GALASIËRS 4:21-27

GALASIËRS 4:21-27 NLV

Sê vir my, julle wat so graag aan die wet onderwerp wil wees: Hoor julle nie wat die wet sê nie? Daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by ’n vrou wat ’n slaaf was en een by ’n vrou wat vry was. Die seun van die slavin het sy geboorte te danke aan die mens se eie planne, en die seun van die vrou wat vry was, aan God se belofte. Hierdie dinge moet figuurlik verstaan word. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Hagar staan vir die verbond wat by Sinaiberg gesluit is. Dié verbond bring slawerny voort. Hagar, wat vir Sinaiberg in Arabië staan, is ook ’n beeld vir die huidige Jerusalem. Jerusalem en haar inwoners leef in slawerny. Maar die hemelse Jerusalem is vry en sý is ons moeder! Daar staan geskryf: “Wees baie bly, onvrugbare vrou, jy wat nie kinders kon hê nie! Jubel en juig, jy wat nooit ma kon word nie. Want die vrou wat deur haar man verlaat is, het meer kinders as die vrou wie se man by haar is.”