PREDIKER 10:12-20
PREDIKER 10:12-20 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer 'n wyse mens praat, dan is mense vriendelik met hom, maar wanneer 'n dwaas praat, dan laat hy dit sleg gaan met homself. Hy is dwaas wanneer hy begin praat, en wanneer hy klaar gepraat het, dan is hy nog méér dom. Maar 'n dwaas praat en praat. Niemand weet wat later sal gebeur nie. Wie kan vir hom sê wat later sal gebeur? Niemand. 'n Dwaas word baie moeg wanneer hy iets doen, en hy weet nie hoe hy weer in die stad kan kom nie. Dit sal sleg gaan met 'n land as sy koning 'n slaaf is en as sy amptenare vroeg in die dag begin feesvier. 'n Land is gelukkig as sy koning uit 'n belangrike familie kom en as sy amptenare op die regte tyd eet en drink om sterk te word, nie om dronk te word nie. As 'n persoon baie lui is, dan sal sy huis se dak inval, as hy niks wil doen nie, dan sal daar water lek deur sy huis se dak. Mense maak kos om lekker te eet, en wyn maak hulle vrolik, maar dit is geld wat hulle help om alles te kry wat hulle wil hê. Jy moenie die koning vervloek nie, jy moet nooit dink om dit te doen nie. Jy moenie 'n ryk mens vervloek nie, ook nie as jy alleen in jou slaapkamer is nie. Hoekom? Want 'n voëltjie kan gaan vertel wat jy gesê het, enige iets wat vlieg, kan dit vir hom gaan sê.
PREDIKER 10:12-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself. Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid, en die einde van sy mond is skadelike onverstandigheid. En die dwaas gebruik baie woorde; maar die mens weet nie wat daar sal gebeur nie; en wat ná hom sal wees, wie kan hom dit te kenne gee? Die inspanning van die dwaas vermoei hom, omdat hy nie eens weet om na die stad te gaan nie. Wee jou, o land, as jou koning 'n kind is, en as jou vorste in die môre vroeg maaltyd hou. Gelukkig is jy, o land, as jou koning 'n edele is, en as jou vorste op die regte tyd maaltyd hou soos manne en nie soos drinkers nie. Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis. Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles. Vloek die koning selfs in jou gedagte nie, en vloek in jou slaapkamer die ryke nie; want die voëls van die hemel sou die geluid kon wegvoer, en die gevleueldes die woord te kenne gee.
PREDIKER 10:12-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woorde van iemand wat wysheid het, vind byval; die dwaas vernietig homself met wat hy sê. Wat hy sê, begin met dwaasheid en eindig met louter onsin. Die dwaas praat aanmekaar, maar geen mens weet wat sal gebeur nie, en niemand kan vir hom sê wat ná hom sal kom nie. Die dwaas put homself uit met wat hy doen; hy weet nie eers hoe om by sy stad te kom nie. Ellende wag vir die land waarvan 'n slaaf koning is en waar amptenare vroeg in die dag begin feesvier. Dit gaan goed met die land waarvan die koning vir homself kan besluit en waar amptenare op die regte tyd feesvier, met selfbeheersing en nie met 'n drinkery nie. Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek. Eet bring plesier, wyn vrolik die lewe op, maar alles kos geld. Moenie die koning verwens nie, nie eens in jou gedagte nie, moenie die ryke verwens nie, nie eens in jou slaapkamer nie; die voëltjies kan oorvertel wat jy gesê het, hulle kan jou woorde oordra.
PREDIKER 10:12-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Woorde uit die mond van 'n wyse bring guns, maar die lippe van 'n dwaas oorweldig hom. Die begin van die woorde uit sy mond is dwaasheid, en die einde van sy gepraat is rampspoedige domheid. En die dwaas het soveel te sê! Die mens weet nie wat sal gebeur nie; wat ná hom gaan gebeur – wie kan hom daaroor inlig? Die inspanning van 'n dwaas maak hom moeg, hy wat nie weet hoe om die stad te bereik nie. Wee jou, land, as jou koning nog 'n kind is, en jou hoë amptenare soggens feesvier. Gelukkig is jy, land, as jou koning van edeles afstam, en jou hoë amptenare op die regte tyd feesvier, met selfbeheersing en nie met 'n gedrink nie. Opperste luiheid laat die dakbalke uitsak, en slap hande laat die huis lek. Feeste word gehou vir plesier en wyn vrolik die lewe op – geld maak dit alles moontlik. Selfs in jou gedagte moet jy die koning nie vervloek nie, en selfs in jou slaapkamer moet jy 'n ryke nie vervloek nie. Want die voëls van die hemel kan die geluid wegdra, 'n gevleuelde kan dalk 'n woord oordra.
