GALASIËRS 2:11-21

GALASIËRS 2:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was. Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê. Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep. Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is – wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods – die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?” Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie, weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie! Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie! Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het. Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!

GALASIËRS 2:11-21 Bybel vir almal (ABA)

Sefas het na die stad Antiogië gekom. Hy het daar iets gedoen waarvan God nie hou nie en ek het toe reguit vir hom gesê dat hy verkeerd doen. Voorheen het hy altyd saam geëet met die Christene wat nie Jode was nie. Maar later het daar party van Jakobus se mense in Antiogië aangekom. Toe het Sefas skielik opgehou om saam te eet met die Christene wat nie Jode was nie, want hy was bang vir die Joodse Christene. Toe het die ander Joodse Christene dit ook gedoen, hulle was net so skynheilig soos Sefas. Ook Barnabas het skynheilig geword. Ek het gesien hulle doen verkeerd, hulle verander die waarheid van die goeie boodskap. Daarom het ek vir Sefas gesê, en almal het dit gehoor: “Sefas, jy is 'n Jood, maar jy lewe soos die mense wat nie Jode is nie. Nou sê jy vir die mense wat nie Jode is nie, dat hulle soos Jode moet lewe. Jy mag dit nie doen nie. Ek en jy was Jode vandat ons gebore is, ons was nie heiden-sondaars nie. Ons weet dat God mense vryspreek van hulle sonde. Hy doen dit omdat hulle in Jesus Christus glo, nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Daarom het ek en jy ook in Christus Jesus geglo en God het ons vrygespreek. God het dit gedoen omdat ons in Christus glo, nie omdat ons doen wat die wette sê nie. In die Ou Testament is geskryf: “ God spreek mense vry, maar nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. “Ek en jy is Jode, ons wou hê dat God ons moet vryspreek van ons sonde omdat ons in Christus glo. Ja, ons het besef dat ons sondaars is, soos die heidene. Kan ons nou sê dit is Christus se skuld dat ons, die Jode, ook sondaars is? Nee, nooit nie.” Ek weet nou God spreek mense vry van hulle sonde omdat hulle in Christus glo. Ek kan nie nou 'n ander boodskap preek nie, want dan doen ek nie wat God wil hê nie. Christus het aan die kruis gesterf, en ek het saam met Hom gesterf. Daarom, die wette het my laat sterf, maar nou is ek los van die wette, en nou lewe ek om God te eer. Dit is nie ék wat lewe nie, dit is Chrístus wat in my lewe. Ek lewe nou só: Ek glo in die Seun van God, die Seun wat lief is vir my en wat gesterf het sodat ek kan lewe. Party mense sê God spreek mense vry omdat hulle doen wat die wette sê. Dit is nie waar nie. As dit waar is, dan help dit niks dat Christus gesterf het nie. Nee, ek kan nie die genade van God weggooi nie.

GALASIËRS 2:11-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Bárnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie. Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan 'n dienaar van die sonde? Nee, stellig nie! Want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan betoon ek myself 'n oortreder; want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe. Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.

GALASIËRS 2:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis. Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hulle huigelary laat meesleep. Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is 'n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie 'n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?” Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. En tog weet ons dat 'n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie. As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot 'n oortreder. Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. Ek verwerp nie die genade van God nie. As 'n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

GALASIËRS 2:11-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Sefas in Antiogië aangekom het, het ek hom egter openlik teengegaan, omdat hy veroordeeld gestaan het; want voordat sekere mense van Jakobus opgedaag het, het Sefas gewoonlik saam met die heidene geëet, maar toe hulle opdaag, het hy hom teruggetrek en afgesonder, omdat hy bang was vir diegene uit die besnydenis. En die ander Jode het ook saam met hom skynheilig opgetree, met die gevolg dat selfs Barnabas deur hulle skynheiligheid meegevoer is. Maar toe ek sien dat hulle nie die reguit pad loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek voor almal vir Sefas gesê: “As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden leef en nie soos 'n Jood nie, hoe kan jy nie-Jode dwing om soos Jode te leef?” Ons is gebore Jode, en nie sondaars uit die heidene nie; en tog weet ons dat 'n mens nie op grond van die uitvoering van die wet geregverdig kon word nie, maar slegs deur die geloof in Jesus •Christus. Ook ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons regverdig verklaar kon word op grond van geloof in Christus, en nie op grond van die uitvoering van die wet nie; omdat geen mens op grond van die uitvoering van die wet geregverdig sal word nie. Maar as ons, deurdat ons versoek om in Christus geregverdig te word, ook self as sondaars bevind word, maak dit Christus 'n dienaar van die sonde? Hoegenaamd nie! Want as ek dit wat ek afgebreek het weer opbou, betoon ek myself daarmee as 'n oortreder. Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die •Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. Ek verwerp nie die genade van God nie; want as •vryspraak deur die wet kom, dan het Christus tevergeefs gesterf.

