PREDIKER 10:12-20

PREDIKER 10:12-20 NLV

Dis lekker om te luister na wyse woorde. Dwase se gepraat lei egter net tot vernietiging. Dwase grond hulle gedagtes op dwaasheid. Daarom is hulle gevolgtrekkings louter onsin. Dwase praat sonder ophou, maar niemand weet wat sal gebeur nie, en niemand kan vir hom sê wat ná hom sal kom nie. ’n Dwaas se werk maak hom moeg. Hy weet nie eers hoe om by sy stad te kom nie. Rampe is die lot van die land waar ’n slaaf koning is en sy amptenare vroegdag begin feesvier. Gelukkig is die land wie se koning ’n edelman is en wie se amptenare op die regte tyd feesvier met selfbeheersing, en nie met dronkenskap nie. Luiheid laat balke insak; slap hande laat die dak lek. ’n Fees is daar om te lag. Wyn laat mense gelukkig voel, maar geld betaal vir alles. Moenie sleg praat van die koning nie, nie eens in jou gedagtes nie. En moenie ryk mense vloek nie, nie eens in jou slaapkamer nie. Die voëls kan oorvertel wat jy sê, hulle wat vlerke het, kan jou woorde oordra.