HEBREËRS 10:22-32

HEBREËRS 10:22-32 NLV

Kom ons gaan dan die heiligdom binne, ja tot voor God, met ’n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte deur besprinkeling gesuiwer is van ’n skuldige gewete en ons liggame gewas is met skoon water. Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het. Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom. As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie. Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer. Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak. Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het. Ons ken tog die Een wat gesê het: “Ék sal die straf voltrek, Ek sal die kwaad vergeld.” En verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val. Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens geskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het.