Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was. Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê. Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep. Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is – wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods – die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?” Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie, weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie! Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie! Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het. Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!
Lees GALASIËRS 2
Luister na GALASIËRS 2
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: GALASIËRS 2:11-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's