GALASIËRS 2:11-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom tot in die aangesig teëgestaan, want hy moes die skuld kry. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, het hy saam met die heidene geëet; maar toe hulle gekom het, het hy hom teruggetrek en hom afgesonder, uit vrees vir die wat uit die besnydenis was. En die ander Jode het net so saam met hom saamgedrom; in so 'n mate dat Barnabas ook weggevoer is met hulle onmin. Maar toe ek sien dat hulle nie opreg wandel volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus voor hulle almal gesê: As jy, wat 'n Jood is, volgens die heidene leef en nie soos die Jode nie, waarom dwing jy die Heidene om te lewe soos die Jode? Ons wat van nature Jode is en nie sondaars van die heidene nie, Omdat ons weet dat 'n mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar uit die geloof in Jesus Christus, het ons ook in Jesus Christus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie. Want uit die werke van die wet sal geen vlees geregverdig word nie. Maar as ons, terwyl ons probeer om deur Christus geregverdig te word, ook self sondaars bevind is, is Christus dan die dienaar van die sonde? Die Here behoed. Want as ek die dinge wat ek vernietig het, weer opbou, maak ek myself 'n oortreder. Want ek is deur die wet dood vir die wet, om vir God te lewe. Ek is saam met Christus gekruisig; nogtans lewe ek; maar nie ek nie, maar Christus leef in my; en die lewe wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. Ek verbreek die genade van God nie, want as geregtigheid deur die wet kom, dan is Christus tevergeefs dood.

GALASIËRS 2:11-21 Die Boodskap (DB)

’n Ruk later, toe ek saam met Barnabas-hulle in die stad Antiogië gewerk het, het Petrus ook soontoe gekom. Daar moes ek hom voor almal aanspreek omdat hy verkeerd opgetree het. Kom ek vertel julle gou wat gebeur het. Toe Petrus daar in Antiogië was, het hy heeltyd saam met die nie-Joodse gelowiges geëet wat ook deel van die gemeente was, totdat ’n klompie Joodse gelowiges in die gemeente aangekom het. Hulle was aanhangers van Jakobus, een van die leiers van die kerk in Jerusalem. Hierdie manne het steeds die besnydenis voorgestaan. Toe hulle daar opdaag, het Petrus skielik opgehou om saam met nie-Joodse gelowiges te eet. Hy het dit gedoen omdat hy bang was oor wat hulle sou sê as hulle sien dat hy nie meer die Joodse reëls oor rein en onrein kos gehoorsaam nie. Ongelukkig het Petrus die ander Joodse gelowiges beïnvloed om net soos hy te maak. Die uiteinde: kort voor lank het al die Joodse gelowiges eenkant gesit en eet en al die ander gelowiges op hulle eie. Selfs Barnabas, saam met wie ek daar in die kerk in Antiogië gewerk het, is deur hierdie skynheiligheid meegevoer. Toe ek sien dat die gelowiges nie meer leef volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek ingegryp. Ek het Petrus daar voor almal vasgevat: “Jy wat ’n Jood is, leef lankal nie meer soos ’n Jood nie. Wie gee jou dan die reg om mense wat nie Jode is nie te dwing om nou skielik allerhande nuttelose Joodse gebruike na te kom?” Ons is Jode al van ons geboorte af en nie ’n klomp sondaars wat God glad nie ken nie. Tog is ons glad nie God se witbroodjies nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom deur sy wet te gehoorsaam nie. Dit help niks nie. God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het. Die wet van Moses kon dit nie regkry nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom bloot net deur die wet te probeer gehoorsaam nie. In ons pogings om Christus se vryspraak deelagtig te word, het ons ontdek dat ons sondaars is wat onsself glad nie kan red nie. Beteken dit dan dat Christus nou nog ’n slaaf van die sonde is omdat Hy in ons plek vir ons sondes gesterf het? Nee, natuurlik nie! Hy het mos kant en klaar die prys vir die sonde namens ons betaal. As ek dan nou nog, nadat Christus dood is en weer lewendig geword het, op my eie by God probeer uitkom, wys ek dat ek net mooi niks van die goeie nuus verstaan nie. Dan is ek steeds skuldig voor Hom. Maar gelukkig is ek nou dood vir die wet. Al het die wet my skuldig verklaar omdat ek dit oortree het, leef ek nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom daar vasgespyker. Daarom is ek nou ’n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my. Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer. Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood.

GALASIËRS 2:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was. Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê. Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep. Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is – wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods – die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?” Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie, weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie! Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie! Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het. Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!