EKSODUS 33:14-23
EKSODUS 33:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!” Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”
EKSODUS 33:14-23 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het gevra: “Moet Ek self saamgaan en jou na die land bring?” Moses het vir Hom gesê: “As U nie self met ons saamgaan nie, dan moet U ons nie laat weggaan van hier nie. Hoe sal ons weet dat U tevrede is met ons, met my en met u volk, as U nie met ons saamgaan nie? Ek en u volk sal weet ons is anders as al die volke op die aarde as U self saam met ons gaan.” Die Here het vir Moses gesê: “Ook dít wat jy nou gevra het, sal Ek doen, want Ek is tevrede met jou en Ek ken jou.” Toe sê Moses: “Ek wil U asseblief sien wanneer U, die Koning, verskyn.” Maar die Here het gesê: “Dit sal blink as Ek voor jou verbygaan en Ek sal my Naam ‘die Here’ hard sê sodat jy dit hoor. Ek besluit self vir wie Ek genadig en goed wil wees. Maar jy mag nie my gesig sien nie, want as iemand My sien, dan sal hy sterf.” Die Here het ook gesê: “Hier is 'n plek by My waar jy op 'n rots kan staan. Wanneer die lig verbykom, die lig wat om My, die Koning, is wanneer Ek verskyn, dan sal Ek jou in 'n skeur in die rots sit en jou met my hand toemaak totdat Ek verby is. Dan sal Ek my hand wegneem, en jy sal my rug sien, maar nie my gesig nie. Niemand mag my gesig sien nie.”
EKSODUS 33:14-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is. Toe sê die HERE aan Moses: Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam. Daarop vra hy: Laat my tog u heerlikheid sien. Maar Hy antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep; maar Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie. Ook het die HERE gesê: Kyk, hier is 'n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan. En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.
EKSODUS 33:14-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee? ” Hy het vir die HERE gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie? ” Die HERE sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken. ” Moses sê toe: “Toon asseblief u heerlikheid aan my.” Maar Hy het geantwoord: “Ek sal al my goedheid reg voor jou laat verbygaan, en Ek self sal die Naam ‘die HERE’ uitroep. Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” Hy het verder gesê: “Jy kan nie my gesig sien nie, want 'n mens kan My nie sien en bly leef nie.” Toe sê die HERE: “Hier is 'n plek by My waar jy kan gereedstaan op die rots. Wanneer my heerlikheid dan verbygaan, sal Ek jou in die rotsskeur sit en Ek sal jou met die palm van my hand toehou, totdat Ek verby is. Dan sal Ek my handpalm wegneem, en jy sal My van agter sien. Maar my gesig mag nie gesien word nie. ”
EKSODUS 33:14-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy sê: My aangesig sal saam met jou gaan, en Ek sal jou rus gee. En hy sê vir hom: As U teenwoordigheid nie saam met my gaan nie, dra ons nie hiervandaan nie. Want waarin sal dit hier bekend word dat ek en U volk genade in U oë gevind het? is dit nie daarin dat jy saam met ons gaan nie? so sal ons geskei word, ek en U volk, van al die volke wat op die aarde is. En die HERE het vir Moses gesê: Ek sal ook hierdie ding doen wat jy gespreek het, want jy het genade in my oë gevind en Ek ken jou by die naam. En hy sê: Ek bid U, laat my U heerlikheid sien. En hy sê: Ek sal al my goedheid voor jou laat verbygaan en die Naam van die HERE voor jou uitroep; en sal genadig wees aan wie Ek genadig wil wees, en Ek sal barmhartig wees oor wie Ek My wil ontferm. En hy sê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want niemand sal My sien en lewe nie. Toe sê die HERE: Kyk, daar is 'n plek by My, en jy sal op 'n rots staan. En terwyl my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in 'n rotshang sit en jou met my hand bedek terwyl Ek verbygaan. En Ek sal my hand wegneem, en jy sal my rugdele sien, maar my aangesig sal nie gesien word nie.
EKSODUS 33:14-23 Die Boodskap (DB)
“Moet Ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?” vra die Here toe vir Moses. “Asseblief,” sê Moses vir die Here, “as U nie self saamgaan nie, moet U ons glad nie hiervandaan af laat weggaan nie. Waaraan anders sal ons weet of U vir ons omgee of nie? Ons sal dit net weet as U saam met ons gaan. Waaruit anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor al die ander volke op aarde?” “Goed,” het die Here vir hom gesê, “Ek sal dan maar saam met julle gaan, soos jy gevra het. Ek sal maak soos jy vra, want Ek ken jou baie goed.” Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?” Die Here sê toe vir hom: “Ek doen graag iets vir iemand as Ek dit self besluit. Ek bederf graag mense wat Ek ’n guns wil bewys. Ek sal jou wel iets van my grootheid laat sien. Ek sal dat jy my stem hoor wanneer Ek my Naam ‘Here’ voor jou sê. Jy mag egter nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly lewe as hy die Here se gesig moet sien nie. Kom, hier is ’n rots waarby jy kan staan. Wanneer Ek met my Goddelike grootheid hier verbygaan, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm totdat Ek verby is. Wanneer Ek verby is en my hand wegvat, sal jy My van agter af kan sien. Niemand mag My egter van voor af sien nie.”
EKSODUS 33:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy vra toe vir Moses: “Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?” Moses sê vir Hom: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ’n tree van hier af laat beweeg nie. As U nie saam met ons gaan nie, waaraan sal dit duidelik wees dat U vir my en u volk lief is? Hoe anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor die ander volke op aarde?” Die HERE het vir Moses geantwoord: “Goed, Ek sal doen wat jy gevra het. Jy dra my goedkeuring weg. Jy is my vriend.” Toe vra Moses: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?” Die HERE sê vir hom: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor wanneer Ek my Naam ‘die HERE’ uitroep. Ek gee genade aan dié wat Ek wil, en ontferming aan dié wat Ek wil.” Hy sê toe vir hom: “Jy durf nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly leef as hy sien hoe die HERE lyk nie.” Die HERE sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My. Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan. Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”