Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die HERE julle vandag red. Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie. Wag en kyk! Die HERE sal in julle plek veg.” Die HERE het toe vir Moses gesê: “Vir wat staan jy so benoud en roep na My? Sê die mense moet begin beweeg. Vat jou herderstok in jou hand en hou dit uit oor die water. Daar sal ’n pad deur die water kom waarlangs die Israeliete op droë grond kan trek. Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om agter die Israeliete aan te gaan. Ek sal beroemd word deur wat Ek met die farao, sy hele leër, sy waens en sy ruiters gaan maak. Wanneer Ek klaar is met die farao, sy oorlogwaens en sy ruiters, sal Egipte weet dat Ek die HERE is.” God se boodskapper wat die optog van Israel gelei het, het toe agter hulle gaan staan. Die wolkkolom wat voor hulle uit beweeg het, het ook agter hulle ingeskuif sodat dit gehang het tussen die plek waar die Israeliete kamp opgeslaan het en waar die Egiptiese kamp was. Dit was donker aan Egipte se kant, maar gedurende die nag was dit lig aan Israel se kant. Die twee groepe kon nie deur die nag nader aan mekaar kom nie. Moses het toe sy hand oor die see uitgesteek. Die HERE het die water teruggedryf met ’n sterk oostewind wat deur die nag gewaai het. Die water het oopgekloof en die seebodem het droog geword. Die Israeliete het op droë grond deur die see getrek met die water soos mure aan weerskante van hulle. Die Egiptenaars is toe agter hulle aan met al die farao se perde en sy oorlogwaens en hulle bemanning, reguit die see in. Vroegoggend het die HERE van bo uit die wolk van vuur en uit die stapelwolk op die leër van die Egiptenaars afgekyk. Hy het verwarring onder hulle laat ontstaan. Hy het die wiele van hulle oorlogwaens laat vasval sodat hulle nie kon beweeg nie. “Laat ons padgee van Israel!” het die Egiptenaars geskreeu. “Die HERE veg in Israel se plek teen ons.” Die HERE het toe vir Moses gesê: “Steek weer jou hand uit oor die see. Die water sal terugstroom oor die Egiptenaars, oor hulle oorlogwaens en hulle bemanning.” Terwyl die son besig was om op te kom het Moses sy hand oor die see uitgestrek. Die water het teruggestroom na sy ou plek toe. Die Egiptenaars het voor die water probeer vlug, maar die HERE het hulle in die golwe laat verdrink. Die water het oor die oorlogwaens gestroom en ook bo-oor die leër van die farao. Nie een van die Egiptenaars wat die Israeliete agternagesit het, het daardie dag weggekom nie. Israel het egter op droë grond deur die middel van die see getrek, terwyl die water soos mure alkante van hulle gestaan het. So het die HERE Israel daardie dag van Egipte bevry. Die Israeliete het gesien hoe die lyke van die Egiptenaars op die strand uitgespoel het. Toe die Israeliete sien met hoeveel mag die HERE teen Egipte veg, het hulle respek gekry vir die HERE. Hulle het in Hom geglo en was oortuig dat Hy Moses gebruik om vir Hom te werk.
Lees EKSODUS 14
Deel
Vergelyk alle weergawes: EKSODUS 14:13-31
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's