PREDIKER 10:12-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woorde van 'n wyse man se mond is genadig; maar die lippe van 'n dwaas sal homself insluk. Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid, en die einde van sy praat is onheilspellende waansin. Ook 'n dwaas is vol woorde; 'n mens kan nie sê wat sal wees nie; en wat sal ná hom gebeur, wie kan hom dit vertel? Die moeite van die dwase maak elkeen van hulle moeg, omdat hy nie weet hoe om na die stad te gaan nie. Wee jou, o land, as jou koning 'n kind is, en jou vorste in die môre eet! Geseënd is jy, o land, as jou koning die seun van edeles is, en jou vorste eet op die regte tyd, tot krag en nie vir dronkenskap nie! Deur baie traagheid vergaan die gebou; en deur ledigheid van die hande val die huis deur. 'n Fees word gemaak om te lag, en wyn maak vrolik, maar geld antwoord alles. Vloek die koning nie, nee nie in jou gedagtes nie; en vervloek die rykes nie in jou slaapkamer nie, want 'n voël van die hemel sal die stem uitdra, en die wat vlerke het, sal dit vertel.
PREDIKER 10:12-20 Die Boodskap (DB)
’n Wyse se woorde is aangenaam om na te luister. ’n Dwaas vernietig homself deur sy woorde. As ’n dwaas begin praat, hoor jy sommer die domheid. Hoe meer hy praat, hoe waansinniger word dit. ’n Dwaas praat aanmekaar, maar niemand weet wat môre of na die dood gaan gebeur nie. Daarom is dit beter om stil te bly. Die dwaas maak hom so moeg met sy gepraat dat hy nie eens die pad huis toe kan kry nie. Dit gaan sleg met die land wie se regeerder ’n kind is en wie se raadgewers vroegdag al begin partytjie hou. Gelukkig is die land wie se koning die regte dinge doen en wie se leiers op die regte tyd met die fees begin en dit met waardigheid en sonder dronkgelag kan vier. Luiheid veroorsaak dat die dak begin insak en dat dit aanmekaar lek. ’n Fees maak jou gelukkig en wyn beur jou op, maar albei kos geld. Moenie die koning selfs eens in jou gedagtes kritiseer nie. En moenie die magtiges eens in jou slaapkamer slegsê nie, want die voëltjies kan dit dalk hoor en jou woorde aan hulle gaan oorvertel.
PREDIKER 10:12-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dis lekker om te luister na wyse woorde. Dwase se gepraat lei egter net tot vernietiging. Dwase grond hulle gedagtes op dwaasheid. Daarom is hulle gevolgtrekkings louter onsin. Dwase praat sonder ophou, maar niemand weet wat sal gebeur nie, en niemand kan vir hom sê wat ná hom sal kom nie. ’n Dwaas se werk maak hom moeg. Hy weet nie eers hoe om by sy stad te kom nie. Rampe is die lot van die land waar ’n slaaf koning is en sy amptenare vroegdag begin feesvier. Gelukkig is die land wie se koning ’n edelman is en wie se amptenare op die regte tyd feesvier met selfbeheersing, en nie met dronkenskap nie. Luiheid laat balke insak; slap hande laat die dak lek. ’n Fees is daar om te lag. Wyn laat mense gelukkig voel, maar geld betaal vir alles. Moenie sleg praat van die koning nie, nie eens in jou gedagtes nie. En moenie ryk mense vloek nie, nie eens in jou slaapkamer nie. Die voëls kan oorvertel wat jy sê, hulle wat vlerke het, kan jou woorde oordra.