HEBREËRS 10:22-32

HEBREËRS 10:22-32 Bybel vir almal (ABA)

Daarom moet ons aanhou om na God toe te gaan, ons moet net vir Hom dien en ons moet baie seker wees dat die dinge wat ons glo, waar is. Ons het voorheen nie geweet wat is reg en wat is verkeerd nie, maar Jesus het ons rein gemaak soos wanneer die priesters die bloed van bokke en bulle gespat het op onrein mense, en daarna was hulle rein. Daarom is ons ook nou soos mense wat ons liggame met skoon water gewas het. Daarom moet ons aanhou om die dinge te glo en te sê wat ons hoop, ons moenie daaroor twyfel nie. Ons kan baie seker wees daarvan omdat God dit belowe het, en Hy sal doen wat Hy belowe het. Ons moet ook so vir mekaar sorg dat dit vir mense sal help om lief te wees vir ander mense en om goeie dinge vir hulle te doen. Ons moet hierdie dinge doen en ons moenie wegbly wanneer die gelowiges bymekaarkom nie, party mense bly baie maal weg. Nee, ons moet praat met mekaar en ons moet mekaar bemoedig. Julle kan sien dat die dag van die Here nader kom, daarom is dit baie belangriker dat ons hierdie dinge moet doen. Want as ons sonde doen en ons weet dat ons sonde doen, maar ons doen dit nadat ons geleer het en weet wat die waarheid is, dan sal 'n sonde-offer nie meer help om ons sondes te vergewe nie. Nee, dan moet ons bang wees omdat ons weet dat God ons sal oordeel, sy straf sal wees soos 'n baie warm vuur wat almal verbrand wat teen God is. Wanneer twee of drie getuies sê dat iemand ongehoorsaam was aan die Wette van Moses, dan moet daardie persoon sterf. As dit so is, wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die Seun van God nie belangrik is nie? Of wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die bloed onrein is, die bloed wat wys dat God 'n verbond met julle gemaak het? Dit is hierdie bloed, die bloed van die Seun, waarmee God die persoon gewy het wat so dink. En wat dink julle sal gebeur met iemand wat slegte dinge gesê het van die Heilige Gees wat goeie dinge vir ons gee? God sal so iemand baie swaarder straf as iemand wat nie geluister het na die Wette van Moses nie. Want ons weet wie hierdie woorde gesê het: Dit is Ék wat mense sal straf oor wat hulle verkeerd gedoen het. Hy het ook gesê: Die Here sal sy volk oordeel. Almal moet bang wees wanneer God oordeel, die God wat lewe. Maar julle moet onthou dat julle baie swaar gekry het in daardie tyd toe julle gelowiges geword het, maar julle het aangehou om in Christus te glo.

HEBREËRS 10:22-32 Die Boodskap (DB)

Juis daarom kan ons opreg in God se huis ingaan sonder om te twyfel oor dit waarop ons vertrou. Ons binneste is mos silwerskoon gemaak deur die bloed van Jesus, sodat niks ons meer pla nie, en ons liggaam is met skoon water gewas. God breek nooit sy woord nie; op Hom kan ons reken. Daarom kan ons sonder enige twyfel vashou aan die beloftes wat God aan ons gemaak het. Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees. Juis daarom moet ons gereeld bymekaarkom en nie sommer wegbly nie, al doen party van julle dit moedswillig. Laat ons mekaar se hande vat en mekaar daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie. As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie. Al wat vir so iemand oorbly, is om die verskriklike woorde van God te hoor: “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer. Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het. Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk verniet wou gee. Ons ken Hom wat gesê het: “Ek sal straf uitdeel soos dit moet, Ek sal mense terugbetaal vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Verder het Hy ook gesê: “Die Here is die Een wat sal besluit wat met sy volk gaan gebeur.” Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê. Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie.

HEBREËRS 10:22-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Kom ons gaan dan die heiligdom binne, ja tot voor God, met ’n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte deur besprinkeling gesuiwer is van ’n skuldige gewete en ons liggame gewas is met skoon water. Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het. Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom. As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie. Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer. Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak. Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het. Ons ken tog die Een wat gesê het: “Ék sal die straf voltrek, Ek sal die kwaad vergeld.” En verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val. Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens geskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het.

HEBREËRS 10:22-32

HEBREËRS 10:22-32 AFR83HEBREËRS 10:22-32 AFR83HEBREËRS 10:22-32 AFR83