DEUTERONOMIUM 24:17-22

DEUTERONOMIUM 24:17-22 NLV

“Sorg dat daar geregtigheid geskied aan die vreemdelinge wat tussen julle woon en ook aan weeskinders. Jy mag nooit ’n weduwee se kleed as pand aanvaar nie. Onthou altyd dat julle slawe in Egipte was en dat die HERE julle God julle van daar vrygekoop het. Dit is waarom ek hierdie gebod aan julle gee. “Wanneer jy jou oes inbring en jy vergeet ’n gerf op die land, moenie omdraai en dit gaan haal nie. Laat dit daar vir die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Dan sal die HERE jou God jou seën in alles wat jy doen. Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfbome, moenie dit vir ’n tweede keer doen nie. Laat daar olywe oorbly vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees. Dit is ook van toepassing op die druiwe in die wingerd. Moenie weer gaan druiwe afoes nadat hulle die eerste keer gepluk is nie. Laat daar van die druiwe vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees oorbly. Hou in gedagte dat julle slawe in Egipte was. Dit is waarom ek jou hierdie gebod gee.”