moet luister na julle leiers en julle moet doen wat hulle vir julle sê, want hulle hou aan om julle op te pas, hulle sal eendag vir God moet sê hoe dit met julle gaan. As julle luister na hulle, dan sal hulle bly kan wees terwyl hulle vir julle help, hulle sal dan nie kla en sug nie, want dit sal nie goed wees vir julle nie. Julle moet aanhou om vir ons te bid, want ons is seker dat ons goed weet wat is reg en wat is verkeerd, omdat ons heeltemal reg wil lewe. Daarom vra ek vir julle nog baie ernstiger om vir my te bid, sodat God vir my gouer kan terugstuur na julle toe.
HEBREËRS 13:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE broederliefde moet bly. Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg. Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook 'n liggaam het. Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen? Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie. Ons het 'n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word — hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige. Laat ons dan gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers. Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie. Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons 'n goeie gewete het, omdat ons in alles goed wil wandel. Des te meer vermaan ek julle om dit te doen, sodat ek gouer aan julle teruggegee kan word.
HEBREËRS 13:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat broederliefde voortduur. Moenie vergeet om vreemdelinge te onthaal nie, want daardeur het sommige engele onverhoeds onthaal. Dink aan die wat in boeie is, soos aan hulle gebonde; en die wat swaarkry, soos julle self ook in die liggaam. Die huwelik is in almal eerbaar, en die bed onbesmet; maar hoereerders en egbrekers sal God oordeel. Laat jou wandel sonder hebsug wees; en wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Sodat ons met vrymoedigheid kan sê: Die Here is my Helper, en ek sal nie vrees wat 'n mens aan my sal doen nie. Dink aan die wat oor julle heers, wat die woord van God tot julle gespreek het; wie se geloof volg, met inagneming van die einde van hulle wandel. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moenie rondgeslinger word deur uiteenlopende en vreemde leringe nie. Want dit is goed dat die hart met genade gevestig word; nie met voedsel nie, wat die wat daarin bewoon het, geen nut gehad het nie. Ons het 'n altaar waarvan hulle geen reg het om te eet wat die tabernakel bedien nie. Want die liggame van daardie diere waarvan die bloed deur die hoëpriester vir die sonde in die heiligdom ingebring is, word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die poort gely, om die volk deur sy eie bloed te heilig. Laat ons dan na hom uitgaan buitekant die laer en sy smaad dra. Want hier het ons geen blywende stad nie, maar ons soek een wat kom. Laat ons dan gedurigdeur deur Hom die lofoffer aan God bring, dit is die vrug van ons lippe wat sy Naam loof. Maar om goed te doen en te praat, moenie vergeet nie, want in sulke offers het God 'n welbehae. Gehoorsaam die wat oor julle heers, en onderdanig julle, want hulle waak oor julle siele, soos die wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit kan doen met blydskap en nie met droefheid nie, want dit is vir julle nutteloos. Bid vir ons, want ons vertrou dat ons 'n goeie gewete het, in alles gewillig om eerlik te lewe. Maar ek smeek julle om dit liewer te doen, sodat ek gouer aan julle teruggegee kan word.
HEBREËRS 13:1-19 Die Boodskap (DB)
Julle moet in liefde lojaal bly teenoor mekaar soos broers dit doen. Wees gasvry, want dit het al gebeur dat mense hemelse wesens vriendelik ontvang het sonder om eens agter te kom wat hulle regtig was. Moenie die mense wat in die tronk is, vergeet nie. Dit moet vir julle wees asof julle self in die tronk is. Net so moet julle meegevoel hê met die mense wat sleg behandel word en swaarkry, asof dit julle self is met wie dit gebeur. Mense wat getroud is, moet die huweliksband respekteer en mag nie rondslaap nie. God self sal afreken met mense wat rondslaap of seksueel verkeerde dinge doen. Wees tevrede met wat julle het en moenie heeltyd agter geld aanhardloop asof dit die belangrikste ding in julle lewe is nie. God het mos gesê: “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie. Buitendien, wat kan ’n mens aan my doen?” Moenie die geestelike leiers vergeet wat die boodskap van God aan julle vertel het nie. Kyk hoe hulle geleef het tot hulle dood is en vertrou dan op die Here net soos hulle op Hom vertrou het. Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos Hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees. Moenie luister na allerhande verkeerde dinge wat jou op ’n dwaalspoor kan bring nie. Jou geestelike lewe kry krag uit die onverdiende goedheid van God; nie uit al die spesiale kosse en eetgebruike nie. Hierdie gebruike help ’n mens eintlik niks nie. Ons het mos ’n nuwe altaar. Die priesters van die ou ooreenkoms het nie die voorreg om saam met ons rondom die nuwe altaar fees te vier nie. Volgens die ou ooreenkoms het die hoëpriester altyd die bloed in die Heiligste deel ingebring, terwyl die dooie diere buite die blyplek van die mense verbrand is. So is Jesus ook buite die stad dood, sodat Hy mense met sy bloed vir God aanvaarbaar kon maak. Laat ons dan na Jesus toe gaan daar buite die stad, al moet ons net so bespot en verag word soos Hy. Ons eintlike plek waar ons gaan bly, is mos nie op aarde nie, maar ons sien uit na die blyplek wat aan die kom is. Laat ons God daarom gedurig prys en mooi dinge oor Hom sê omdat Jesus dit vir ons moontlik maak. Dít moet mense doen wat openlik sê dat hulle aan God behoort. Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak. Luister wat julle geestelike leiers sê en doen wat hulle vra. Hulle moet julle geestelik oppas en moet vir God kan verduidelik hoe hulle dit gedoen het. Moenie dit vir hulle swaar maak nie, want dit sal julle niks in die sak bring nie. Luister liewer na hulle en maak dit vir hulle lekker om geestelike leiers te wees. Bid vir ons. Niks pla ons nie, want ons probeer ons bes om altyd die regte pad te loop. Vra God veral of Hy my nie weer gou na julle toe sal laat kom nie.