EKSODUS 33:14-23

EKSODUS 33:14-23 NLV

Hy vra toe vir Moses: “Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?” Moses sê vir Hom: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ’n tree van hier af laat beweeg nie. As U nie saam met ons gaan nie, waaraan sal dit duidelik wees dat U vir my en u volk lief is? Hoe anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor die ander volke op aarde?” Die HERE het vir Moses geantwoord: “Goed, Ek sal doen wat jy gevra het. Jy dra my goedkeuring weg. Jy is my vriend.” Toe vra Moses: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?” Die HERE sê vir hom: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor wanneer Ek my Naam ‘die HERE’ uitroep. Ek gee genade aan dié wat Ek wil, en ontferming aan dié wat Ek wil.” Hy sê toe vir hom: “Jy durf nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly leef as hy sien hoe die HERE lyk nie.” Die HERE sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My. Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan. Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid