GALASIËRS 4:21-27
GALASIËRS 4:21-27 Bybel vir almal (ABA)
Julle wil so graag slawe wees van die Wette van Moses, maar julle luister nie goed wat die wette sê nie. In die Ou Testament is geskryf dat Abraham twee seuns gehad het. Die een seun se ma was die slavin Hagar, en die ander seun se ma was Sara, sy was nie 'n slavin nie. Die slavin Hagar se seun is gebore soos al die ander kinders. Maar die seun van Sara, die vrou wat nie 'n slavin was nie, is gebore omdat God dit belowe het. Die verhaal van hierdie twee vroue beteken meer. Hulle is soos twee verbonde. Die een vrou Hagar is soos die verbond wat die Here op Sinai-berg gemaak het. Hierdie verbond maak dat mense slawe van wette word. Ja, Hagar is soos Sinai-berg in Arabië, en soos Jerusalem wat hier op die aarde is, want hierdie Jerusalem en al sy mense is slawe van wette. Maar ons is die kinders van die Jerusalem wat in die hemel is, en daardie Jerusalem is nie 'n slaaf nie. In die Ou Testament is geskryf
GALASIËRS 4:21-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie? Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye. Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte. Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar — dit is Hagar; want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal. Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat 'n man het.
GALASIËRS 4:21-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle wat so graag aan die wet van Moses onderworpe wil wees, sê vir my: Hoor julle nie wat die wet sê nie? Daar staan tog geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin en een by 'n vrygeborene. Sy seun by die slavin is volgens die loop van die natuur verwek en gebore, maar sy seun by die vrygeborene kragtens 'n belofte van God. 'n Mens moet dit figuurlik verstaan. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Die een is by Sinaiberg gesluit en bring slawe voort. Dié verbond is Hagar. Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is 'n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder. Daar staan immers geskrywe
GALASIËRS 4:21-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sê vir my, julle wat onder die gesag van die wet wil staan, luister julle dan nie na die wet nie? Want daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin, en een by 'n vrou wat vry was. Die slavin se seun is op 'n natuurlike manier verwek, maar die vrou wat vry is se seun op grond van 'n belofte. Om dit allegories te stel: Hierdie twee vroue verteenwoordig twee verbonde: die een wat van die berg Sinai af kom, bring slawe voort; dit is Hagar. En Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië; sy verteenwoordig die huidige Jerusalem, omdat sy en haar kinders slawe is. Maar die Jerusalem daarbo is vry; sy is ons moeder! Want daar staan geskryf: “Wees bly, onvrugbare vrou wat nie geboorte skenk nie! Jubel en juig, jy wat nie geboortepyne ken nie! Want die baie kinders van die verlate vrou is meer as dié van die vrou met 'n man.”
GALASIËRS 4:21-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sê vir my, julle wat onder die wet wil wees, hoor julle nie die wet nie? Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, die een uit 'n slavin en die ander uit 'n vrye vrou. Maar hy wat uit die slavin was, is na die vlees gebore; maar hy van die vrye was by belofte. Watter dinge is 'n gelykenis, want dit is die twee verbonde; die een van die berg Sinai af, wat tot slawerny voortspruit, dit is Agar. Want hierdie Agar is die berg Sinai in Arabië en antwoord op Jerusalem wat nou is, en is in slawerny met haar kinders. Maar Jerusalem wat daarbo is, is vry, wat die moeder van ons almal is. Want daar is geskrywe: Wees bly, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die eensame het baie meer kinders as sy wat 'n man het.
GALASIËRS 4:21-27 Die Boodskap (DB)
Sê my, julle wat so graag die wet wil gehoorsaam, het julle al ’n slag mooi gekyk na wat daar regtig in die Bybel geskryf staan? Kom ons kyk weer na Abraham. Hy het twee seuns gehad. Die een het hy by ’n slavin, Hagar, gehad. Sy naam was Ismael. En die ander seun by sy eie vrou, Sara. Sy naam was Isak. Die kind wat hy by die slavin gehad het, is gebore toe Abraham probeer het om sélf God se beloftes waar te laat word. Maar die ander kind is gebore presies net soos God hom belowe het dit sou gebeur. Hierdie twee geboortes is ’n goeie voorbeeld van dit waaroor ons praat. Hulle staan eintlik vir twee verskillende ooreenkomste. Die een ooreenkoms is daar by die berg Sinai in Arabië gesluit. Daar het die volk die wet ontvang. Ongelukkig het daardie ooreenkoms net ’n klomp slawe opgelewer, presies soos dit ook met Hagar, Abraham se slavin, gebeur het. Wel, dieselfde geld vir almal wat die wet probeer hou. Kyk net na wat daar in Jerusalem aangaan, dan sal julle agterkom dat hulle almal eintlik Hagar se nageslag is. Hulle is slawe van die wet met al sy reëls en regulasies. Gelukkig is daar ’n ander Jerusalem wat nie in slawerny verval het nie. Hierdie Jerusalem, wat die resultaat is van God se tweede ooreenkoms met ons, is daar in die hemel. Dit is ons nuwe adres. Hierdie Jerusalem is soos ’n ma vir ons almal wat glo. Jesaja skryf die volgende oor haar: “Vrou, jy wat nie in staat was om kinders te hê nie, kan nou feesvier. Skree sommer van vreugde, jy wat nog nooit geboortepyne gehad het nie. Jy was baie eensaam. Jy het nie die vreugde van kinders geken nie. Maar nou sal jy meer kinders hê as al die ander vroue wat getroud is.”
GALASIËRS 4:21-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sê vir my, julle wat so graag aan die wet onderwerp wil wees: Hoor julle nie wat die wet sê nie? Daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by ’n vrou wat ’n slaaf was en een by ’n vrou wat vry was. Die seun van die slavin het sy geboorte te danke aan die mens se eie planne, en die seun van die vrou wat vry was, aan God se belofte. Hierdie dinge moet figuurlik verstaan word. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Hagar staan vir die verbond wat by Sinaiberg gesluit is. Dié verbond bring slawerny voort. Hagar, wat vir Sinaiberg in Arabië staan, is ook ’n beeld vir die huidige Jerusalem. Jerusalem en haar inwoners leef in slawerny. Maar die hemelse Jerusalem is vry en sý is ons moeder! Daar staan geskryf: “Wees baie bly, onvrugbare vrou, jy wat nie kinders kon hê nie! Jubel en juig, jy wat nooit ma kon word nie. Want die vrou wat deur haar man verlaat is, het meer kinders as die vrou wie se man by haar is.”